Dié tremdiens is in 1901 oor Clifton na Kampsbaai verleng, en later ook van Kampsbaai af oor Kloofnekweg terug na die middestad. 

 “Trems was sulke lang, lae sjokolade-en-roomkleurige enkeldekkers. Party het ’n kantien in die middel gehad, met glasvensters reg rondom. Dit was groot pret om in die aand te ry,” skryf Marischal Murray in Under Lion’s Head

“Destyds het ’n tremspoor in Seepunt by St. Johnsstraat na Kloofstraat en Kampsbaai vertak.

“Dan het die trems hulle kragtige kopligte aangeskakel en ’n onheilspellende lig gegooi oor die verlate berghange. Daar was nie ’n huis in sig nie, laat staan nog enige motorkarre.”

Dis moeilik om te glo die enigste permanente inwoner destyds in Kampsbaai, kapt. William Glendinning, het in 1855 gesukkel om van sy grond te verkoop. Bygesê, dit was nogal moeilik om daar te kom.

In 1933 het trolliebusse die trems vervang en deesdae vleg taxi’s en afslaankap-Mercs deur die nou strate al langs die digbeboude kusstrook.

Bronne: Under Lion’s Head deur Marischal Murray (1964)

The Lion Mountain deur Mona de Beer (1987). 

ONS SOEK JOU KIEKIES
Het jy mooi ou swart-wit foto’s wat die storie van toeka se toere, gesinsvakansies of avonture vertel? Of foto’s van hoe jou dorp destyds gelyk het? Stuur dit na suzaan.hall@media24.com, en jou foto verskyn dalk in die tydskrif.


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #50 (Desember 2008) verskyn.