In die middel van daai driehoek is die Namibvallei van ’n Duisend Heuwels. Dis ’n skouspelagtige wildernis op die rand van die Namib-Naukluft- nasionale park.

Dit was egter minder indrukwekkend toe Willem van der Berg, sy vrou en drie vriende een middag hier opgedaag het. Die groep was effens laat omdat Willem ’n afdraai gemis het. Hulle wou kamp, en ’n vreeslike wind het gewaai. Tent opslaan was ’n nagmerrie.

Genadiglik het die wind in die nag bedaar en die kampeerders is die volgende oggend deur dié sonsopkoms gegroet. “Elkeen van ons was verstom,” vertel Willem, “en ek dink nie ek het al ooit só ’n magiese sonsopkoms gesien nie.”