Maar hier was eens baie water en ’n lang hawehoof wat aan die onderpunt van Adderleystraat begin en 300 m ver see-in geloop het. Die hawehoof het skepe wat in Tafelbaai anker gegooi het, direkte toegang tot die stad gegee.

Dit was smiddae ’n gewilde plek om te gaan stap, nes die promenade in Seepunt deesdae, vir ’n mooi uitsig op Tafelberg en die stad.

Die hawehoof is amptelik in 1913 deur die Administrateur van die Kaapprovinsie, Frederick de Waal, oopgestel en dit het ’n amfiteater, restaurant, uitsigtoring, vuurtoring en vasmeerplek vir seiljagte en roeibote gehad.

Dit is in 1938 afgebreek (kort nadat hierdie foto geneem is) om plek te maak vir die nuwe hawekom en Duncandok, wat gebou is om die stad se groeiende skeepsverkeer te hanteer. ’n Deel van die projek was die grootskaalse drooglegging van die stuk grond wat deesdae bekend staan as Roggebaai.

Hoewel die dok reeds in 1945 in gebruik geneem is, het ontwikkeling in die Roggebaai-deel maar baie stadig op dreef gekom. Dit was dekades lank, tot in die middel van die sewentigerjare, ’n kaal stuk sand en teer.

Deesdae is Roggebaai ’n belangrike sake- en toerismesentrum waar die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum asook verskeie ander hoë geboue staan.

Foto Jon Minster

Waar die hawehoof was, is nou ’n pad, die Heerengracht, aan die onderpunt van Adderleystraat. Waar die uitkyktoring en die vuurtoring eens was, staan nou ’n bronsbeeld van Bartholomeus Dias, wat in 1952 in die middel van ’n verkeersirkel opgerig is.

Bronne: www.cape-town.info, www.capetown.gov.za, www.iziko.org.za

ONS SOEK JOU KIEKIES

Het jy mooi ou swart-wit foto’s wat die storie van toeka se toere, gesinsvakansies of avonture vertel? Of foto’s van hoe jou dorp destyds gelyk het? Stuur dit na suzaan.hall@media24.com, en jou foto verskyn dalk in die tydskrif.

 


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #26 (Desember 2006) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.