Nakop is die grens, só genoem na aanleiding van die spitskoppie wat ’n mens daar sien.

Daar was net ’n padbordjie wat ’n aanduiding gegee het wanneer jy van “provinsie” verander – die “kolonie” aan die een kant en “Duitswes” aan die ander kant, soos party mense daai tyd daarna verwys het. Om dié grenspos oor te steek het minder as ’n sekonde geduur.

Nakop was altyd ons stilhouplek, al was dit net om bene te rek of iets te eet – dit was ’n lang pad van Louis Trichardt af! Vir ons as kinders was dit ’n byna magiese ervaring: Aan die ander kant van dié bordjie was jy in Suidwes-Afrika en dít het jou aansien by jou maats verhoog om te kon sê jy was al in ’n ander land.

Vandag is die grensbeheer nog steeds relatief vinnig, maar dit kan ook maklik ’n uur of langer vat om deur te gaan.

Aan die einde van die jare sestig het my ouers, Willie en Glodina, ’n plaas sowat 80 km noord van Outjo, net duskant die Etosha- nasionale park gekoop. Ons gesin het by Nakop die nuwe land binnegegaan en Suidwesters geword.

Nakop sal altyd vir ons ’n belangrike baken bly – dit hou herinneringe van ’n besonderse tydperk.

ONS SOEK JOU KIEKIES.
Het jy ou swart-wit foto’s wat die storie van toeka se toere, gesinsvakansies of avonture vertel? Stuur dit gerus na suzaan.hall@media24.com



Hierdie artikel het oorspronklik in Weg # 153 (Julie 2017) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.