Die Strand is een van die oudste vakansiedorpe in Suid-Afrika, en die struktuur op die swart-wit foto (dis tussen 1914 en 1920 geneem) is gebou juis om vakansiegangers en baaiers se onthalwe.

Destyds het die wenkbroue gelig as jy sommer in jou baaikostuum op die strand aangekom het, dus was baaiers baie dankbaar toe dié eerste houtpaviljoen in 1914 voltooi is, kompleet met aantrekhokkies én storte.

Skaars vier jaar later is die houtstruktuur in ’n brand beskadig. Dit is herstel, maar in 1923 in puin gelê. In 1929 is ’n baksteenpaviljoen op min of meer dieselfde plek gebou, met ’n speelterrein en ’n bioskoop.

Die Strand se bekende houtkaai is eers in 1934 langs die Paviljoen gebou. (Dié kaai is intussen om veiligheidsredes vir die publiek gesluit.)

Die Paviljoen se gewildheid het begin taan toe Melkbaai, ’n kilometer of wat verder, as swemplek oopgestel is en mense eerder daar gaan lafenis soek het. Die Paviljoen is later onveilig verklaar en in 1972 gesloop.

Die Strand Pavilion-kompleks soos hy vandag lyk, met ’n restaurant oor die water en ’n swembad van Olimpiese grootte, is in 1990 op die fondamente van die vroeëre gebou opgerig.

FOTO JON MINSTER

Die eerste Europeërs wat hulle voetspore op die Strand se wit strande gelos het, was vermoedelik vier drosters wat beplan het om kuslangs Mosambiek toe te stap om aan Jan van Riebeeck se verdrukking te ontsnap. Hulle het egter nie verder as die Hottentots-Holland-berge gevorder nie en moes druipstert omdraai.

In die vroeë 1800’s het die Stellenbosse landdros Daniel van Ryneveld boere op sy plaas, Somersetstrand, laat kamp. Hulle kon later vakansiehuise bou.

Later, ná die Anglo-Boereoorlog, het baie burgers hulle hier gevestig.

Tóé het hulle nog van Somersetstrand gepraat, maar die naam is in 1937 na Strand verander.

* Bronne: The Story of Hottentots-Holland deur Peggy Heap; Die Strand en sy mense deur Faure de Kock.

ONS SOEK JOU KIEKIES
Het jy mooi ou swart-wit foto’s wat die storie van toeka se toere, gesinsvakansies of avonture vertel? Of foto’s van hoe jou dorp destyds gelyk het? Stuur dit na suzaan.hall@media24.com, en jou foto verskyn dalk in die tydskrif.

• Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #30 (April 2007) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.