“As twee tieners uit Engeland destyds in die middel van nêrens ’n meul kon bou uit amper niks, wat keer ons vandag?” vra Diana Acres, eienaar van die vervalle Caversham-meul in die KwaZulu-Natalse Middelland, sowat 12 km noordwes van Howick. 

Voor die oorspronklike meul met sy meulstene van Skotse graniet in 1935 moes sluit weens die destydse Mielie-beheerwet, het mense van heinde en ver hierheen gestroom om hulle graan te laat maal.

Die Caversham-meul is bykans onherstelbaar beskadig toe die Lion-rivier in 1987 sy walle oorstroom het, maar Diana het planne gemaak om die meul tot sy eertydse glorie te herstel. “Ons kry elke naweek mense wat vertel hoe hulle grootjies hierheen gereis het om hul koring te laat maal,” vertel Diana.

Sy sê daar is vandag net ’n bouval oor van die ou meul.  

Kontak 033 234 4524 vir inligting.

ONS SOEK JOU KIEKIES
Het jy mooi ou swart-wit foto’s wat die storie van toeka se toere, gesinsvakansies of avonture vertel? Of foto’s van hoe jou dorp destyds gelyk het? Stuur dit na suzaan.hall@media24.com, en jou foto verskyn dalk in die tydskrif.

Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #23 (September 2006) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.