Behalwe vir ’n dagstap of twee staan daar nie veel op my en my vriend Christiaan Luus se stap-CV’s nie. Maar ons was lus vir ’n avontuur.

Ons het nie veel gedink oor watter veeldagroete om eerste aan te pak nie.

Die aangewese roete vir twee vreeslose jong mans was uiteraard die hoogste berg in die land: die Mafadi-spits (3 450 m) in die Sentraal-Drakensberg.

Met ’n bietjie raap en skraap kry ons die nodige toerusting in die hande – dis ’n wildernisstaproete en jy dra alles wat jy nodig het saam, ook ’n tent en matras. Nadat ons ’n kaart bekyk en opleeswerk op die internet gedoen het, voel ons ons is gereed vir die ding.

Die plan was om binne twee dae van die Injisuthi-ruskamp te stap tot bo-op die plato-rand, op die derde dag die spitse te klim, en dan binne twee dae terug te stap – sowat 50 km.

Ek vertrek die Maandagoggend van die Paasnaweek vanjaar uit Pretoria en Luus uit Ellisras. Die afgeleë Injisuthi-ruskamp lê weggesteek in die voetheuwels van die Drakensberg, rofweg 45 km suid van die dorpie Winterton.

Dit het onlangs goed gereën. Op die lang grondpad soontoe word ek en my kar getoets tot op ons fisieke en emosionele grense. My Toyota Avensis se instrumentepaneel flits soos dié van ’n gewonde vegvliegtuig. Ondanks die triestige weer en oormaat modder haal ek en Luus die kampplek.

Ons braai vir oulaas en gaan ons toerusting na. Luus besef hy het nie ’n lepel of vurk ingepak nie – hy sou sy Switserse weermagmes op maniere gebruik wat nie op die pamflet aangedui word nie. Die ervare stappers wat langsaan kamp, sê ons kan maar stap, al voorspel die weerberig dit gaan reën tot Donderdag toe. As jy in dié berge vir perfekte weer wag, gaan jy lank wag.

Ons vorder flink tot by die Klein-Tugela-rivier. Op die kaart lyk dit nie na ’n noemenswaardige rivier nie, maar vanoggend bruis dit soos ’n stroomversnelling verby ons. Gewoonlik is hier ’n kabel gespan vir stappers, maar dié dryf seker al lankal in die see.

Ons bind ons broeke en skoene aan ons rugsakke vas. Gelukkig het Luus lank as ’n roeigids gewerk op die Sabierivier. Hy ken dus van snelle waters en kry vir ons ’n alternatiewe plek om die bruisende watermassa oor te steek.

Ons beur voort deur digte riete wat ons vol druppels spat. Ons kruis nóg twee strome. Later loop ons skoene en al deur – dis sinloos om te probeer droog bly.

Ná sowat 8 km staan ons aan die voet van ’n berg. Jy betrag die spits en berei jou sielkundig voor... maar sodra jy by dié een kom, vou ’n byna identiese toneel voor jou oop – jy’s nou by die voet van nóg ’n berg.

So gaan dit voort: Spits op spits totdat ons uiteindelik – výf uur later – by die vervalle Centenary-hut uitkom.

Ons slaan kamp op, hang ons nat klere buite en eet oorskietbraaivleis en baked beans. Die dag word afgesluit met ’n koppie koffie; ons voel koud, nat en ontnugter. Ondanks die onderliggende vrees vir wat voorlê, voel ek dankbaar om hier te wees. 

Die eerste aand se kampplek by Centenary-hut.

Die volgende oggend rits ek my tent oop; dit reën en die wind waai. Ek trek my nat tekkies en sommer my swembroek aan – dié neongeel broek sal sake vergemaklik vir die soekgeselskap, wat in dié stadium onafwendbaar lyk.

Toe ek ’n rukkie later uit die tent klim, het die weer effens opgeklaar en groet ’n besonderse uitsig my: Goue grasvelde strek tot onder by ’n groen vallei met golwende heuwels.

Nou ja, voorwaarts, mars! Ons klim vinnig die steil helling tot by die kontoerpad uit en stap met dié pad tot by Corner-pas. ’n Paar vlugvoetige ribbokke maak ons opnuut bewus van hoe lomp ons eintlik is.

Die Corner-pas is nie ’n paadjie nie, maar ’n skerp geut in die kranswand. Water stroom by die geut af. Gelukkig is ons skoene reeds nat. Op pad boontoe gly ek op die rotse en val agteroor op my rugsak – tot Luus se groot vermaak. Buiten ’n gekneusde ego is ek ongedeerd (ek sou eers later die couscous-ontploffing in my rugsak ontdek).

Namate jy hoër klim en klouter, word jou lyf moeër en die lug dunner. Jy voel duiselig. Ons het grootgeword op die dorpie Kiepersol naby Hazyview. Laeveldkinders is eenvoudig nie gemaak om só hoog bo seespieël te funksioneer nie.

Ná sowat drie uur strompel ons tot bo-op die platorand. Wie sou kon raai dit sou so lank vat om skaars 1,5 km te vorder! Uitgeput plof ons op die grond neer. Boeliebief, boontjies en koffie is op die spyskaart.

Ons het ’n papierkaart van dié deel van die Drakensberg, maar ons navigeerwerk blyk nie op peil te wees nie, en die Upper Injisuthi-grot bly soek. Die selfoon se GPS spoor wel later die grot op.

Die grot is ’n puik skuiling en ons klere word droog. Boonop is die uitsigte iets wat net ’n kunstenaar sou kon vaslê.

Luus is onseker oor hoe om die Corner-pasboggel te trotseer.
Byna aan die bopunt van Corner-pas.
’n verligte Luus met die Corner-pas in die agtergrond. Hierdie is kort nadat ons die kontoerpad verlaat het.

Vanoggend stap ons al langs die kranswand en eers oor die Injisuthi- en dan oor die Mafadi-spits. Hier bo is dié pieke net koppies en ons stap albei gemaklik uit. Die uitsigte is onbeskryflik mooi. Jy sien berg op berg op berg...

As jy die moed het om op die randjie van die kranswand te staan en oor leun en af te kyk, sien jy arende sweef en aasvoëls wat doer onder jou stewels draai. Jy staan hoog bo die kransduiwe se neste; selfs bo die wolke.

Ons slaap vanaand by die Marble Baths-poel onder in die vallei, maar eers moet ons af by Leslie se Pas.

Weer eens kronkel hier nie ’n paadjie teen die platorand af nie; die “pas” is bloot die enigste plek teen die helling wat begaanbaar is – én ’n stroom vloei daarlangs. Jy klim rem-rem teen die helling af. Die stroom vloei ál sterker soos wat die sytakke daarby invloei. Eina, my knieë!

Onder in die vallei slaak jy ’n sug van verligting, maar steeds is die einde nie in sig nie. Jy sukkel op kronkelpaadjies deur die digte plantegroei. Uiteindelik bereik ons Marble Baths waar ons tot verhaal kom – ons swem en span uit op die rotse. Sowat ’n uur later kom ’n figuur aangestap. Dis die eerste en enigste mens wat ons langs die roete teëkom. Dié vrou van Pretoria stap alleen ’n ses dae lange roete deur dié berge! My keel trek skoon toe as ek daaraan dink.

Die uitsig uit die grot op die derde dag.

Ons vorder goed die laaste oggend. Ná ’n paar stroomkruisings kom ons weer uit by die paadjie waarop ons begin het. Ek kry eintlik lag oor die naïewe bravade waarmee ons dié tog vier dae gelede aangepak het.

Die staptog was ’n behoorlike inlywing tot wildernisstaproetes. Dit was rof, maar dit was beslis nie die laaste keer nie.

Weet voor jy waai

Jy betaal ’n eenmalige bewaringstarief van R40 p.p. en R70 p.p.p.n. vir die oornagstaproetes.

Kampplek sonder krag in die Injisuthi-ruskamp kos vanaf R100 p.p.

Pryse styg op 1 November. Kontak 036 431 9000 (Injisuthi); 033 845 1000; kznwildlife.com

Wenke
  • Vermy katoenklere – dit absorbeer water en word nie gou droog nie. Dra eerder sportklere. En pak ekstra sokkies.
  • Koop ’n kaart. Dis die uKhahlamba-Drakensbergpark se Giant’s Castle-Injisuthi-kaart (stapkaart no. 3). Maak seker jy verstaan presies hoe die roete loop. Glo dit of nie, maar daar is selfoonontvangs by die Centenary-hut en plek-plek langs die platorand. Oorweeg om ’n kaart-app soos Komoot ( komoot.com) af te laai.
  • Ons het ’n Stanley-fles saamgedra waarin jy moerkoffie kan maak. Dit was nie die beste besluit nie, want dis groot en swaar om saam te dra. Indien jy glo koffie is noodsaaklik vir die werking van alle neurologiese funksies, vat liefs een van daardie silwer Italiaanse espressopotjies saam.
  • Die weer kan gou verander; pak dus genoeg warm klere.
Vertel ons van jou avontuur!

Was jy op ’n vakansie wat jy dink ander Weg-lesers ook sal geniet? Skryf oor die ervaring en ons publiseer dalk jou storie. Hou dit asseblief kort (maksimum 1 500 woorde) en stuur ’n paar voorbeeldfoto’s.

As ons wel besluit om die storie te gebruik, gaan ons oorspronklike hoëresolusie- foto’s nodig hê; maak dus seker jou kamera is op die regte verstelling.

Stuur jou storie na redakteur@weg.co.za. Ons behou die reg voor om jou foto’s elders in die tydskrif, op ons webblad of in bemarkingsmateriaal te gebruik. Lees die bepalings en voorwaardes by weg.co.za