Dit laat ’n mens skielik aansienlik ouer voel as jy besef die rolprent Gladiator is vanjaar 20 jaar oud. Dis ook al 20 jaar sedert Hansie Cronjé deur die polisie in Indië aangekla is van wedstrydknoeiery. In die jaar 2000 was Bill Clinton president van Amerika en Tony Blair het in 10 Downing Street diens gedoen as Britse premier.

Ek weet nou nie of dit jou beter of slegter gaan laat voel nie, maar Rusland het darem dieselfde president as 20 jaar gelede. Ou Vladimir Putin laat nie sommer van hom ontslae raak nie...

Die tyd stap al hoe haastiger aan en daarom moet ’n mens soms rem trap om sake tot bedaring te bring. En waar laat jy sake rustiger raak as om ’n kampvuur in jou gunstelingkampstoel, saam met jou vriende, familie en ander geliefdes?

Gaan loer in die uitgawe waar ons vir jou 20 puik kampplekke vir 2020 uitgekies het. Ons begin sommer met vyf vir die komende Paasnaweek, en kies dan vyf elk vir onderskeidelik die wintervakansie, daardie kort blaaskans tussen die kinders se derde en vierde kwartaal, en dan die Desembervakansie. In die laaste klompie jaar het ons by al dié kampplekke uitgespan en ons kan dit met groot vrymoedigheid aanbeveel.

Bring jou bakkie bosveld toe

Ek is baie opgewonde oor die Ry & Sleep Bakkie Run wat ons vanjaar die eerste keer aanbied. Sover ek kon vastel, is dit die eerste en enigste byeenkoms in Suid-Afrika wat nét op dié ikoniese ryding gefokus is.

Ons wil letterlik enige en elke denkbare soort bakkie vir die naweek van 24-27 April by Alldays in Limpopo hê. Of jy nou met ’n Bantam of ’n Champ, ’n Triton of ’n Ranger, ’n Hilux of ’n Dodge Ram – 4x4 óf 4x2 – ry, word jy hartlik genooi om saam te kom.

Ons het met die mense van Alldays saamgespan en beplan ’n epiese naweek van hindernisse, tydrenne, versnelrenne en alles tussenin.

My besonderhede is hieronder. Stuur vir my ’n e-pos as jy en jou maats nie die naweek wil misloop nie. Ek is kinderlik opgewonde.

Veilig reis!

- Schalk

schalk.jonker@media24.com