Die BP in die naam het niks met brandstof uit te waai nie. Dit staan vir Bernardo Pedro, wat die winkel in die laat jare sewentig begin het. Sy seuns, Wayne en Bernard, bedryf dit nou – hulle groot sakebelang is eintlik ’n visfabriek, maar die vis-en-tjips-winkel se legendariese status in die streek het gesorg dat dit deel van die familiebesigheid bly.

Stap in en jy’s klaar voor die toonbank. Behalwe vir ’n paar Coke-advertensies en ’n skildery wat visvang uitbeeld, is hier geen tierlantyntjies nie. Agter die toonbank vlyt vinnige vingers, soos dié van Janet Owies, wat al meer as 30 jaar hier werk. Sy weet hoe jy ’n stuk vis kundig toevou in ’n vel papier, so asof jy ’n truitjie daarvoor aantrek sodat jou pakkie knus bly totdat jy dit later weer op jou skoot oopvou om die geur in te adem.

“Ons bedien net die beste, en berei net op een manier voor, en dis die regte manier,” sê Bernard. Hulle gebruik nie kitstjips nie, en gooi ook nie snaakse speserygeursels by nie.

“Ons bedien net die beste, en berei net op een manier voor, en dis die regte manier.”

Vis-en-tjips kos rondom R35 vir snoek met tjips of R40 vir stokvis met tjips (jou stuk vis word geweeg en jy betaal dan per gewig). Jy kan ook bevrore seekos koop soos garnale (R151,60 vir 800 g), knoffelmossels (R53,10 vir 500 g), calamari-tentakels (R111,60 vir 800 g) en stokvisfilette (R470 vir 5 kg). Gerookte en gedroogde vis (bokkoms) is ook beskikbaar.

Hier’s ook ’n rak met konfyte soos druiwe (R51,70 vir 260 ml) of vye (R62,10 vir 260 ml). ’n Verskeidenheid olywe kos vanaf R44 tot R97. Ingelegde kerriebone: R54,30 (375 ml).

Vat jou pakkie plesier en parkeer jou kar waar jy kan uitkyk oor die hawe. Pasop net vir die seemeeue, want hulle hou ook van BP Marine!

Waar? In die hawe (jy betaal R5 om in te gaan by die hawehek)

Oop Maandag-Vrydag: 8.30 vm.-6.30 nm.; Saterdag: 9.30 vm.-6 nm. Toe op ’n Sondag.

Kontak 022 736 1246