REINIE DICK VAN STELLENBOSCH skryf: "Ek vermoed dié foto is met my ou Nikkormat-kamera geneem. Agterop staan geskryf: “1968. Toer na Botswana, duimry. Foto geneem van Denzel (middel), Willem (regs) en Reinie naby Swartwater terwyl ons vir ’n geleentheid wag na die grens van Botswana. Ons eet sardientjies.”

Ek, my ouer broer Denzel en ons vriend Willem van der Berg was dieselfde tyd teologiestudente op Potch. In ons jong dae het ons menige duimry-avontuur saam beleef – soms tot diep in Afrika.

In daardie dae het ’n mens met ’n kleurbaadjie, langbroek en das duimgegooi – jy wou hê die mense moet jou vir ’n ordentlike outjie aansien!
Ek onthou nog dié dag... anders as die nota agterop die foto, dink ek dis geneem toe ons op pad terug was uit Botswana. ’n Vragmotor het ons opgelaai en die bestuurder was vreeslik vaak.

Toe hy naderhand agter die stuur aan die slaap raak, het ek agter die wiel ingeskuif en al die pad tot in Johannesburg gery – sonder ’n lisensie!

ONS SOEK OU KIEKIES
Het jy mooi ou swart-wit foto’s wat die storie van toeka se toere, gesinsvakansies of avonture vertel? Stuur dit gerus na suzaan.hall@media24.com.

* Hierdie artikel het in Weg #126 (April 2015) verskyn