Die swart-wit foto is rondom 1913 geneem.

In die L-vormige gebou op die strand was aantrekkamers vir baaiers, wat meestal met die trem strand toe is (’n mens sien die spore op die brug). 

In 1930 is Humewoodstrand beskryf as “’n beskermde strand…met opgewekte sonbaaiers van alle ouderdomme, alle rasse – vir die swemmer, die branderplankryer, die sonbaaier…” 

Die brug het vir koelte gesorg, wat die strand gewild gemaak het onder gesinne met klein kinders. 

Bote is op die skeepshelling skoongemaak en herstel, maar dié het sedertdien deels weggespoel. Die nuwe dubbelbaanpad dra verkeer na die gewilde strand en ontspanningsplekke soos Hobiestrand, die Shark Rock-pier en die Boardwalk-casinokompleks. 

Humewoodstrand spog met Blouvlagstatus, wat beteken dit word internasionaal erken as skoon en goed bestuur. 

* Bron: Die Port Elizabethse museum by Bayworld

ONS SOEK JOU KIEKIES.
Het jy ou swart-wit foto’s wat die storie van toeka se toere, gesinsvakansies of avonture vertel? Stuur dit gerus na suzaan.hall@media24.com


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg # 43 (Mei 2008) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.