Dis moeilik om iemand te verkwalik wat in daardie oomblik van donkere werkstres sy vakansiebeplanning te driftig aanpak. Dis tog só maklik om in daardie slaggat te trap.

Dit tref jou skielik. Eensklaps, tussen al die e-posse, papiere, vergaderings en halfklaarverslae deur, word jy amper tranerig as jy begin terugdink aan jou kleintyd-vakansies van wéke by die see of in die bos.

En dit tref jou hard: Dieo nregverdigheid – nee, die onmenslikheid – daarvan om temoet werk; die verkwisting van jou kosbare tyd ten bate van een of ander kapitalistiese reus se wins.

As jy weer kyk, praat jy op die foon met iemand van Sanparke en bespreek ’n indrukwekkende klomp dae in die Krugerwildtuin. Dis nou vir Desember, want dís wanneer jou verlof uiteindelik aanbreek.

Later wys jou vrou se onsekere kyke dis moeilik vir mense buite jou besluitraamwerk om hulle 14 somersdae in die wildtuin in te dink.

Die kinders is effe afgehaal oor die gebrek aan golwe en seesand, maar dit lyk of hulle e vinde is vir wildtuindinge. Dis immers jou opvoedkundige plig as Suid-Afrikaanse ouer om jou kinders soontoe te vat.

Dis drie maande later. Hoogsomer. Jy’t pas amper-amper jou buurman se woonwa raakgery terwyl jy jou bakkie met twee vingerpunte op die vuurwarm stuurwiel in die staanplek ingestuur het. Dis nie dat jou voertuig se lugreëling nie werk nie; dit het bloot netnou ’n rukkie gevat om jou by Satara se ontvangs aan te meld. In daardie tydjie het die bakkie verander in ’n mikrogolfoond wat op “high” gestel is.

In dié geweste draai die kwik mos lank voor agtuur soggens al by 30 °C. Nou het jy klaar jou eerste hittevoorval agter die blad: Jy het die warmgebakte gespe van die sitplekgordel raakgesit en loop nou rond met ’n Toyota-brandmerk in die waai van jou been.

Loop is dalk ’n sterk woord, want in sulke temperature is daar in elk geval min sprake van normaal loop. Enersyds is daar die sleepvoet-skuifel in die kampie rond, op soek na koelte of minstens dan ’n effens koeler plek om te gaan lê en sweet. Jy’s omtrent so vlugvoetig soos ’n bejaarde seekoei ná ’n ernstige liefdesteleurstelling.

En dan is daar die dolle getrippel oor warm plaveise lop pad swembad toe. Almal ken hom (hy’s familie van die strandtrippel) en dit eindig altyd in ’n klein al-in-dierondte getrippel op jou handdoek, asof dit jou voete wonderbaarlik gaan afkoel.

’n Ander unieke somerloopstyl is die “Plakkie Surprise”.

Dis nou wanneer jy doodluiters die stuk teerpad tussen jou kampplek en die winkeltjie in jou visplakkies aandurf. Sloef-slaf, sloef-slaf. Nou en dan het ’n lang toon mos die gewoonte om uit te hang en die grense van die plakkie te oorskry en dan stamp jy hom nerf-af, presies op daardie plek waar jy in die komende weke weer en weer met hom in al wat ’n ding is, gaan vasloop.

Dan trek jy jou seer voet inmekaar, amper soos ’n vuis, en hop-hop-hop terug kamp toe: Die vuisvoetjie-hopscotch.

Die wildtuin se winkeltjie is gewoonlik die enigste lugverkoelde hemel, maar ’n mens kan ook net só lank daar rondhang voordat die kassiere begin dink jy wil dalk ’n pakkie Romany Creams of iets vaslê. Jy is immers hier om te kamp, en ná ’n rukkie moet jy maar weer die hitte van jou kampie gaan trotseer. En kom ons wees nou maar eerlik: In die somer is nie een van die gebruiklike kampmetodes in die wildtuin baie aanloklik nie.

’n Koepeltentjie van seil is die pizza-oond van die kampwêreld. Jy kan al die flappe oopgooi en die hele tent in ’n oomblik van hitte-waansin met ’n braaivurk vol gate steek, maar afkoel gaan jy hom nie afkoel nie.

Almal probeer natuurlik een of ander tyd ’n waaiertjie in die tent staanmaak. Dit roer die warm lug so effens en sommige mense vind dit bevredigend, al werk dit eintlik nie. Jou opblaasmatras (afblaasmatrasis dalk ’n beter woord) help ook nie om dinge gemakliker te maak nie. Die matras, opgewarm deur jou logge lyf, voel soos ’n warmgeryde troktjoep onder jou. Selfs jou kussing is só ongemaklik warm, dit voel of jy jou kop in een van Ouma se pas gebakte klam beskuitbrode gedruk het.

Dis ’n lang oggend. Jou bolyf is kolkol yskoud gevries van die lugreëling en veral jou regteroog is al in ’n skeelhoofpyn in geblaas – dít terwyl jou onderlyf teen die warm leersitplekke prostesteer.

’n Woonwa vaar nie veel beter in die Laeveldse somer nie, want in 40 ºC is dit basies ’n groot, wit Defy-konveksieoond. (In party modelle kan jy selfs besluit op watter rakkie jy wil gaar word.)

Sommige woonwaens het natuurlik so ’n fênsie silwer oorseil, wat maak dat dit binne-in ’n heel skaflike 38 ºC pleks van 40 ºC is. Weens die weerkaatsing sukkel almal binne honderd treë van jou staanplek af dan met effense sonbrand en arc eyes. En wie weet wat se ruimteskepe gaan oor honderd jaar hier opdaag omdat jy so lustig ligseine die heelal in stuur...

Die rondryery in die hoogsomer is ’n ander ding. Kom ons wees eerlik: Dit werk net as jy vroegoggend of laatmiddag gaan diere kyk, want die dierevakbond het mos ’n magdom griewe as dit kom by middagwerk in die somer. Teen agtuur is die son al só hoog en die skaduwees só kort dat dit voel soos maande van droogte. Maar jy druk deur, want niemand is lus vir die hitte in die tent of woonwa nie. Jy sien natuurlik nie veel wild nie, want jou kar se waaier verjaag al wat dier is vir myle aaneen.

Aan die positiewe kant: In sulke warm weer kom mense meestal die wildtuin se reëls na. Niemand hang halflyf by die kar uit om beter te kan sien nie, want lugreëling is heilig. Jy sal in elk geval nie lank oor jou kar se bakwerk kan uitleun sonder om soos botter te smelt nie.

Dis ’n lang oggend. Jou bolyf is kol-kol yskoud gevries van die lugreëling, en veral jou regteroog is al in ’n skeelhoofpyn in geblaas – dít terwyl jou onderlyf teen die warmleersitplekke protesteer. Jy moet uit, en jy ry soek-soek na ’n uitklimplek iewers langs ’n watergat. Die hele gesin val dankbaar uit die kar uit.

Somerhitte het ’n klank. Sonbesies wat skree, sprinkane se “kliek-tjirrrr” hier langs jou uit die gras, die dorre aarde se geknars onder jou voete en – in die wildtuin – seekoeie wat nou en dan in die water blaas.

In die verte dryf die berge in die lugspieëlings. As daar dalk ’n luggie waai, is dit bloot ’n sug. Sulke tye, wanneer dit so stil en snikheet oor die wilde wydtes is, beleef jy ’n ongelooflike mooiheid in die klanke, reuke en kleure van hoogsomer. ’n Mens drink dit in – nee, slurp dit op, want jy kan nie lank daar staan nie. Jy sal vergaan. Tog ontroer die toneel jou en maak die ontberinge draaglik.

Met Afrika in al sy somerglorie draai jy weg van die mooi uitsig, terug na jou lugreëling. Daai seer toon loer skelm-skelm oor die rand van die plakkie vir die warmste stukkie aarde wat hy kan kry en dan kom dit weer: Hop-hop-hop, ’n paar tongknope, vuisvoetjie terug kar toe, met almal se bene wat weer sissend op die vuurwarm leersitplekke skroei.

En só begin jy met jou een gesonde wysvinger op die stuurwiel terug kamp toe ry.

Laatnag, moedeloos rondgekriewel op die troktjoep en jou kop papnat van die beskuitbrood, hoor jy vreemde bewegings in jou tent. Jy lê stil in jou sweetpoel en luister hoe iemand die tent se ritssluiterdeur toerits. Vroulief kom weer langs jou lê en gloei soos ’n Charka-blokkie.

Ongelowig vra jy: “Hoekom maak jy die tent toe, my ding?” En dan sê sy: “Want ek kry koud.”


Hierdie artikel het oorspronklik in WegSleep (Februarie-April 2008) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.