Die twee brûe is inderdaad “neefs” – al twee is deur die Britse ingenieur Ralph Freeman ontwerp. Die Birchenoughbrug is wel heelwat korter (329 m teenoor die sowat 500 m lange boog van die Sydneybrug). 

Die Birchenoughbrug oor die Savérivier is in 1935 – drie jaar ná die Sydneybrug – voltooi om die mense in die ooste van die land toegang te gee tot die sentrale distrikte van die destydse Suid-Rhodesië. Ná die bou van die brug kon Suid-Afrikaanse toeriste ook makliker by die mooi bergdistrikte in die gebied uitkom. Dit was in daardie stadium op twee na die langste enkelbooghangbrug ter wêreld. Die brug het ook later jare op die Zimbabwiese twintigsentstuk gepryk. 

Birchenoughbrug
Foto: Toast Coetzer

Roger Whitall van die plaas Humani Ranch naby die brug vertel voordat daar ’n brug was, het sy pa, Jimmy, mense se motors met osse oor die rivier gesleep. “As hulle nie wou betaal nie, het hy die motors losgemaak en net daar in die rivierbedding gelos!” onthou Roger. Vir dié reisigers het Jimmy twee rondawels aan die dorpskant gebou vir verblyf. 

Die brug is na sir Henry Birchenough genoem. Die dorpie by die brug staan ook bekend as Birchenough Bridge. Birchenough was destyds die voorsitter van die Beittrust, wat die geld vir die bou van die brug gegee het. Ná sy dood is sy as (en dié van sy vrou, Mabel) onder die brugstrukture begrawe, met ’n plaatjie wat sê: “Within these walls repose the ashes of Sir Henry Birchenough and of Mabel his wife. They wished to be laid to rest in the country they had served among the people they had loved. Rhodesia will hold them for ever in fond and grateful memory.”

Bronnerhodesianheritage.blogspot.co.zathesovereignstate.orgaustralia.gov.au

  • Nuusberigte die afgelope twee jaar (lees hier en hier) berig dat die Zimbabwiese regering planne het om die brug te vervang maar sover vasgestel kon word is die brug nog in gebruik soos dit tans daar staan.

Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #148 (Februarie 2017) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.

ONS SOEK JOU KIEKIES.

Het jy ou swart-wit foto’s wat die storie van toeka se toere, gesinsvakansies of avonture vertel? Stuur dit gerus na suzaan.hall@media24.com