Die kans is goed dat jy honger gaan wees as jy die dorp binnery, en Die Kliphuis Koffiekan is net die plek om die saak reg te stel.

Die beskeie buitekant op Meintjiesstraat steek ’n binnehof aan die agterkant weg, waar jy ’n koppie koffie kan drink en ’n wafel met roomys en stroop (R30) kan eet, of iets met meer lyf kan bestel – soos die Mega-ontbyt (eiers, spek, tamaties, varkworsie, tjips – alles; R80). Die spyskaart het ook Franse roosterbrood (R45) en benedicteiers (’n redelike R35). Die uitgebreide middagetespyskaart sluit in: geroosterde toebroodjies (vanaf R20), roosterkoek (vanaf R55), burgers (vanaf R50), pizza (vanaf R80) en ander goed soos lendeskyf met slaai (R80) en lamskerrie met rys en tuisgebakte brood (R60).

Hier is parkeerplek en ’n lekker speelplek met ’n outydse rondomtalie. Jy gaan dalk sukkel om weer in die pad te val – jy gaan jou kinders van die staalperdjies moet aftel. Net nog een keer, Ma!

Waar? Meintjiesstraat 8 (GPS S31.49939 E25.00491)

Oop Maandag tot Vrydag: 8 vm.-5 nm.; Saterdag: 9 vm.-2 nm.; gesluit op Sondae.

Kontak 049 842 1194; “Die Kliphuis Koffiekan” op Facebook