Die naam van die oom met die Manjifiek B op staanpleknommer 17 is Hans. Sy ouma aan sy pa se kant was ’n Du Randt-meisie – een van die ryk Oos-Kaapse Du Randts.

Haar familie was vooraanstaande veeboere. Dis glo dié dat sy eers met ’n Engelsman getroud was – eintlik ’n Skot; sy van was McGregor of McGuire, of so iets. Niemand is meer seker nie, maar hy was beslis een of ander Mac. Ieder geval, dié McWatookal is dood in die oorlog, die Eerste Wêreldoorlog. Daai oumense het dit mos die Groot Oorlog genoem want, shame, hulle het toe nog nie geweet van die Tweede Wêreldoorlog wat moes kom nie.

Ek weet al dié goed van oom Hans se familie want, soos die spreekwoord lui, die mure het ore, en die mure van ’n kampplek se storthokkies strek mos nie al die pad tot teen die plafon nie.

Dis Sondagoggend en oom Hans, ’n wildsboer van die Swartruggens-distrik, en sy kampbuurman (en nuutgevonde sielsgenoot) oom Pierrie Malherbe, gesels land en sand – in die stort. Nee, maggies, nie in dieselfde stort nie! Sulke goeie vriende is hulle darem nou ook nie.

Hulle is “onsigbare” geselsers. Hulle praat maar net soos wat talle mense doen wanneer hulle in ’n karavaanpark se ablusieblok is – so oor en weer oor die hokkie se muur asof hulle mekaar nou net by die plaas se grensdraad raakgeloop het. Wanneer mense só gesels, praat hulle altyd effens harder as normaalweg sodat hulle mekaar oor die gesuis van die stortkoppe kan hoor. En dan kan ander mense in die omtrek nie help om ook te weet waaroor die gesprek gaan nie.

In die wildtuin is dit gewoonlik oor die wild wat hulle die dag gesien het. “So 10 km van die kamp af het ons regs gedraai by die T-aansluiting en om die eerste draai in die pad lê daar toe drie leeuwyfies met ’n stuk of ses kleingoed. Dit was so net voor agtuur vanoggend. Santie het die mooiste foto’s geneem...”

Dieselfde ouens en vrouens wat deur die week gedas en getooi in raadsale met gesag oor grafieke en spreadsheets redekawel, is op hulle weerloosste tussen die karavaan en die ablusieblok

Dis gewoonlik by dieselfde T-aansluitingwaar jy net voor agt die oggend links gedraai het of net ná agt regs gedraai het. Dis seker van so praat dat kampeerders dan ook so dikwels hulle sjampoe in die stort vergeet. Kyk maar, daar is altyd iewers in een van die storthokkies ’n botteltjie Gill of Head & Shoulders se Ocean Spa of Cool Menthol. Dit kan natuurlik ook wees van die gesukkel met die aantrekkery ná die stort.

STORTHOKKIES IS DIABOLIESE goed. Party het sulke plastiekgordyntjies wat veronderstel is om te keer dat die hoekie waar jy jou klere ophang, ook nat word, maar ditwerk selde. Al waarvoor die gordyntjies werklik goed is, is om jou onverhoeds te betrap terwyl jy afdroog. Dit kom kleef skielik koud en nat teen jou rug terwyl jy op een voet rondhop in ’n poging om jou broek aan te trek sonder dat die broekspype se some aan die nat vloer raak.

Dis mos asof daar ’n paar kosmiese (of is dit nou komiese) wette is wat net in karavaanparke se ablusieblokke geld. Die een bepaal dat jy nié in ’n storthokkie sal aantrek sonder om ten minste een van jou sokkies nat te kry nie. Dit het niks te make met die ontwerp van die storthokkie nie – regtig nie. Een of ander tyd gaan jy nog so staan en hop-hop op jou een voet terwyl jy jou tekkie aantrek, dan verloor jy jou balans en trap kerplaks met jou droë sokkie op die nat sementvloer. Dan gee ’n mens mos maar oor en loop so natvoet-droëvoet-natvoet-droëvoet terug karavaan toe sodat jy die sokkies wat jy ná gister se stort uitgehang het om droog te word, kan aantrek.

Daar is natuurlik die plakkie-opsie. Karavaanparkstorte is die enigste rede waarvan ek weet waarom ouerige ooms kaparrangs sal gaan koop. Dan gaan stort hulle sommer met die plakkies aan en gee die hele sokkie-oefening ’n skip. Jy sien hulle dan staan voor die spieëls bo die lang ry wasbakke. Dikwels is dit met ’n gholfhemp van hulle tuisdorp se koöperasie of die rolbalvereniging, lang jeans (wat effens te styf sit, want hy dra dit net op vakansie en het dit vyf jaar gelede gekoop) en plakkies.

Oom Hans is só ’n oom. Hy staan nou hier voor die spieël en kam sy snor met so ’n smal swart kammetjie met fyn tandjies wat al smaller raak na die eenpunt toe. Daar hang ’n soeterige reuk van naskeermiddel, moontlik Aqua Velva of Brut, gemeng met ’n sweempie Colgate in die lug. Oom Pierrie is terug karavaan toe om solank die tannie te gaan aanjaag, want hy “wil nie laat ry nie en daar moet nog gepak word”.

Ek neem half gebukkend langs oom Hans stelling in, want die badkamerspieëls is mos altyd óf net te hoog óf net te laag om jouself ordentlik te kan bekyk. In hierdie geval wil dit blyk asof die bouer ’n kort mannetjie was – selfs duskant vyf voet. Buite die deur roep ’n dogtertjie na haar pa. “Pappa! Pappa, is jy daar binne? Wat maak jy?” Pappa is skynbaar die man met die bles wat nou-nou hier ingestap het. Hy het ’n blou satyn-slaapbroek met Mickey Mouse en Goofy op.

As jy al ooit gewonder het of jou neef daai verspotte slaapbroek dra wat jy een Kersfees uit desperaatheid “sommer net vir die grap” vir hom present gegee het, gaan kyk op ’n Sondagoggend by die ablusieblok. Dieselfde ouens en vrouens wat deur die week gedas en getooi in raadsale met gesag oor grafieke en spread­sheets redekawel, is op hulle weerloosste tussen die karavaan en die ablusieblok.

Dis dán wanneer hulle met rooi skrefiesoë en ongekamde hare aansukkel badkamer toe met ’n handdoek en ’n Blue Stratos-badsakkie onder die arm vasgeklem.

DIE DOGTERTJIE BLY ROEp: “Pappa! Mamma soek die bakkie se sleutels. Sy sê jy’t haar vanity case toegesluit en sy kan nie haar gesig opsit nie. ”Vanity case, koesterkoffer, jesebeltassie, smuktassie, noem dit wat jy wil, dis wonderlike goed daai. Party is skaars so groot soos ’n skoenboks en ander lyk weer soos ’n ambagsman se gereedskapskis, maar ek vermoed daar is ’n swartmark aan die vroue se kant van die ablusieblok: Hou maar dop, die vrou wat met daai tassie daar ingaan, is nie dieselfde een wat weer daarmee uitkom nie.

Oom Hans kam die laaste snorhare met presisie op hulle plek en versit dan die kam na die yl hare wat hy van links na regs so dwars oor sy kop kam. “Daai silwer bakkie met die Transvaalse nommerplaat, is’t joune?” vra hy uit die bloute.

“Err, nee oom, eintlik die werk s’n ...”

“Hoe sleep hy? Seker maar swaar op die sous, nè?”

“Nee wat, hy sleep lekker, daar’s nie fout nie,” antwoord ek uit een mondhoek terwyl ek hard probeer om myself nie raakt e skeer nie.

“Ek sien oom sleep met ’n...”

“Ja, dis nou vir jou ’n bakgat sleepdingdaai; ek het al die pad van die Baai af gesleep en eers weer op Colesberg die tenk volgemaak.”

Sonder ’n woord verder pak oom Hans sy kam weg en flip-flap-skwiesj met sy nat plakkies terug na staanplek 17.

Ek wou nog vra hoe sy ouma toe uiteindelik sy oupa ontmoet het en wat van McWatookal se veeplaas geword het, maar hy’s vort. Dalk kan ek later ’n draai onder die Manjifiek se stoeptent gaan maak om die res van die storie te hoor. Dan kan ek ook sommer vir hom die sjampoe vat wat hy vergeet het.