Laasgenoemde kan enigeen wees – taxibestuurder, polisieman, die eienaar van die ysterwarewinkel oorkant die straat, of wie ook al die dorp binnery in sy skedonkbakkie (altyd wit, gewoonlik ’n Nissan).

Masisi is ’n dorpie langs die R525 wat die N1 met die Krugerwildtuin se Pafurihek verbind. Masisi is 19 km van die Pafurihek af en dis juis wat JuJu se Spazawinkel die perfekte plek maak vir ’n wegneem-braaihoendertjie vir padkos op pad terug huis toe ná jou kuier in die wildtuin.

Hoe lekker is die hoender? Dit so lekker dat jy skoon die kluts kwyt raak! Ek het daarvan geëet en moes eenvoudig die volgende dag teruggaan – selfs al was ek glad nie honger nie. My mond het bloot begin water by die blote gedagte aan die braaikiepie.

Julia beskik oor ’n paar geheime speserye en sousies, en sy braai die hoender sta-a-adig om ’n egalige gaarmaakproses te verseker. Jy kan ’n kwartkiepie vir R45 bestel, ’n halwe een vir R60 of jy kan oorboord gaan en ’n heel hoender vir R110 bestel. Die maaltyd sluit pap en sous in, en gewoonlik kan jy nog ’n ander bykossie inreken soos chakalaka, marogo (heerlike spinasie!), aartappel- en beetslaai. Tafels en stoele is onder dak; dus sal jy en jou hoendertjie nooit nat word nie.

Waar? As jy Masisi van die Krugerwildtuin se kant af binnekom (die oostekant), begin solank uitkyk vir ’n bordjie wat die rigting tot by JuJu se Spazawinkel aandui. Dis omtrent 100 m suid van die R525. As jy die dorpie uit die weste benader, lê Masisi 108 km met die R525 nadat jy die N1 verlaat het.

GPS: S22.42119 E30.86171

Oop: Elke dag van 5.30 vm. tot 6.45 nm.

Kontak: 076 708 3714 (Julia)

Weg Agterpaaie Bosveld
JuJu’s Spaza Shop maak ’n verskyning in een van die episodes van ons nuwe TV-reeks, Weg Agterpaaie Bosveld. Hou Via (kanaal 147 op DStv) dop vanaf 28 Februarie om 5.30 nm. vir Toast en Sophia se avonture in die Bosveld.