En die R56 tussen Middelburg en Steynsburg ís ’n agterpad, selfs al is dit ’n teerpad. (Jy ’t al hier gery? Jy jok!) Wat jy graag sou wou hê, is skaduwee, en dié piekniekplek het presies 43 bloekombome van verskillende groottes (in een is ’n koringvoëlnes; beskaafde geselskap), versprei aan albei kante van die pad. Laasgenoemde is ook iets wat in hierdie piekniekplek se guns tel, want dit maak nie saak of jy oos- of weswaarts reis nie – jy kan veilig aftrek. Aan albei kante van die pad is sementtafeltjies en -stoeltjies in skaduwee.

Suid-Afrikaners kan ’n vernielsugtige spulletjie wees. Vir party van ons is dit vreedsaam om in die middel van nêrens te wees. Veral hier in die Karoo, waar die vlaktes wyd lê, en net hier en daar ’n koppie verrys soos ’n walvisboggel uit die skurwe, bruin see van kiertsdroë bossies. Maar vir ander is sulke afsondering skynbaar ’n ope uitnodiging om met hamer en bakkiebuffer die sementtafel en -stoeltjies te probeer afbreek. Jy is nie Thor nie! Hou jou hamer vir tentpenne, asseblief, Breker.

Gelukkig het die brekers nog nie hier kom skade doen nie, en jy kan kies uit een van vier héél sementtafels en hulle stoeltjies om jou fles koffie op staan te maak en jou bas op te gaan neerplak. Hier is ook twee asblikke – maar ry eerder jou vullis saam na die volgende dorp; dit het ’n groter kans om daar deur die poorte van ’n asgat te gaan. Hier word dit te maklik weggewaai, veld-in (dis ’n aaklige gedagte om te dink aan ’n plastiesak wat 10 km verder teen ’n skilpad se dop vasbol).

Hoe lyk die uitsig? Na die noorde steek ’n stuwal uit op die vlakte, en in die verte is ’n windpomp waaronder skape in die hittegolwe dobber. Koppies, verder. Na die suide staan ’n plaasopstal (Harmonie, volgens die bordjie die plaas van die Pieterse-familie) waarnaas jy ’n turksvylaning sien, en ’n treinspoor.

Kyk bo na die blou, blou lug. Dalk sien jy ’n Vreemde Vlieënde Voorwerp. Jy ’s is immers naby Rosmead, die plek waar na bewering in 1972 ’n VVV geland het op die laerskooltjie se tennisbaan...

Waar? Langs die R56, presies 14 km oos van Middelburg (druk 0 wanneer jy van die N9/N10 afdraai). 

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. 

Volg ons op die YouTube-kanaal  WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook