Om ’n meisie ’n uitsig te gaan wys beteken iets. Ek’s net nie seker presies wat nie.

Enige nuwe besoeker aan ons plaas sal een of ander tyd die uitsig gewys word van die berg agter die opstal af: Daar strek die grensdrade; doer bo tussen die klipstapels, wit van die dassiepiepie, is ’n goeie plek vir ribbokjag; kyk hoe kerf die rivier die kloof dieper hier onder.

Selfs wanneer die stuk grond voor jou nie joune is nie, kan jy tog maak of dit is. Jy en die burgemeester kan tog al twee ewe hard in die strate loop en fluit. Of jy kan met jou voete in die kanaal gaan sit wanneer die waterfiskaal nie kyk nie.

Die meeste dorpe het ’n uitkykpunt net buite die dorp waarvandaan jy die hele dorp kan sien.

Williston het die Singkoppe waarteen jy kan uitstap, by Lady Grey kan jy teen Joubertspas uitry om die hele vallei te sien, en Uniondale het die ou Engelse fort waar jy kan gaan sit en kyk hoe die dag kleiner raak.

Bloemfontein het Naval Hill, ’n plek wat selfs die ontslape reisskrywer T.V. Bulpin lank terug beskryf het as: “ ’n Aangename plek vir paartjies, veral in die maanlig”.

Elders kan jy teen ’n windpomp opklim, jou bene oor ’n damwal laat hang of sommer bo-op jou kar se dak sit (eerder op ’n Landie as op ’n Uno, asseblief). Dit gaan oor nabetragting, iets in oënskou neem, en tob. Soos Job. Die uitkykpunt is

Duidelik, as ’n mens mooi tussen die lyne lees, is sulke plekke dan ook kafoefelplekke.

Selfs die dorpe op die vlaktes van die land het gewoonlik ’n effense hoogtetjie waarvandaan dinge gadegeslaan kan word. Op Potchefstroom is daar Die Bult, wat, hoewel dié buurt platter as Ryk Neethling se maag is, steeds ’n goeie plek is om bier in hand die studentelewe te sien verbydruis.

Elders kan jy teen ’n windpomp opklim, jou bene oor ’n damwal laat hang of sommer bo-op jou kar se dak sit (eerder op ’n Landie as op ’n Uno, asseblief). Dit gaan oor nabetragting, iets in oënskou neem, en tob. Soos Job. Die uitkykpunt is

jou ashoop, maar nie noodwendig so ’n desperate plek nie.

Cradock het ’n klassieke dorpsuitkykpunt: Oukop. Daarvandaan sien jy die straatblokke soos bokse wat van ’n haastige Spar-trok afgeval  het, die plotte langs die Visrivier, kerktorings, die treinstasie, sportvelde en die buurte Michausdal en

Lingelihle wat die N10 na die suide uitbegelei Kookhuis toe.

Ek het al ’n paar keer vriende van elders hierheen gebring om hulle iets konkreets uit my kinderdae te probeer wys. Die uitkykpunt is Google Earth, maar mét emosie.

Aan die een kant van Oukop lê die tronk wat in die jare tagtig gebou is. Aan die ander kant is die klipgroef – ek onthou nog goed hoe ons in pouses soms die dinamietontploffings kon hoor.

Op die B-veld (of was dit die Cveld?) hier voor, agter die paviljoen van die dorpsklub, Rovers, se sportterrein, het ek my eerste rugbywedstryd gespeel. Dit was vir die o.11Bspan, kort nadat ek op Somerset-Oos begin skoolgaan het en dus teen my ou tuisdorp gespeel het.

Dit was ’n ysige wintersoggend, die ryp nog hard onder jou kaal voete.

Ek was losskakel. Om duistere redes het ek ’n gaping geslaan en oor die doellyn gehardloop. Ongelukkig, op my triomfantelike pad pale toe, hardloop ek toe oor die doodlyn.

My rugbyloopbaan was kort.

’n Kwalifikasie... en meer

My universiteitsjare het ek in Grahamstad deurgebring. Buiten ’n redelik nuttelose kwalifikasie in antropologie 1, het ek ook, omtrent in my tweede jaar, meisies ontdek.

Dié dorp het ook ’n puik uitkykpunt: Mountain Drive. Op ’n mooi dag kan jy die berge agter Adelaide en Fort Beaufort – die Winterberge – na die noorde sien; ooswaarts kyk jy verby Fraser’s Camp Peddie toe; en suidwaarts oor Southwell en Bathurst na Port Alfred. Dorpsmense bring hulle honde hierheen vir ’n stappie ná werk en studente kom drink en rook aaptwak hier.

Ek was nog nooit die grootste vryer nie. Ek weet net nie aldag hoe om die hele ding te benader nie.

Hoe vlei ’n mens ’n vrou? Jy gee haar seker ’n kompliment oor haar klere of hare.

Verlede jaar, nadat ek teruggekom het van Uganda af, het ek op ’n partytjie vir ’n paar meisies die gorillamis onder my skoene gewys.

Almal het die pad gevat, behalwe my beste vriend se suster, ’n dierkundige van ’n aard. Ons twee het toe maar die res van die aand oor die voortplantingsgewoontes van vlermuise gesels.

Nietemin onthou ek lekker uitstappies Mountain Drive toe met die skoner geslag. Een aand, ná ’n deurnagdanspartytjie, het ek met ’n Kewer vol meisies hierheen gery vir sonsopkoms. Vandag is hulle wyd verspreid oor die wêreld: Een is

getroud en bly in Amerika, een is in Engeland, nog een is getroud in Port Elizabeth, en die vierde roos, wel, wie weet? Maar soos ek hier sit, kan ek haar vrolike lag in my ore hoor.

Die jaar toe ons ons band gestig het, het ek en my beste vriend (einste sy suster vir wie ek my gorillamis gewys het) Mountain Drive toe gery om ’n paar band-foto’s te neem. Op die foto’s dra ons grys oorpakke en baarde en ons hurk in die gruispad.

Kort daarna het ons by Oppikoppi gespeel en het daai foto ver draaie geloop – ons was famous vir tien minute en heel tevrede daarmee.

Mountain Drive was ook ’n plek waar jy vir spertye vir belangrike essays kon kom wegkruip, of sommer net seker maak daar is wel ’n wêreld wyer as die dorp se eng horisonne.

Van hier bo af kon jy die res van die land sien, wagtend op jou om jou graad te vang, jou gat in rat te kry en te kom deel word daarvan.

Die wete daarvan sou jou batterye herlaai en dan was jy weer gereed vir die volgende rondte onder in die dorp.

In ’n ander se agterplaas

Anderdag het dinge anders verloop.

Iemand het my ’n uitsig gaan wys.

’n Meisie. ’n Vrou.

Sy was ’n paar jaar oorsee en ons het mekaar lanklaas gesien (juis in Grahamstad ontmoet), lank genoeg sodat nie een van ons mooi kon onthou nie. Ek het haar by haar ouerhuis in Bantrybaai gaan oplaai (einste Kewer – genade tog, wanneer sal ek ’n kar met lugsakke koop?) en toe ry ons teen Leeukop se steil agterwang uit.

Uiteindelik het die nou paadjie doodgeloop en daar het ons geparkeer.

Sy het ’n bottel koue witwyn ingepak, plus druiwe, soutbeskuitjies en een of ander kaas met ’n vreemde naam. Dit was

ligjare verwyder van destyds se warm bottel Tas wat ek as student gewoonlik op Mountain Drive agter die sitplek sou uitgrawe.

Ons het op ’n groot, ronde rots gaan sit. Voor ons, onder ons voete uit, het die berg steil afgetuimel Clifton en Kampsbaai toe. Die see was glad, die wind stil en in die verte het skeepsliggies die enkele groot sterre bo ons probeer naboots.

Dit was ook volmaan, en dit het nou agter ons opgekom sodat ons skadu’s weldra oor ons tone begin stoot het, fynbos toe. Links van ons het stappers se dansende flitse en kopligte soos dronk vuurvliegies teen Leeukop begin afdaal, klaar na die maansopkoms gekyk.

Van die koppie agter Bethulie af sien ’n mens nie net die hele dorp nie, maar ook die Gariepdam en die Hennie Steyn-brug se pragtige boë verder links. Van ons donker uitkykpunt teen Leeukop af was die buurte onder ons nie veel anders as Bethulie nie.

Die huise onder ons het ook gegons met argumente oor Jake White en Luke Watson, Helen Zille, wie ook al. Hulle het ook gelag oor dieselfde dinge en pret gehad wanneer die tyd reg was. Gebraai. Laan gekyk. Nes op Bethulie.

Maar dis twak. Elke tuisdorp het sy sjarme.

Maar, hoewel die pad seelangs Llandudno toe ook mooi is, weet ek nie of jy ’n eland daar in die vlak branders sal sien staan nie – dit sal jy net van die Hennie Steyn-brug af kan sien.

Ons sien dikwels nie die mooi van ons eie tuisdorp raak nie. Woon jy op Bethulie, dink jy dalk Jeffreysbaai is die paradys. As jy in Kaapstad woon, droom jy dalk van Rio de Janeiro eerder as om eenvoudig in die kabelkar te klim of enige van die vele pragtige staproetes aan te durf. Elders lyk en klink altyd beter, mooier en glansryker.

Maar dis twak. Elke tuisdorp het sy sjarme. Ek ken mense wat nostalgies raak oor Germiston, nie omdat die plek die Tuin van Eden is nie, maar omdat hulle herinneringe van hulle kleintyd daar afspeel – daar is vriendskappe gevorm en lesse geleer, nerwe verloor en vrugte gesteel.

Met ons bottel wyn leeg en die snaakse kaas kafgedraf, het ons weer bult-af gerol. Ons het gestry oor watter straat High Level Road is. Sy was reg, ek verkeerd. Dis tog háár agterplaas dié, nie myne nie.

Dalk is dit waaroor dit gaan: Dis ’n vinnige blaai deur ’n ander se boek, net genoeg om jou daardie persoon beter te laat verstaan en meer te waardeer.

’n Paar maande later was sy op die plaas en kon ek haar ook daardie uitsig oor ons plaas gaan wys. Dit was donker toe ons oor die Wapadsbergpas gery het, maar daar sal ’n ligdagrit ook kom, eendag.

Dan’s daar nog Nonesisnek om te gaan wys en die Katbergpas en...en... wat het ou T.V. Bulpin nou weer van Naval Hill gesê?


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #33 (Julie 2007) verskyn.