Kom sit aan in die blinknuwe proelokaal en kyk eers die proespyskaart goed deur – hier’s keuses in oorvloed: Die vier neefs het omtrent gewoeker. Deesdae maak hulle – buiten wyn en vonkelwyn – ook boetiekbier (Boet-bier) én whiskey. Die Zari-reeks nie-alkoholiese wyn is ook hier te koop.

Die proekombinasies van wyn, whiskey, bier... en allerlei versnaperinge is te prettig – van biltong en olywe tot Turkse lekkers en Zoo-koekies! Hier’s ook ’n proekombinasie vir kinders, met druiwesap en jellielekkers (R35).

Daarna kan julle aanstap na die restaurant vir ’n alkoholiese melkskommel – ’n Marshmallow Pop (R45) of Cookies & Cream (R45) – en pizzas, hamburgers, wraps, slaaie, steak, calamari... glo my, almal aan die tafel se kos lyk ewe smaaklik!

Sit binne of buite onder groot koeltebome terwyl die kinders op klimrame en ’n John Deere-trekker speel. Ná ete bring die kelnerin saam met die rekening ’n glasie rooi muskadel – op die huis! 

Oop

Proelokaal:

Weeksdae: 8.30 vm.-5.30 nm. (wynproe tot 4.30 nm.)

Saterdag en openbare vakansiedae: 9.30 vm.-4 nm. (wynproe tot 3.30 nm.)

Sondag: 11 vm.-3 nm. (wynproe tot 2.30 nm.)

Restaurant:

Maandag-Saterdag: 8.30 vm.-9.30 nm.

Sondag: 8.30 vm.-5 nm.

Openbare vakansiedae: 8.30 vm.- 5 nm.

Kontak 023 615 1505; www.fourcousins.co.za