Die eienaar, Mareli Meyer, het in die omgewing grootgeword en die geleentheid aangegryp om ’n eetplek langs die Orange Elephant-backpackers oop te maak. “Die backpackers bedien nie onbyt nie, en ons is ’n ontbytopsie vir die mense – meestal toeriste – wat daar oorbly,” sê sy.

Marley’s is net buite die dorpie Addo en bied wat die naam sê: ontbyt. Die spyskaart is sonder fieterjasies, maar goeie waarde vir geld: Hou dit eenvoudig met ’n Early Bird-ontbyt (R30 vir spek, eier en roosterbrood) bou jou eie omelet (R15 vir 2 eiers, en vanaf R5 per vulsel), of gaan groot met die Farmhouse-ontbyt (R70 vir spek, eiers, boerewors, skyfies, tamatie en roosterboord).

In die somer is hier ook smoothies en vrugte met jogurt op die spyskaart. Daarsy, nou is die hele gesin reg om te gaan olifante soek!

Oop Dinsdag-Sondag 7.30 vm.-11 vm. (September-April); 8 vm.-11 vm. (Mei-Augustus)

Waar? Langs die R335 (die Patterson-pad) aan die regterkant van die pad, sowat 2,5 km ná die R336-afdraai (van Port Elizabeth se kant af). Van hier af is dit 8,5 km tot by die hoofhek van die Addo-olifantpark.

Kontak 082 870 0322 (Mareli); marleys.cafe@outlook.com