LBJ’s (Little Brown Jobs) – is die term wat voëlkykers gebruik vir ’n klein, vaal voëltjie wat hulle moeilik kan uitken.

In Afrikaans staan hulle as KVV’s (Klein Vaal Voëltjies) bekend. Suider-Afrika het meer as 200 van dié geveerdes wat ’n mens nie sommer kan eien nie.

Daar is geen amptelike definisie vir hulle nie. Wat jy as ’n LBJ sien, hang af van jou voëlkykervaring. Maar die meeste voëlkykers stem saam dat hierdie voëls in vier kategorieë verdeel kan word: lewerike, koesters, tinktinkies en sangers.

Dan is daar die grensgevalle: heuningwysers, vlieëvangers, spekvreters, kapokvoëls, langstertjies, streepkoppies en bossangers. En wanneer die winterkoue kom, kan jy vinke, paradysvinke en flappe met hulle vaal kleedjies (nie-broeidrag) bytel.

Eintlik kan ’n kwart van plaaslike spesies as KVV’s gesien word. As jy deur ’n voëlboek blaai, gaan hulle jou nie juis inspireer om die verkyker op te tel nie.

Net omdat dié outjies vaal is, beteken dit nie hulle is nie interessant nie. Jy ken mos daai grappie van aantreklik en persoonlikheid...

Selfs gesoute voëlkykers gooi die handdoek in. Hulle reken dis net ornitoloë of voëlringers wat die voëltjie met die hand ondersoek wat tussen die vales kan onderskei.

Maar dié voëltjies het ’n manier om by jou te spook... skielik sien jy hulle óral. En hulle diversiteit is verstommend. Jy kan ure lank met ’n voëlboek sit en ’n voël probeer identifiseer, en dan beslis dis dié skets, of geen enkele skets nie! Of as jy besluit het dis ’n spesifieke spesie, is daar ’n meer ervare voëlkyker wat jou vertel dat daai spesie glad nie in die betrokke streek voorkom nie.

En dan praat ek nie eens van die nimmereindigende debatte van Facebook-groepe wat ’n sekere voël probeer identifiseer nie.

Hoekom dus enigsins probeer? Wel, net omdat dié outjies vaal is, beteken dit nie hulle is nie interessant nie. Jy ken mos daai grappie van aantreklik en persoonlikheid... Heel dikwels vergoed hulle mooi en komplekse sang vir hulle gebrek aan kleurryke vere.

Daarby is hulle “optredes” indrukwekkend genoeg om by die singery te pas. Sommige van die KVV’s is deels nagdiere, sommige skuil in knaagdiertonnels, ander kan die geluide van ’n honderd ander spesies naboots (Europese rietsanger), daar is dié wat neste kan bou wat tonne weeg (versamelvoël) en van hulle is parasiete wat hulle eiers in ander voëls se neste lê (blouvinkies).

Party leef in habitatte waar weinig ander organismes kan oorleef (Namakwalewerik), en ander bly sommer in PnP se dak (huismossie)! Ander bly hulle lewe lank in een vleiland, terwyl sekeres uit Rusland hier kom vakansie hou. KVV’s is inderdaad van die raarste en terselfdertyd van die volopste spesies ter wêreld. En dan is sommige in die groep só skugter dat jy nooit ooit een in jou voëlkykloopbaan sal sien nie.

Maar dié voëltjies het ’n manier om by jou te spook... skielik sien jy hulle óral. En hulle diversiteit is verstommend.

Ek is so mal oor KVV’s dat ek vier jaar van my lewe daaraan gewy het om die boek Chamberlain’s LBJ's oor hulle te skryf. (Faansie het ook meer as 1 400 sketse van dié vaal voëljies gemaak. – Red.)

Kom ons neem een spesie as ’n voorbeeld. Die oulike voëltjie op die foto is die bruinkeelbossanger. In die Bosveld kan jy kwalik nies sonder dat jy een versteur. As jy mooi luister, is hulle skril gesing (“twiee-twip-tie-tie-tie...”) byna so deurdringend soos ’n sonbesie s’n. Hulle is nuuskierig teenoor mense, maar aggressief teenoor ander voeltjies, en veral territoriale indringers van hulle eie spesie – moenie dat hulle klein lyfies jou flous nie. Familiegroepies hou gewoonlik in die doringkrone van bome op soek na insekte.

Eremomela (die Engelse naam) het ’n Griekse oorsprong en beteken rofweg “ ’n liedjie in ’n wilde plek.” Dis ook sy wetenskaplike naam. Die “bruin keel” verwys na die kleur wat oor die nek voorkom, maar dié eienskap wissel regdeur die jaar en soms is dit heeltemal weg!

Gaan ’n mens dan ooit enige KVV met sekerheid kan identifiseer? Wel, ek vertel meer in aanstaande maand se rubriek. Jy gaan binnekort net so dol wees op dié vaal outjies!