Dis moeilik om te glo dat dié gewilde vakansieplekkie ’n eeu gelede ’n bedrywige hawe was waarvandaan hout na Kaapstad verskeep is. Trouens, soveel hout is hier weg dat daar twee hawens was. Die ander een was ’n entjie oos by Ballotsbaai, net anderkant die regterkantste koppie.

In 1777 het die Nederlandse Verenigde Oos-Indiese Kompanjie ’n buitepos hier gevestig om die kolonie van timmerhout te voorsien. Dit was egter gou duidelik dat twee hawens nie lewensvatbaar is nie.

Volgens inligting verskaf deur die George-museum kon slegs kleiner bote by die gevaarlike Victoria- en Ballotshawe vasmeer. En dit sou te duur wees om as kommersiële hawens te ontwikkel. Hout is eerder na Plettenbergbaai en Knysna vervoer, hoewel die Knysnakoppe tot vandag toe ’n gevaarlike seedeurtog is.

Intussen het ’n boer wat baie eiendom rondom Victoriabaai besit het, in die jare tagtig van die negentiende eeu die plek se toerismepotensiaal raakgesien.

Hy het grond gelyk gemaak om die strand meer toeganklik te maak vir baaiers. Teen 1910 (die swart-wit foto) is die baai as ’n openbare kampterrein geproklameer. In Desember 1929 moes kampeerders ’n permit by George se afdelingsraad kry en die tarief van twee sjielings en ses pennies per week betaal.

Oor die jare heen is die smal strandgebied verder gevul en deesdae kan jy bly in die woonwapark, vakansieoord of, as jy gelukkig is, in een van die vakansiehuise. 

* Inligting verskaf deur die George-museum.

• Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #46 (Augustus 2008) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien. 

ONS SOEK JOU KIEKIES

Het jy mooi ou swart-wit foto’s wat die storie van toeka se toere, gesinsvakansies of avonture vertel? Of foto’s van hoe jou dorp destyds gelyk het? Stuur dit na suzaan.hall@media24.com, en jou foto verskyn dalk in die tydskrif.