Verskeie geakkrediteerde bronne beweer dat voertuie se uitlaatgasse elke jaar vir meer sterftes verantwoordelik is as motorongelukke. Dit is moeilik om vas te stel of dit inderdaad die geval is – op geen doodsertifikaat sal jy immers sien die oorsaak van dood is “lugbesoedeling deur voertuiguitlaatgasse” nie.

Wat wel duidelik is, is dat voertuiguitlaatgasse ’n tasbare probleem is met verreikende gevolge vir die omgewing en ons gesondheid. In die meeste lande vereis wetgewing dat motorvervaardigers skadelike uitlaatgasse op ’n deurlopende grondslag verminder.

Slim ingenieurs in wit jasse en dikraambrille het die laaste klompie jare met vindingryke planne vorendag gekom om moderne voertuie omgewingsvriendeliker as ooit tevore te maak. Dit sluit dinge in soos positiewe krukkasventilering (PCV), direkte inspuiting, uitlaatgashersirkulasie (EGR), dieselpartikelfilters (DPF) en katalisators (CAT), om maar enkeles te noem.

Daar’s egter nie nét goeie nuus nie. In sommige gevalle is die ingewikkelde aard van die moderne en omgewingsvriendelike voertuig ten koste van betroubaarheid, bekostigbaarheid en voertuig-eienaarskap.

Die vordering in enjindoeltreffendheid het ook ’n groot uitwerking op uitlaatgasse gehad, en deesdae kry die behandeling van gasse ná verbranding baie aandag.

Daar’s egter nie nét goeie nuus nie. In sommige gevalle is die ingewikkelde aard van die moderne en omgewingsvriendelike voertuig ten koste van betroubaarheid, bekostigbaarheid en voertuig-eienaarskap.

Die dieselpartikelfilter (of dan DPF) is stellig die mees omstrede maatreël om uitlaatgasse minder skadelik te maak. En al hoe meer dieselvoertuie in Suid-Afrika word daarmee toegerus. Dié filters vang basies die roet (of partikelstof) wat oorbly nadat diesel verbrand het, in jou motor se uitlaatstelsel op.

Wanneer die filter “vol” is, word ’n proses in werking gestel wat die opgeboude roet verbrand. In die meeste gevalle is dit ’n outomatiese proses. Dié regenerasieproses verg egter sekere kriteria vóór dit begin. Dit sluit in dat die voertuig teen snelhede moet ry wat beslis nie veilig is vir iemand wat in die stad van die huis af werk toe ry nie. Dit vereis dus dat jy gereeld teen ’n vinniger spoed op die snelweg moet ry.

As dit nié gereeld gebeur nie, verander die regenerasieproses van passief na aktief. Dit sluit ’n stelsel in wat brandstof direk in die uitlaatstelsel spuit, vóór die DPF of selfs in die verbrandingskamer met die uitlaatslag.

Terwyl hierdie bykomende en onverbrande brandstof deur die oksidasiekatalisator beweeg, word hoër temperature in die DPF geskep en dit lei tot die verlangde regenerasie.

In sommige voertuie het jy selfs die vermoë om met ’n skakelaar die DPF-verbrandingsproses van stapel te stuur wanneer die waarskuwingsliggie skyn. Maar wanneer ’n DPF-stelsel onklaar raak of swak ontwerp is, sorg dit vir groot frustrasie – en duur en herhalende vervangingskoste.

Daar is baie redes hoekom DPF-stelsels onklaar raak, waaronder vuil brandstof, modifikasies aan die enjin vir beter werkverrigting, en die blote feit dat die voertuig nie gereeld genoeg vinnig genoeg ry nie.

Omdat die tegnologie nog so nuut is – en omdat dit haas onmoontlik is dat almal dieselfde gewoontes het wanneer hulle bestuur – sukkel voertuigvervaardigers om dit in die kol te kry. Toyota Australië sukkel tans met die DPF-stelsels op sy 2.8 GD6-turbodieselenjins wat in die Hilux, Fortuner en Prado gebruik word.

Ek is nie heeltemal oortuig dit is die vervaardiger se skuld nie, maar wil vir Toyota Suid-Afrika ’n pluimpie gee omdat hy nog terughang. Dit sal dom wees om DPF hier bekend te stel voordat al die probleme uitgestryk is.

As jy dit oorweeg om die CAT- en/of DPF-stelsel te verwyder het ek ’n waarskuwing vir jou: Dit is onwettig om dit in Australië en Amerika te doen en jy berokken die omgewing en ons almal se gesondheid ’n groot klomp skade.

As jy in ag neem wat ek oor die laaste ruk geleer het, voel dit egter of dit geregverdig kan word om die DPF te verwyder.

Dis ’n bietjie van ’n “slim vang sy baas”-situasie en dit voel vir my die voertuigeienaar trek aan die kortste ent. Hopelik sal die tyd leer hoe om hierdie stelsels meer betroubaar en gebruikersvriendelik te maak vir motoreienaars