Hierdie padstal is langs Himeville se polisiespeurtak. Die dorp het juis sy ontstaan te danke aan die polisiediens aangesien Himeville in 1890 begin het as ’n voorpos vir die Border Mounted Rifles wat destyds belas is om veestropery te bekamp. Vandag is Himeville meer bekend as die naaste dorp aan die Sanipas met ’n vulstasie, en een van die gewildste aftrekplekke is die Snowgoose Hangabout.



Hier kan jy proviand aanskaf vir jou Drakensbergse trek. Die plaaslike gemeenskap verkoop gebak en jy sal met elke besoek iets nuuts vind. Met my besoek was die rakke vol camembert-en-spekbrood en flessies pesto – volgende keer is daar moontlik roompoffertjies en olyfbrood. Op die stoep hang helderkleurige hangmatte en ’n  klererak wat kreun onder die gewig van weermagsurplus-aapjasse.


Maar moenie nét snuisterye koop nie– sit gerus aan en bestel iets eiesoortigs aan dié streek: Dalk bergforelslaai met kruie en neute of ’n groot cappuccino met ’n geheime bestanddeel – toemaar, dis nie forel nie.


Waar? Arbucklestraat 65, die hoofpad deur die dorp.

Kontak facebook.com/goosealicious