Ons is pas getroud en dis ons eerste ordentlike vakansie. 

Ons gooi ’n kaart van Suid-Afrika op die vloer oop en daar links bo sien ons ’n plek, die Gemsbok- nasionale park. Daar is egter geen teken van ’n pad soontoe nie, net paaie tot op Upington.

Ek sê vir Pegs: “Kom ons gaan.” 

Sy sê: “Tops, maar hoe kom ons daar?” Ons bel die AA, maar hulle weet nie. Sal ons terugbel.

Die AA bel ons 24 uur later terug. “Ons kon ook nog nie uitvind nie, maar ry maar tot op Upington en vra daar,” is die antwoord.

Ons trek in ons Opel Kapitän weg uit Alberton en ry uiteindelik met die Kalahari-pad uit Upington uit. 

En toe begin van die onvergeetlikste dae van ons lewe.

Ons slinger vir 212myl (341,1 km) deur sand en oor die duine, verby plekkies met name soos Swartmodder, Vrouenspan, Kooppan-Suid, Inkbospan, Witdraai en Kooppan-Noord. By Kooppan-Noord moet ons proviand en brandstof vir ’n paar dae koop. In die park is daar net verblyf en water. 

Ons kom laatmiddag by die park aan. Daar’s ’n klein bord by die ingang: “Kalahari Gemsbok Park. Skiet Verbode.”

By Twee Rivieren is daar twee rondawels en by Mata-Mata net een. Ons is die enigste besoekers in die park!

’n Netjiese jongman, Hendrik, word aangestel as ons oppasser en gids. Dis nog stikdonker toe ons die eerste oggend wakker word, maar ’n vuurtjie knetter reeds waar Hendrik koffie maak.

Teen sonop is ons deur die hek na Mata-Mata (sonder Hendrik). Ná 10 minute sê Vroutjie: “Hier is regtig niks. Kom ons klim op daardie duin en kyk ’n bietjie rond.” Ek sê vir haar: “Hier is leeus in die plek.” Sy sê: “Ag, man, hier is nie eens bokke nie.” 

Sowaar, vyf minute later sien ons ses Kalahari-leeus teen ’n duin aan ons regterkant opstap. 

Vir die res van die dag het ons nie verder as die motor se agterwiel gegaan nie.

Carel se brief was die wenbrief in Weg #42 (Maart 2008)

ONS SOEK JOU KIEKIES

Het jy mooi ou swart-wit foto’s wat die storie van toeka se toere, gesinsvakansies of avonture vertel? Stuur dit gerus na suzaan.hall@media24.com