“Die pas is genoeg om bangbroeke af te skrik om ooit na die binneland te reis... dis wild, skrikwekkend en uitermatig steil... ’n vreemdeling is verbaas as hy dit veilig oorsteek,” het kaptein Robert Percival, een van die leiers tydens die eerste Britse besetting van die Kaap, in 1801 oor die Gantouwpas (tóé die enigste roete oor die berge) geskryf.

Die Gantouw was basies ’n beespad wat die vroeë koloniste by die Khoi-veewagters oorgeneem het (dit het aanvanklik as die Hottentots-Hollandkloof bekend gestaan). In 1821 het 4 500 ossewaens deur dié kloof gekreun en een uit elke vyf (altesame 900) is in die proses beskadig.

Daarom het Sir Galbraith Lowry Cole, in daardie stadium die goewerneur van die Kaapkolonie, in 1828 vir colonel Charles Mitchell gevra om te kyk hoe die kloof verbeter kon word. Ná sy inspeksie het Mitchell voorgestel dat ’n splinternuwe pas suid van die kloof gebou word.

Sir Lowry was entoesiasties en het dadelik ingestem – iets waaroor hy later oor die vingers getik is, omdat hy nie eers amptelik toestemming uit Londen gekry het nie. Nadat die pas – wat na hom genoem is – op 6 Julie 1830 geopen is, is hy gewaarsku dat hy moontlik self die koste daarvoor, sowat £3 000, sou moes dra. (Dit sou hom vandag sowat R52 000 uit die sak jaag indien hy pa sou moes staan). 

Voorheen het dit 60 uur geneem om Swellendam met ’n ossewa te bereik, maar oor die nuwe pas kon ’n mens die afstand in net 30 uur kafdraf, omdat die pas ook gangbaar vir perdekarre was.

Foto Toast Coetzer

Vandag kan jy steeds die ou Gantouw-pas, wat tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar is, te voet volg en só selfs ook die waspore van ouds sien. Stop by die parkeerterrein van die Steenbrasdam aan die bopunt van die Sir Lowryspas en volg net die bordjies.

Bron: The Romance of Cape Mountain Passes deur Graham Ross.

Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #24 (Oktober 2006) verskyn. 

ONS SOEK JOU KIEKIES
Het jy mooi ou swart-wit foto’s wat die storie van toeka se toere, gesinsvakansies of avonture vertel? Of foto’s van hoe jou dorp destyds gelyk het? Stuur dit na suzaan.hall@media24.com, en jou foto verskyn dalk in die tydskrif.