Die toerismesektor dra byna R140 miljard regstreeks by tot die Suid-Afrikaanse ekonomie. Dit is volgens ’n skatting in 2018 van die Wêreldreis- en-toerismeraad. Onregstreekse inkomste – dus deur verwante aktiwiteite – beloop ’n verdere geskatte R280 miljard. Die aandeel van binnelandse toerisme is 55% van die totale toerisme-inkomste (wat neerkom op ongeveer R231 miljard). En dan verskaf dié sektor 1,5 miljoen werkgeleenthede.

Die aankondiging van ’n toerismeverligtingsfonds aan die begin van die inperkingstyd wys egter duidelik die kampbedryf is nié op die owerheid se radar nie. Slegs vasteverblyfplekke met ’n omset van minder as R2,5 miljoen per jaar sal moontlik bystand kry, terwyl kampplekke nie genoem word nie.

Verder sal alle toerisme-ondernemings eers met fase 1 van die staat van inperking toegelaat word om hulle sake te hervat ,en dit is iets wat dalk eers baie later vanjaar gaan gebeur.

Aan die einde van April het burgerregtegroepe hofstukke ingedien in ’n poging om die minister tot halt te roep wat betref een van die mees omstrede voorwaardes: Wie is die eienaar?

Die fokus is blykbaar (en dalk onbewustelik) om ondernemings te steun wat buitelandse of gegoede stedelike toeriste bedien. Die pandemie gaan egter ’n enorme afname in inkomende toerisme veroorsaak. Die ganse mensdom is in ’n staat van groot skrik, en lang vlugte gaan nie gou gewild wees nie.

Die kampbedryf bied duisende regstreekse en onregstreekse werkgeleenthede.

Die fokus op korttermyn behoort eerder te wees om toerisme-ondernemings op die platteland staande te hou. Ek glo kwalifisering vir verligting van die staat moet gegrond wees op die potensiële bydrae tot binnelandse toerisme en nié buitelandse toerisme nie.

Die behoud van werkgeleenthede en die bydrae tot die plattelandse ekonomie moet prioriteit geniet. Die kampbedryf bied duisende regstreekse en onregstreekse werkgeleenthede en ’n inkomste aan tienduisende afhanklikes. Die prentjie rondom armoede en werkloosheid op die platteland is reeds uiters somber.

Dis egter ’n groot kopseer om te bewys die kampbedryf lewer ’n beduidende bydrae tot die totale toerisme-inkomste. Statistieke Suid-Afrika bereken die kampbedryf se direkte aandeel is 1,2% (R2,7 miljard van R231 miljard) van die totale binnelandse toerisme-inkomste.

Ek glo egter hulle berekening is krom en skeef. Hulle het byvoorbeeld ’n baie klein databasis wat net ’n paar honderd kampterreine insluit, terwyl daar beslis meer as ’n duisend in bedryf is. As hulle net gegradeerde woonwaparke insluit, gee dit eweneens ’n skewe prentjie, want minder as 100 van hulle het ’n amptelike gradering.

Jare gelede het ek probeer om Statistieke SA sover te kry om hulle databasis aan te pas. Hulle sou dan, in samewerking met die nasionale departement van toerisme akkurater berekeninge kon maak oor die bedryf se bydrae tot toerisme-inkomste en die getal werkgeleenthede kon probeer bepaal.

Hulle het min aptyt vir dié voorstel gehad omdat hulle net sal saamwerk met ’n entiteit wat die hele kampbedryf verteenwoordig. Wat dus tans nie in die kampbedryf se guns tel nie, is die feit dat die owerheid ’n baie skewe beeld het van hoeveel kampplekke daar is, hoeveel werkgeleenthede bestaan, of wat kampering se bydrae is tot die ekonomie van dorpe soos Bela-Bela en streke soos KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap en Wes-Kaap.

Die kampeerbedryf het dringend ’n entiteit nodig wat sy welstand en welvaart moet bevorder. Dis egter ’n ope vraag waar die befondsing daarvoor vandaan gaan kom. Intussen is daar wel agter die skerms planne om die kampbedryf ten minste ingesluit te kry by die vorme van verblyfplekke wat moontlik kan kwalifiseer vir verdere ondersteuning. Kom ons hou duim vas dit is suksesvol.

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. 

Volg ons op die YouTube-kanaal  WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook