In September 2013 het ek – op 65-jarige ouderdom – ’n fietstoeravontuur van by die 1 200 km oor 15 dae aangepak, een wat enige relatief gesonde en fikse mens kan doen. Die idee was nie om iets heeltemal so taai soos die Cape Epic of ’n joBerg2c te trap nie, maar ek wou darem hê dit moet my ’n bietjie langer as ’n langnaweek besig hou.

Geïnspireer deur David Bristow en Steve Thomas se boek Riding the Dragon’s Spine, het ek besluit om van die weskus tot by die ooskus te trap.

Ek sou by die Atlantiese Oseaan by Kaapstad begin en daarvandaan met David en Steve se roete langs hou tot op Steytlerville in die Oos-Kaap – hulle het reeds al die stil agterpaaie en lekker blyplekke uitgesnuffel. En ek sou dan ook kon staatmaak op die heersende westewind van agter.

Van Steytlerville af sou ek verby my huis in Grahamstad trap, en klaarmaak met my voorwiel in die Indiese Oseaan, by die monding van die Groot-Visrivier. En dán sou ek myselfbeloon met ’n eet-tot-jy-omval laatontbyt by die Fish River Sun-hotel.

Dís hoe ek dit gedoen het.

Tot siens, kouefronte!

My avontuur begin met ’n rit af Kaap toe op die Baz-bus. Veral oorsese backpackers gebruik dié pendeldiens, en die diens het geen probleem om goed soos fietse, branderplanke en skaatsplanke in te laai nie.

Die Baz-mense het aanbeveel dat ek my fiets in ’n kartonboks pak – inderdaad goeie raad. Jy kan ’n boks en die nodige dinge om die raam te beskerm verniet kry by die meeste fietswinkels.

Die bus laai my af by die Long Street Backpackers in Kaapstad waar ek alleen in ’n slaapsaal is; dus oorgenoeg plek om my fiets aanmekaar te sit.

Kaapstad het ’n uitgebreide netwerk van fietsbane. Ek hoef skaars ’n blok te trap, toe is ek op ’n baan wat my heelpad tot by Bloubergstrand én nog verder teen die kus op kan neem.

By Blouberg stop ek eers en val iemand lastig om ’n foto van my te neem met my agterwiel in die Atlantiese Oseaan. In die proses raak my nuwe fietsryskoene papsopnat... Die aand slaan ek tent op by die Ou Skip-vakansieoord buite Melkbosstrand. Ná ’n rustige dag se trap sus die see my aan die slaap.

Teen dagbreek is die branders skaars hoorbaar bo die geraas van motoriste wat uit die omliggende voorstede stad toe aansukkel. Die besige paaie, smal skouers en aanhoudende verkeer laat my dink aan ’n vorige fietstoer op Nieu-Seeland se Noord-eiland.

Maar toe ek eers op die Ou Malmesburypad kom, raak dinge rustiger. By Malmesbury draai ek af op ’n grondpad en hou noord om Kasteelberg tot op Riebeek-Wes, waar ek by die Riebeek Valley-hotel afsaal.

Die volgende oggend is dit koel en die mis hang laag. Die Bergrivier is dof en spookagtig in die mis. Dit klaar egter op kort nadat ek hom oorsteek. In die Nuwekloofpas naby Tulbagh laat die kwaai verkeer (en die spoed waarteen mense ry) my hare rys, en ek mik eerder na die ou pad aan die ander kant van die rivier.

Op die bopunt loop dié pad dood teen ’n heining en ’n krans, maar danksy David en Steve se boek weet ek ek moet net ’n entjie terugry en dan die treinspoor volg – en my ore gespits hou vir treine – tot by die Tulbaghwegstasie, en dan verder tot op Tulbagh.

As deel van my navorsing het ek vooraf navraag gedoen oor toestemming om die ou wapad oor die Witzenberg te trap, wat my in kontak gebring het met die Wilkins-familie op ’n nabygeleë plaas. Hulle is ook kranige fietsryers en het my genooi om die aand by hulle deur te bring.

Deon Wilkins, my nuwe fietsrymaat, het aangebied om my tot by die begin van die wapad te vergesel. Hy neem gereeld deel aan groot bergfietswedrenne; dus is die pas “flink”.

Die wapad is deel van die Cape Epic-fietsroete, maar waar die Epic-fietsryers afry, ry ek nou op. En op. En op! Die afdraande aan die ander kant is darem ’n troos. Die res van die dag ry ek net maklike agterpaaie tot in die droë binneland.

Die Forgotten Highway Manor buite Ceres is ’n lieflike ou opstal en oornagplek, waar Johan en Stephanie Geldenhuys my hartlik verwelkom.

Agter die wind aan Karoo toe

Om te keer dat ek soos David en Steve in die boendoes verdwaal, trek ek kleinkoppie en vat die teerpad na Touwsrivier. Dis Sondagoggend en die pad is stil – selfs die paar kilometer op die N1 is skaflik. Die oppervlak is hemels ná al die grondpad en dit voel asof ek sweef.

Ek oornag in die Loganda Karoo-lodge op die dorp, waar die ontvangsdame vertel sy trek terug Kaap toe omdat sy nie meer die dronkenskap, bakleiery en dwelms van die Karoo-platteland kan verduur nie. Ek kry my kamer, sluit die deur, maak wéér seker dis gesluit en klim in die bed.

Die stuk platteland tussen Laingsburg en Barrydale is iets waaroor trappers soos ek droom. In die Anysberg-natuurreservaat kamp ek alleen, met ’n sak vuurmaakhout en ’n bier wat ’n ander fietsryer in een van die chalets vir my gee.

Die volgende dag maak die Anysberg plek vir die magtige Swartberg. Met die Seweweekspoortpiek aan die regterkant en ’n flouerige kouefront agter my, loop ek vir Ben Hunlum raak, wat my vir twee aande inboek in ’n kothuis op sy plaas Zandrivier, sowat 65 km van Laingsburg af.

Dis tyd vir ’n rusdag.

Trap jou eie Epic
Trap jou eie Epic

Maar my rusdag behels nie baie rus nie, want om die Seweweekspoortpiek, die hoogste punt in die Wes-Kaap, te klim is al ’n geruime tyd op my moetdoenlysie – wanneer sou só ’n geleentheid hom weer voordoen?

Sneeu het oornag soos ’n ligte lagie versiersuiker op die kruin gaan lê, en dis waarheen ek mik. Ek raak die pad ’n paar keer byster, maar kry uiteindelik die baken op die kruin, verwonder my aan die uitsigte, neem ’n paar foto’s en is weer om 3.30 nm. terug by die kothuis, waar Ben my bederf met tuisgebakte brood en koedoedroëwors.

Die ander ding op my lysie is om af te ry by Die Leer, die tradisionele roete tot in die Gamkaskloof (Die Hel) van die westekant af. Die Freedom Challenge-fietstoer loop ook hierdeur, en ongelukkig is daar ’n dispuut oor toegang. Party mense meen Die Leer is ’n tradisionele voetpad wat al geslagte lank gebruik word en behoort daarom vir almal toeganklik te wees. Ander sê weer dit is private grond en jy moet toestemming vra.

Ek het besluit om die vriendeliker opsie te kies, en met ’n enkele e-pos vooraf toestemming verkry. Karma was seker aan my kant, want toe ek by die Boplaas-gasteplaas in die kloof aankom, hoor ek my kampplek is opgegradeer na Die Stalletjie, hulle wittebroodskothuis – teen geen ekstra koste nie!

Wat Die Leer betref: Dis steil en beslis nie ’n plek vir ’n fiets nie. Ek het my fiets en fietssakke afsonderlik afgedra en heeltyd gevrees ek gaan die ratwisselaar flenters stamp teen ’n rots.

Die volgende oggend ry ek ’n deel van die berugte To Hell and Back-bergfietswedren se roete. Ná die stywe klim uit die Gamkaskloof is dit nóg ’n ent tot op Prins Albert – dit voel asof die pad vir ewig klim. Maar dis die moeite werd, en die rit teen die Swartbergpas af is groot sports.

Op Prins Albert boek ek vir twee nagte in by Colleen en William Penfold se Prins Albert Country Store. Ek is nou al meer as ’n week in die saal en dis tyd vir ’n behóórlike rusdag.

Ek het beslis die rus nodig gehad, want toe ek weer op my fiets klim, ry ek al die pad tot op Willowmore – 158 km – in een hap, waar ek oorbly in Rika Kantor se gawe Rika’s B&B.

Dit is lag-lag die langste skof wat ek nóg in een dag gery het, maar ek moet dankie sê aan ’n stormsterk wind van agter wat dit laat voel het soos iets tussen ’n rubberbootvaart en ’n vuurpylrit deur die Karoo.

Die gewone roete van Willowmore af tot op Steytlerville is met ’n sementpad, maar daar is ’n nóg mooier roete wat langs die Grootrivier deur die berge loop.

Halfpad kom jy by Fullarton, ’n treinhalte met ’n outydse dorpswinkel. Blykbaar loop daar nou net een trein per week hierlangs en hy stop nie meer hier nie.

Op die horison begin sien ek die bekende buitelyn van die Cockscombpiek – die huis kom nou ál nader. Op Steytlerville slaap ek by die Karoo Oasis Backpackers.

Die hart van die Oos-Kaap

Ná die grondpad tot by Kleinpoort is dit afdraande en teerpad – boonop saam met die wind – tot op Kirkwood.

Trap jou eie Epic
Trap jou eie Epic

Hier kry ek vir Yvonne van Tol, die vriendelike bestuurder van die Magnoliagastehuis-en-woonwapark.

Ek slaan my tent hier op. Dan mik ek na die Chameleon-restaurant vir aandete... en die legendariese malvalekkerkoek.

My plan is om die volgende dag tot op Riebeek-Oos te trap, maar ek maak eers ’n draai by die Zuurberg Inn vir koffie en ’n botterbroodjie op hulle grasperk.

Met nuwe energie pak ek die Zuurbergpas aan. Ongelukkig is hierdie historiese pad, waarlangs diamant- en goudmyners destyds na die binneland gereis het op soek na rykdom, in ’n haglike toestand.

My plan was om by die gerestoureerde Ann’s Villa anderkant die pas te oornag, maar hulle is volbespreek. Dus trap ek aan tot by my vriende Niel en Cary Clark, wat die Mooimeisies-gastehuis op Riebeek-Oos bestuur.

Hulle laat my toe om tent op te slaan in hulle agterplaas, waar ek al my eie “heupholte” het van vorige kuiers!

Daar is twee paaie van Riebeek-Oos af tot in Grahamstad. Die een wat ek kies, is korter en mooier, maar minder mense ry hom omdat daar meer grondpad is.

Donderdag teen laatoggend is ek by die huis, maar wag tot Sondag voordat ek die laaste skof tot by die kus aanpak – die paaie is altyd stiller op ’n Sondag. Daar is ongelooflike roetes wat ek van my voordeur af kan ry, en hierdie is een van hulle.

Ek ry by die Belmontvallei af met die Marindalepad, verby die Blaauwkrantz-treinbrug, oor die Kap, en dan vat ek die afdraande deur verskeie natuurreservate tot by die see.

By die Fish River Sun-hotel lê ek weg aan alles wat lekker is voordat ek oor die gholfbaan strand toe mik vir ’n laaste voorwiel-in-die-Indiese-Oseaan-foto. Dié slag bly my skoene darem droog.

Trap jou eie Epic
Trap jou eie Epic
Van see tot see
  • Kaapstad na Melkbosstrand (31,9 km)
  • Melkbosstrand na Riebeek-Wes (78,3 km)
  • Riebeek-Wes na Tulbagh (55,3 km)
  • Tulbagh na Forgotten Highway Manor (65,7 km)
  • Forgotten Highway Manor na Touwsrivier (52,6 km)
  • Touwsrivier na Anysberg-natuurreservaat (69,4 km)
  • Anysberg na Seweweekspoort (87,3 km)
  • Seweweekspoort na Die Hel (28,7 km)
  • Die Hel na Prins Albert (71 km)
  • Prins Albert na Willowmore (158 km)
  • Willowmore na Steytlerville (108 km)
  • Steytlerville na Kirkwood (119,3 km)
  • Kirkwood na Riebeek-Oos (126,9 km)
  • Riebeek-Oos na Grahamstad (39 km)
  • Grahamstad na die Fish River Sun (76,5 km)


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #115 (Mei 2014) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook