Diegene wat al in die winter in die Hantam was, sal weet: ’n Hantamwinter speel nie gewoondmaakspeletjies nie. Hy klop aan sonder waarskuwing, en is sommer ongeskik ook. Die ryp lê skielik een môre spierwit gesaai op die grasperk met die eerste kouefront wat nog nie eens behoorlik sy doringdraad oor die Kaap kom gooi het nie. Die water in die pype vries sodat die krane eers teen laatoggend, wanneer die son houding kry, begin gorrel en spoeg. Drinkbakke vries, selfs groter dammetjies ook. Winters is ongeskik, érg ongeskik koud in die Hantam.

Iewers op ’n plaas in dié koue Hantam boer ene tannie Sarie en oom Herklaas nou al donkiejare.

Laat in April al, toe die eerste kouetjie oortrek, begin Herklaas mor. “Vrou, ek kry koud, sommer ín-koud,” kla hy. “As ek doudagmôre vir Janneman wil gaan help om die suiplammers uit te keer na die lammerkamp toe, dan pýn my bene.”

Hoe lank al probeer sy die oom ompraat om lang onderbroeke te dra, dink tannie Sarie in haar stilligheid. Maar sy weet hoe oom Herklaas voel oor lang onderbroek dra. Jy sou sweer jy vra hom om ’n balletrokkie aan te trek.

Sy simpatiseer soos dit ’n goeie, ondersteunende vrou betaam. Sy staan by. Die vuurherd word ekstra gestook sodat hy sy verkluimde ledemate kan ontdooi. Maar tannie Sarie begin die aas so effentjies uitgooi. “Jaaa, ou man, dit ís vanjaar ekstra koud.”

Dis natuurlik nie heeltemal waar nie, maar sy durf tog net nie beweer dat oom Herklaas se rumatieklitte met die ouderdom minder bestand raak teen die aanslae van die elemente nie. O wee, o nee.

“Ons sal moet dink aan ’n plan om jou bene warm te kry,” konkel tannie Sarie oor haar skouer terwyl sy ’n pot sop met die houtlepel staan en roer.

So kla en kreun oom Herklaas die ganse winter deur. Rittel en bewe. Tannie Sarie weet dat die probleem eers krisisafmetings moet aanneem voordat die oom na haar sal luister.

Teen Maart in die nuwe jaar kom kuier hulle dogter Susan op die plaas. Susan laai die probleem netjies op haar ma se skouers, asof tannie Sarie nie toe al lankal begin krom loop het onder die vrag nie.

“Ma, vanjaar móét Ma die langonderbroek-storie aanroer; Ma kan nie toelaat dat Pa weer so koudkry nie.”

So kla en kreun oom Herklaas die ganse winter deur. Rittel en bewe. Tannie Sarie weet dat die probleem eers krisisafmetings moet aanneem voordat die oom na haar sal luister.

Susan weet net so goed soos haar ma dat dit nie net vir “storie aanroer” is nie: Die spoor moet eers wyd gevat word. Dit verg fyn trap en baie ompaaie loop, want vir Pa Herklaas boelie jy nie in ’n ramkamp in nie — hy moet self soontoe koers kry. Met die eerste winterknyp in die lug, roer sy toe die langonderbroek-kwessie aan.

“Almal sê ’n lang onderbroek is so lekker warm,” praat tannie Sarie so in die verbygaan met oom Herklaas, “As jy dit eers dra, is ’n mens is glo spyt jy het nie vroeër al daaraan gedink nie.”

Ontploffing. “Vrou, as jy vir een oomblik dink dat ek so... so ’n spektakel van myself sal maak... Nie eens Janneman sal ooit so iets aan sy lyf trek nie — en hy is drie jaar ouer as ek!”

’n Week later probeer sy weer.

“Weet jy, ou man, Klein-Gert van Biesieslaagte het dit al verlede jaar begin dra. Sy vrou het dit self vir my vertel.”

“Julle vrouens praat heeltemal te maklik onder ’n man se bo-klere uit,” keer oom Herklaas. “As jy dit darem sou waag om só iets van my oor te vertel...”

So bly die oom koudkry, hardkoppiger as ooit tevore.

Toe die volgende kouefront wat in aantog is, op die TV-weervoorspelling flits, kom die verbode onderwerp nogmaals ter sprake. “Niemand hoef te weet jy dra dit nie,” paai die tannie. “Ek sal dit natuurlik nie oorvertel nie — nie eens Janneman hoef daarvan te weet nie.”

Dié slag is die antwoord net ’n  onderlangse gebrom. Aa, dink tannie Sarie, kan dit wees dat daar net so ’n effense windkrakie in oom Herklaas se weerstand te bespeur is?

Twee oggende later hoor sy hoe kraak die ryp onder Herklaas se skoene terwyl hy op pad terug is van die kraal af. Met die inkomslag weet sy: Dis nou of nooit.

Maar Herklaas spring haar voor: “Vrou, miskien moet ek maar die... die affêre aanskaf. Maar ons koop dit nie in die winkel langs die koöperasie nie. Klein-Gert loop gedurig vir kwaadgeld daar rond, en as sy vrou dit eers weet... En jy sorg dat jý daarvoor betaal. Ek loop onder geen omstandighede in die winkel rond met die goed in my hande nie.”

Tannie Sarie laat nie die oomblik verlore gaan nie. ’n Kwartier later is hulle in die bakkie en op pad na die buurdorp om die kanse te verminder dat hulle ’n bekende raakloop gedurende dié uiters sensitiewe koopuitstappie.

Oom Herklaas wil ook nie toelaat dat die tannie alleen ingaan om sy lang onderbroeke te koop nie, al ken sy sy grootte. Nee, die dierbare, hardkoppige man glo hy moet self eers sy klere aanpas.

Met die instap by die eerste winkel steek oom Herklaas viervoet vas. By die betaalpunt werk Jasper Grootdraai se oudste dogter, Comien! Oom Herklaas sis dringend in tannie Sarie se oor: “Nie hier nie!”

Sy maak toe maar of sy tussen die vroueklere rondsoek terwyl hy hom probeer koudlei naby die deur.

By die volgende klerewinkel lyk dit veilig. Met twee lang onderbroeke vir die oom, en sommer ’n truitjie wat die tannie kamtig wil aanpas, is hulle saam by die aantrekhokkie in.

Oom Herklaas trek uit... en toe staan hy met die lang onderbroek in sy hande. “Moet ek die ding nou oor my gewone onderbroek aantrek, of moet ek heeltemal kaal uittrek?”

Hy kyk weer of die deurtjie se grendel goed ingehaak is. Ná ’n groot gesukkel en baie onderlangse kommentaar en verwensings is die lang onderbroek aangetrek. En dit pas!

Toe kyk oom Herklaas in die spieël. “Vrou, is dit ’n betaamlike ding om te dra? Hy klewe dan aan my soos... soos... Ek skaam my dood!”

Hy raak skoon rooi in die gesig.

Dit kos baie mooipraat, soebat, flikflooi en versekering dat niemand dit sal sien nie. Hy dra dit mos onder sy langbroek.

Tannie Sarie moet plegtig belowe dat sy dit met wasdag aan die draad op die agterstoepie sal ophang waar ’n onverwagte kuiergas nie per ongeluk daarop sal afkom nie – en waar Janneman nooit verbyloop nie.

Hulle vorder tot by die betaalpunt. Oom Herklaas kies solank koers deur toe terwyl sy vrou betaal. Hier moet hy uit, en vinnig ook.

Tannie Sarie moet plegtig belowe dat sy dit met wasdag aan die draad op die agterstoepie sal ophang waar ’n onverwagte kuiergas nie per ongeluk daarop sal afkom nie – en waar Janneman nooit verbyloop nie.

Hulle sien hom gelyk: ds. Gerritse. Wat maak hy hier? Tannie Sarie se gedagtes galop só vinnig dat hulle net hier en daar grond vat. Die dominee sien nie dadelik vir oom Herklaas nie en pyl met ’n uitgestrekte hand en vrome glimlag op tannie Sarie af.

Oom Herklaas sien egter wat kom. Die lang onderbroeke lê soos twee wit lammers op die toonbank. Die kassier sloer met die kleingeld.

Die oom bewys dat hy op sy oudag nog ’n ramp betyds kan opsom én afweer. Sy stywe litte is skielik weer geolie, en hy gly blitsig oor die winkelvloer, links van ’n rak kouse verby, tot rég in die pad van ds. Gerritse.

Hy keer vir dominee af, soos hy al so dikwels in die verlede met ’n steeks hanslam moes doen. “Dag, dominee!” sê hy. Die groetkreet is op die sekonde betyds, en die twee lang onderbroeke gly ongesiens in die inkopiesak in.