Die Stadsaal (1) op die markplein (nou die Vuyisile Mini-plein) is in 1861 geopen. Dit het in 1977 afgebrand, maar restourasiewerk het die gebou tot sy eertydse glorie herstel; deesdae huisves dit munisipale kantore en die openbare biblioteek.

Die hoofbiblioteek (2) was vroeër jare ’n losstaande gebou op die plein. Dié is in 1902 met ’n terracotta-fasade versier wat in Engeland gebou, in stukke verskeep en hier weer aanmekaargesit is.

Neffens die stadsaal staan die ou Phoenixhotel (3), geopen in 1837 en genoem na ’n stoomskip wat tussen PE en Kaapstad gevaar het.

Foto: Port Elizabeth-museum.

’n 1849-advertensie spog dat die Phoenix “a first rate billiard table” het, sowel as “good stabling for 20 horses”. Die gebou is in 1942 gesloop om plek te maak vir die Reserwebankgebou. Die Phoenixhotel bestaan steeds – nou in Chapelstraat (4).

Op die Toe-foto is brandskade aan die St.Mary’s- Anglikaanse katedraal (5) duidelik. Die kerk dateer uit 1834 en het in Maart 1895 onder ’n piromaan deurgeloop. Koerante het destyds berig oor mej. Frances Livingstone Johnston – ’n voormalige goewernante van Ceres met ’n “strange appearance and manner” wat onlangs ’n Paarlse pakstoor aan die brand gesteek en nou hier in PE kom amok maak het. Dae voor die brand het ’n hawewag haar hoog bo-op ’n hyskraan aangetref – Frances was waarskynlik sielkundig versteurd.

Foto: Sophia van Taak

Skenkings het ingestroom (ook £5 van Paul Kruger en £250 van Cecil John Rhodes) en die katedraal is in ’n japtrap herbou. Maar op 1 April 1897 het Frances wéér toegeslaan. Genadiglik is die vlamme betyds geblus en Frances is in hegtenis geneem en Robbeneiland toe gestuur. Sy’t glo ’n vurige haat vir preekstoele gekoester.

Die kaai (6) dateer uit 1837 en is in 1933 met die Charl Malan-hawehoof vervang. Dié kaai word gebruik as vraghouer- en motorterminus en die ander een (7) as stoorplek vir olie en mangaanerts, sowel as ’n vasmeerplek vir tenkskepe.

  • Die Donkin-vuurtoring (in 1861 gebou en in 1929 met 8 meter verhoog) is op weeksdae 8 vm.-4.30 nm. en Saterdae 9.30 vm-3.30 nm. oop vir besoekers.

Bronne: Historical Society of Port Elizabeth, Old Towns and Villages of the Cape, deur Hans Fransen, thecasualobserver.co.za en ports.co.za


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #156 (Oktober 2017) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.

ONS SOEK JOU KIEKIES.
Het jy ou swart-wit foto’s wat die storie van toeka se toere, gesinsvakansies of avonture vertel? Stuur dit gerus na suzaan.hall@media24.com