Ek hou van die Grieke. Dis hulle wat ons wêreld verryk het met die Olimpiese Spele, marathonne, demokrasie, filosofie, mitologie, Trojaanse perde, Spartaanse krygers en, die beste van alles, soevlaki en baklava.

As ’n laerskoollaaitie het ek my klaar gelag vir Asterix en Obelix toe hulle die grootkop- Romeinse atleet Gluteus Maximus, aan ’t oefen vir die Olimpiese Spele in Athene, in ’n woud raakdraf en sy agterent skop.

Op hoërskool was Alexander die Grote, wat dieselfde aan die Perse gedoen het, een van my helde. En op universiteit het Aristoteles en Plato in Politiek 1 mý maximus gesool omdat ek probeer het om met die minimus werk op my gluteus deur te skraap...

Dis seker te verstane dat Griekeland en sy eilande my oë sou laat glinster toe ek en my vrou, Ronel, later as jong paartjie met ’n Let’s Go Europe-gidsboek sit en ons eerste rugsakreis deur Europa beplan.

Maar in Athene, ná ’n rits avonture deur Europa, moes ek gesien het hier kom moeilikheid.

Dis 39 °C, lugverkoeling is nog nie hier nie en elke skadukol word beset deur harige ouens met oopgeknoopte hemde wat backgammon speel. Niemand roer nie, wat nog te sê werk.

Dis die vroeë jare negentig en die ouens wat kán werk, staak. Dit sluit die bankamptenare in, dus kan ons nie geld trek nie.

“Eilande toe,” sê Ronel, en ons sluit aan by ’n peloton Duitse sokkie-en-sandalers wat ’n veerboot na die vulkaniese eiland Santorini haal. Ons vind ’n lêplekkie op die dek en kyk hoe die hawestad Piraeus stadig ingesluk word deur die skemer terwyl ons die Middellandse See invaar. Met ’n pakkie Marlboro’s tussen ons en ’n groot bottel Heineken waaraan ons om die beurt drink, is ek sielsgelukkig.

“Ek wil praat oor die kloof tussen ons,” sê my vrou. “Dis nie eens ’n kloof nie. Dis ’n vallei. Die Vallei van Verlatenheid,” sê sy.

My hart raak yskoud. Dan sien sy my verpletterde uitdrukking en begin lag. Dit blyk sy’s nou ná drie weke se reis goed keelvol vir die enkelbeddens wat ons in elke goedkoop Europese hotelkamer kry.

Amen, sug ek. Ons stoot beddens bymekaar waar ons kan, maar in die vroeë oggendure is daar altyd een van ons wat in die sloot tussen die matrasse beland. “As ons op die eiland aankom, sê ons vir die hotelsmouse ons soek ’n kamer met ’n dubbelbed,” sê sy.

“Kom ons drink daarop,” sê ek en gaan koop nog ’n Heineken.

Dis net ná middernag toe ons by Santorini aan wal strompel. ’n Handjievol mans lok luidkeels toeriste na hulle hotel met beloftes van see-uitsigte en geurige “roast lamp,” maar hulle skud net die kop as ek vra of hulle ’n kamer met ’n dubbelbed het.

Later is daar net een ou grys oom, kom ons noem hom Spiros, wat half skamerig eenkant staan. “Dubbelbed?” vra ek wanhopig, en wonder bo wonder knik hy instemmend!

Ons spring in sy bussie en ry die donkerte in, weg van die see af na wie weet waar. Teen die tyd is ons al twee doodmoeg.

“Ek sien nou uit na daai dubbelbed,” sê my vrou. “Ek gaan daai dubbelbed seermaak,” beaam ek. Al wat Spiros voor in die motortjie van ons gebrabbel in Afrikaans verstaan, is “double bed, double bed”. Die oë wat in die truspieëltjie vir my loer, lyk bra benoud.

By die hotelletjie vra Spiros ons om eers onder in die portal te wag. Hy moet die tannie gaan wakker maak, verduidelik hy.

’n Minuut later hoor ons ’n allemintige geskel in Grieks. Dit blyk sy’s kwaad vir hom, en sy skel nog harder toe sy vir ons sien.

Die arme drommel, skaam man wat hy is, kon net twee toeriste na die hotel lok. En boonop is daar net een kamer met ’n dubbelbed en hy’s nog nie opgemaak nie. Vir wat soek die mense so angstig ’n dubbelbed? Dis in elk geval wat ons ons verbeel sy vra terwyl Spiros kop onderstebo na die vloer staar. Ons staar maar saam met hom na die teëls.

Uiteindelik is ons kamer reg. Die tannie stop ons met ’n vuil kyk die sleutel in die hand en verkas na haar eie (enkel-)bed in haar kamer. Buite wil-wil dit dreig om lig te word. Êrens kraai ’n haan. ’n Donkie kom langsamerhand die stegie buite ons kamervenster afgeklop-klop. Ek kyk na die eenvoudige dennehoutbed en val met uitgestrekte arms en ’n sug van verligting op die wit lakens neer.

En net daar stort die hele bed met ’n helse knal ineen. Ek was skaars ’n minuut in die kamer of die bed is gebreek – dis seker ’n Griekse rekord wat nou nog staan. Ronel wil dood van die skaamte en ek moet die trap af om die tannie op te klop en te verduidelik ek het haar enigste dubbelbed vernietig.

Die tweede vuil kyk is nog erger as die eerste toe sy vir ons ’n ander kamer se sleutels gee. Ons probeer nie eens die enkelbedjies teen mekaar skuif nie.

Maar ons is jonk, ons vel dik en ná ’n paar uur se slaap is ons lus om die eiland te verken.

Ja, sê die tannie, nou al ’n bietjie vriendeliker ná haar tweede koppie Griekse koffie, ons kan ’n poegie by haar seun oorkant die pad huur. Spiros is klaar besig om ons dubbelbed te herstel. Ons kan later kom kamers ruil.

Ek stap oor na haar seun se werkswinkeltjie om die poegie te gaan haal. Dis ’n ou 50 cc-Honda Express met dun speekwieletjies. Ek stop hom ’n hand vol dragme in die hand, en hy gee vir my die sleutels en ’n fietsslot.

Valhelms of ’n rybewys kom nie ter sprake nie. “Sluit net die motorfiets met die slot by elke plek waar jy stilhou,” waarsku hy my. Daar’s skaars 15 000 mense op die piepklein eiland, en ek kan nie dink waar jy ’n gesteelde poegie gaan wegsteek nie, maar ek is vasbeslote om na die dubbelbed-insident my kant skoon te hou. Ek ry 10 m en parkeer by die deur van ons hotel waar ek die slot deur die speke en om ’n lamppaal ryg.

Vyf minute later is Ronel agterop die poegie met haar arms om my. Ek voel soos ’n jong Marlon Brando. Ek skop hom aan die brand, waai vir die tannie wat deur die venster vir ons loer en trek met ’n glimlag weg.

“Rrrrrrrrrrr,” maak die slot, wat steeds aan die wiel en die lamppaal vas is, soos hy elke liewe speek in die agterwiel morsaf breek. Ek kan hoor hoe die tannie agter die venster weer in Grieks aan die skel gaan. Ronel druk haar kop diep in my skouer.

Kyk, dis nie asof die Grieke my hulp nodig gehad het om hulle ekonomie op te dons nie, maar ek het seker my deeltjie bygedra.

As ek nuus kyk oor hoe swaar die Grieke dit deesdae het, wonder ek wat van ou Spiros geword het. Daai aand, nadat ons die motorfiets herstel en die eiland platgery het, het Spiros vir my die sleutel van ons oorspronklike kamer in die hand kom druk.

Die bed, het hy my verseker, is sterker as ooit. Niemand gaan hom sommer gou weer breek nie. Nie eens jy nie, het hy gesê.

En toe knipoog hy vir my.

* Hierdie artikel het oorspronklik in Weg # 133 (November 2015) verskyn.