Hierdie smal inham, hier afgeneem in die laat 1920’s, toe dit gedien het as ’n laaiplek in die bloeityd van die houtbedryf, was ook ’n vasmeerplek vir bote van vissermanne in die omgewing.

Nadat die hawe aanvanklik deur die departement van bosbou bestuur is, is dit in 1964 saam met 59 km van die omliggende kuslyn as deel van Afrika se eerste mariene park verklaar. Dié nasionale park is later uitgebrei om ’n stuk kuslyn van 80 km in te sluit.

Die hoogtetjie agter die hawe is destyds as pakruimte vir hout gebruik. Die streekgoewerneur se huis was ook daar. 

Ou stukke yster in die rotse, waar hierdie foto’s geneem is, herinner ’n mens hoe houtstompe destyds met kabels van die omringende kranse tot onder op vlotte in die hawe laat sak is.

Vandag, meer as 90 jaar later bly dit steeds ’n gewilde bestemming onder vakansiegangers, reisigers, en avontuursoekers. 

Die besige hout- en vissershawe van toeka se dae is vandag die vertrekpunt van duikers en mariene navorsingsbote. Die smal strandjie is goed beskut en is daarom ’n ideale swemplek.

Vandag is hier ’n winkel waar jy allerlei snuisterye, kos, drank en hout kan koop en die Cattle Baron restaurant sorg vir heerlike kos. In November 2016 het ’n brand die Cattle Baron-restaurant met sy houtdek en winkel vernietig maar teen Desember 2016 is tydelike strukture opgerig en was die restaurant weer oop. 

* Inligting verskaf deur Sanparke se Kultuurerfenisprojek en Die Burger argief.

• Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #29 (Maart 2007) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien. 

Ons soek jou kiekies
Het jy mooi ou swart-wit foto’s wat die storie van toeka se toere, gesinsvakansies of avonture vertel? Of foto’s van hoe jou dorp destyds gelyk het? Stuur dit na suzaan.hall@media24.com, en jou foto verskyn dalk in die tydskrif.