Meer as sestig jaar later is die stadsaal daar gebou. Dis in 1885 voltooi teen ’n koste van “nie meer as 35 000 pond nie”. Die 50m hoë kloktoring het ook Durban se amptelike uurwerk gehuisves.

Deesdae staan die ou stadsaal in Wesstraat, wat bestaan uit vyf bane met eenrigtingverkeer in die rigting van die Indiese Oseaan. Die man wat in die “Toe”-foto sy riksja hierlangs trek, sou deesdae moes bontstaan tussen al die busse, taxi’s en motors in die spitsverkeer.

Foto Rogan Ward

In 1899 het ’n jong Winston Churchill Durban se Britse burgers van die stadsaal se trappe af toegespreek. 

Dit was vroeg in die Anglo-Boereoorlog en Churchill het pas uit ’n Boerekrygsgevangenis in Pretoria ontsnap. ’n Gedenkplaat aan die voorkant van die gebou lig ’n mens in dat hy met daardie toespraak “die inwoners van Durban opgewonde gehad het”. 

Die gebou se grootste oomblik was waarskynlik in 1908 toe die eerste sitting van die Nasionale Konvensie hier plaasgevind het. 

Dit het gelei tot die stigting van die Unie van Suid-Afrika in 1910. 

Teen daardie tyd was die stadsaal te klein vir die groeiende en welvarende hawestad, en in dieselfde jaar is die nuwe stadsaal aan die ander kant van Wesstraat geopen. Die ou stadsaal het toe die Durbanse poskantoor geword – tot vandag toe nog. 

En sy horlosie wys steeds vir die mense van Durban hoe laat dit is, al verloor hy van tyd tot tyd so ’n paar minute...

ONS SOEK JOU KIEKIES

Het jy mooi ou swart-wit foto’s wat die storie van toeka se toere, gesinsvakansies of avonture vertel? Of foto’s van hoe jou dorp destyds gelyk het? Stuur dit na suzaan.hall@media24.com, en jou foto verskyn dalk in die tydskrif.


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg # 32 (Junie 2007) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.