As jy ’n jaar gelede hier by die Ossewa-padstal verbygery het, het jy nie ’n padstal gesien nie, maar ’n stoor wat besproeiingsgoed verkoop. Intussen moes dié besigheid sy deure sluit, en Fritz en Mara van Staden (en hulle dogter Marna), het hulle gewig agter die Ossewa-padstal gegooi.

Ossewa het vinnig naam gemaak, waarskynlik omdat hulle sulke vriende-like mense is (jy word met die hand gegroet), maar ook omdat hulle pasteie vreklekker (en groot, én vol vleis) is, die gemmerbier jou nie “koliek of maagkrampe” sal gee nie en die kinders in ’n speelarea kan klouter voordat julle die volgende skof Port Alfred toe ry.

Mara en haar kombuisspan probeer ook dinge interessant hou. “Ek raak gou verveeld en bak dan nuwe goed,” sê sy. “Daarom maak ek nie net beskuit nie, maar eksperimenteer met goed soos grondboontjie- of cappuccinobeskuit.”

Behalwe die pasteie is ander hoogtepunte die roosterkoekburger (R85, met aartappelwiggies) en die omelette (vanaf R55). Die pasteie (bees, hoender, bobotie, vlakvark én vegetaries) is beskikbaar in gewone grootte (R30) en Ossewagrootte (R40, genoeg vir twee mense). Jy kan bevrore pasteie koop en inpak, of hier eet – R20 kom dan by die pasteiprys omdat jy aartappelwiggies of slaai daarby kry. Melkskommels kos R35-R48, koffie vanaf R25.

Ander produkte sluit in heuning uit die distrik (R70), Mara se blatjang (R55) en tamatiebrediesous (R55), Mara se koekies (R50-R65) en beskuit (R48), pekanneute uit die Visriviervallei (R30), droëvrugte, biltong en droëwors, asook konfyt en allerlei geskenkies.

Maak ook tyd om deur Mara se vetplantkwekery te stap – hier is besonderse plantjies te koop. Jy kan so min as R50 betaal vir ’n plantjie wat maklik kan saamry terug Pretoria toe.

Hoe ry ek? 14 km (gemeet van die koöperasie af) suid van Cradock langs die N10.

Oop Ma.-Vr.: 7.30 vm.-4.30 nm.; Sa. en So.: 7.30 vm. tot sowat 2-3 nm. afhangend van hoe besig dit is.

Kontak 048 881 3107; Volg ook “Ossewa Padstal En Vetplant Kwekery” op Facebook sodat jy kan sien wanneer iets onverwags (soos heuningkoek) op die rak beland.