Eers het daar ’n klein kerkie gestaan wat gebou is op die driehoek (vandag die stadsplein) waar die eerste Britse garnisoen in 1812 die eerste hartbeeshuisies kom oprig het. 

Nadat ’n biskop in 1854 aangestel is, is die kerk heeltemal herbou, en teen 1879 was die suidelike muur al wat van die oorspronklike kerk oorgebly het. 

Ná ’n onderonsie tussen die deken en die biskop het die biskop afgestig en sy nuwe gemeente St. Michael genoem. Hulle het kerk gehou in die gebou heel links op die “toe”-foto – die een met ’n kruis bo-op.  

Toe die deken in 1884 oorlede is, het die twee Anglikaanse gemeentes weer saamgesmelt en van toe af bekend gestaan as St. Michael en St. George.  

Grahamstad se hoofstraat, Hoogstraat, wat verby die katedraal loop, is so wyd gebou sodat ossewaens  met ’n vol span van agt osse (soos die een links voor op die “toe”-foto) genoeg plek gehad het om ’n lui U-draai te maak.  

Vandag woel dit hier van die studentemotors, taxi’s en boerebakkies uit die omgewing.  

Foto Toast Coetzer

Nadat die klokmeganisme in 1990 herbou is, spog die katedraal met die meeste kerkklokke in een gebou in Afrika, én daar word klokluilesse in die katedraal aangebied. 

 Dis glo ’n kuns wat jare neem om te bemeester.  

Diegene wat al op ’n koue wintersoggend met die besonderse gelui van dié klokke in hulle ore wakker geword het (die klank trek ver, veral wanneer daar mis oor die vallei hang), sal weet watter heimwee dié gelui in jou kan loswoel.


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg # 31 (Mei 2007) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.