In 1927, ’n jaar ná die proklamasie van die Krugerwildtuin, ry die eerste nuuskierige besoekers by die hekke in. Tóé moes buitelugliefhebbers maar net ’n paar sent opdok om diere te kyk. 

Die wildtuin se totale inkomste was daardie jaar maar ’n skamele £3 (R50,43 teen die huidige wisselkoers).

Min besoekers wou egter kamp. Dit was seker omdat die arme besoekers net twee opsies vir verblyf gehad het: óf op ’n veldwagter se stoep óf kampeer agter ’n doringtakskerm.

Die veldwagters se vroue het gelukkig ingegryp en aangedring op beter blyplek vir gaste.

’n Jaar later is daar drie huisies elk by Skukuza, Satara en Pretoriuskop opgerig. Die twaalf rondawels by die Letaba-ruskamp (op die foto) is in 1930 in die sogenaamde ‘Selby’-styl gebou. (Paul Selby was ’n Amerikaanse myningenieur wat ook op die Nasionale Parkeraad gedien het.)

Die rondawels het ’n opening tussen die muur en die dak gehad en ook ’n klein ronde gaatjie in die boonste helfte van die staldeur. Daar was nie vensters nie en jy moes dus deur die gaatjie in die deur loer om te sien of daar enige ongediertes tussen die hutte rondloop.

Maar in 1931 het alles verander: Die kamp is omhein, die rondawels het vensters gekry, ablusiegeriewe is gebou en ’n boorgat gegrawe.

Die ou rondawels is in die laat tagtigerjare vervang met meer gerieflike verblyf. Deesdae is die kamp steeds een van die gewildstes in die Kruger.

• Joep Stevens is die algemene bestuurder van strategiese toerismedienste by Sanparke.

Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #22 (Augustus 2006) verskyn. 

ONS SOEK JOU KIEKIES
Het jy mooi ou swart-wit foto’s wat die storie van toeka se toere, gesinsvakansies of avonture vertel? Stuur dit gerus na suzaan.hall@media24.com.