Ek en Oupa het ’n tyd gelede vir ons elkeen ’n forel op sy Cressida se enjin gaargemaak.

Ons is die Sondagoggend net ná kerk uit Pretoria weg, ek en hy. Oupa is mos nou in die ouetehuis, Huis Lammie Hendriks.

Ná Ouma se dood vroeg in Maart het hy die huis in Twaalfde Laan verkoop en soontoe getrek.

Ek dink hy mis Ouma meer as wat ons besef.

Ons was skaars uit die stad – ek het die Cressida bestuur – toe hy vra of ek onthou hoe lief Ouma vir die koekpoeding was wat hy altyd sommer so in die ry op die kar se enjin vir haar gemaak het.

Natuurlik onthou ek dit.

Van my vroegste herinneringe – ek was so vyf, ses jaar oud – is hoe ons stilhou-stilhou êrens heen ry, ek en Oupa en Ouma, met Oupa wat vir ons die een of ander gereg op sy motor se enjin gaarmaak.

Oor die jare is die Ranger, die Holden en die Ford F100-bakkie almal ingespan op pad met vakansie: skaapnek, koekpoeding, vis, wors, boeliebief en hoender is so in die ry gaargemaak.

Ouma het uiteraard altyd raad gegee. “Nee herder, Bok, daai skaapnek sal nooit gaar word as jy hom dáár neersit nie. Druk hom eerder doer onder die air cleaner in,” hoor ek haar nou nog vir Oupa sê.

Ouma was altyd bekommerd die kos sou rou bly.

En tog, ’n Ranger of ’n Holden se enjin kon enige tyd net so warm word soos Ouma se Aga-stoof.

Op daardie ou motors se enjins kon ’n mens nog ordentlik kook. Daar was meer as genoeg ruimte op die top rondom die lugfilter om jou geregte te pak sodat die hitte hulle sake kan werk, anders as deesdae se modelle waarvan die enjin so half verseël is met allerhande plastiekgoed.

Dis juis waarom ons dié Sondag met Oupa se Cressida moes ry. Op my Polo se enjin kan jy nie eens ’n broodrolletjie behoorlik warm maak nie. Die Cressida – veral die sessilinder-model, die GLX – het darem nog ’n redelike kookvlak.

Ons het die R101 gevat, die ou hoofpad Noorde toe, verby Hammanskraal, verby Pienaarsrivier, met die forelle, toegedraai in foelie, knus teen die enjin naby die lugfilter ingedruk, en Steve Hofmeyr wat sy liedjie “Pampoen” oor die radio sing.

As ek so 100 km/h ry, werk ek uit, behoort die visse gaar te wees as ons by Klein-Kariba anderkant Bela-Bela aankom. Daar is die lekkerste piekniekplek waar ons in vrede kan sit en eet.

En geduld is mos iets wat Oupa nie het nie. Ons was skaars uit die stad, toe vra hy: “Het ons ganog hitte, ou seuna?”

KARKOOK IS NIE ’n presiese wetenskap nie. Op ’n koue dag sal jou forel of wat jy ook al maak, langer neem om gaar te word as op ’n warm dag. Dit spreek vanself.

Jy gaan ook nie ’n skaapnek sommer binne 50 km gaar kry nie, al ry jy met ’n opgezoepte Nissan Skyline teen ’n gemiddelde kookspoed van 180 km/h.

Geduld. Dít is die wagwoord as dit by karkook kom.

En geduld is mos iets wat Oupa nie het nie. Ons was skaars uit die stad, toe vra hy: “Het ons ganog hitte, ou seuna?”

“Oorgenoeg, Oupa,” stel ek hom gerus.

“Oorgenoeg.”

“Is jy seker? Moet ons nie maar stilhou en kyk nie?”

“Ontspan net, Oupa. Ontspan.” Ek het oorgeleun en een van die ou man se Jim Reeves-kassette in die speler gedruk: Jim Reeves’ Greatest Love Songs Vol. II. Hy en Ouma het altyd so graag na ou Jim geluister, ook op die pad.

Oupa het teruggesak in die sitplek.

Sy knopperige hande het hy hier voor hom op sy bobene laat rus terwyl Jim sing: “I can’t stop loving you. I’ve made up my mind. To live in memory of the lonesome times...”

Daardie geel vlakte anderkant Pienaarsrivier pas nogal by ou Jim se stem.

Maar skaars 15 km verder, by Radium, toe wil Oupa weer weet: “Dink jy nie ons het die vis te styf in die foil toegedraai nie, ou seuna?”

“Ek glo nie, Oupa.”

“Jong, ek dink ons moet maar eerder seker maak.”

EK HET LANGS die pad stilgehou, die enjinkap oopgetrek, die oondhandskoene en die broodplank uit die mandjie op die agtersitplek gehaal en uitgeklim. Dis goed om so ’n mandjie met die nodigste by jou in die motor te hê as jy op jou enjin kook.

Handskoene, ’n broodplank, sout, speserye, ’n nat lappie – die basiese goed.

Oupa het langs my by die oop enjinkap kom staan en kyk hoe ek die toegefoeliede forelle loswikkel waar dit knus onder die lugfilter lê, hoe ek hulle op die broodplank op die verkoeler neersit en hoe ek die drie lae foelie oopvou. (Een laag foelie is meestal nie genoeg nie.)

Mmm. Onse vissies was al aan ’t sag word. Dit kon jy sien. En ruik. Net vir die wis en die onwis het ek en Oupa saam met die bottersousie tamatie en uie ook bygesit.

Met vinkel en swartpeper daarby. En ’n bietjie witwyn, natuurlik. Dis altyd goed om jou forelle met witwyn te bederf.

Ek het die blink bondel weer onder die lugfilter ingewikkel.

“Moet ek nie maar vir ons die blikkie sweetcorn ook opsit nie, ou seuna?” het Oupa gevra.

Dit was ’n goeie plan: Soetmielies smaak lekker saam met ’n forel.

Onthou net, moet nooit blikkieskos op jou enjin verhit sonder om eers gate in die blikkie te maak nie. Die versekeringsmaatskappy se assessor gaan beslis nie baie simpatiek wees as jy verduidelik die bult op jou Opel Monza se enjinkap is die werk van ’n blikkie boontjies wat ontplof het nie…

Op Bela-Bela vra Oupa weer ’n keer ek moet stilhou.

’n Aangename geurtjie het bo die Cressida se enjin gehang: Ons forelle.

Nes jy die dorp inkom, oor die treinbrug, is daar ’n garage op linkerkant. Eens op ’n tyd was daar ’n Wimpy Bar, maar dié het afgebrand. Net daar het ek stilgehou.

Ek het die enjinkap weer oopgemaak.

Oupa het die plastieksak wat hy by hom gehad het toe ek hom by die ouetehuis opgelaai het, by sy voete opgetel en langs my kom staan.

’n Aangename geurtjie het bo die Cressida se enjin gehang: Ons forelle.

“Wat het Oupa daar binne?” Ek het na die sak in sy hand gewys.

Sonder om iets te sê het Oupa ’n ding uit die sak gehaal. Dit was ook in foelie toegedraai.

Met stram vingers het hy die foelie oopgevou.

Dit was Ouma se koekpoeding.

Neem een gewone sponskoek, vier piesangs, ’n klomp malvalekkers en ’n Flake-sjokolade. Sny die koek in skywe en sit skyfies piesang, stukkies Flake en van die malvalekkers tussen die skywe. Draai dit toe in drie lae foelie en maak dit so effens warm op die enjin.

“Jou Ouma was tog so lief daarvoor, onthou jy, ou seuna.” Die ou man het op sy tande gebyt-byt.

“Ek weet, Oupa. Ek onthou.”

“Dit voel so lank gelede, ou seuna.” Oupa het ’n paar oomblikke net so stil daar voor die Cressida gestaan voor hy die foelie weer toegevou het.

Iemand moet ons dopgehou het, want skielik vra ’n stem agter ons: “As ek mag vra,wat maak julle?”

Dit was ’n man wat by die garage stilgehou het vir petrol. Ek skat hy was laat in die veertig, met ’n gryserige baard. Hy het nuuskierig by die enjin ingeloer.

Oupa het hom nie gewaar nie. Hy het krom oor die enjin gestaan, sy bril laag op sy neus, besig om ’n warm plekkie vir Ouma se poeding te soek.

Ek het die man aan sy arm eenkant toe gevat. “Ek sal verduidelik,” het ek gesê.

“Maar ek dink nie jy sal verstaan nie...”


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg # 12 (September 2005) verskyn.