Foto: Shelley Christians

Koop ’n koffie by die barista, Preston Dlamini, terwyl die reuk van varsgeroosterde koffiebone van die Rwenzoriberg (op die grens van Uganda en die DRK) in die lug hang.

Kry ook dadelbolletjies (twee vir R20), gewone en kaascroissants en pain au chocolat (R20 elk). Elke nou en dan het die spyskaart ook ’n verrassing.

Die eienaar, Ryan Solomon, bou tans aan ’n nuwe tuiste vir The Barn Owl – ’n drie-verdiepinggebou in die vorm van ’n skuur wat middel Junie open. Hy belowe sy eie geroosterde koffie, asook ’n boetiekbierbrouery. Dan kry jy uitsigte oor die heuwels, perde wat in die veld wei…

(Die woonwa gaan in die toekoms gebruik word vir wegneemkoffie by troues, sport-geleenthede, feeste en markte.)

As jou kafeïenvlakke na wense is, loer langsaan in by die Groundcover Leather Company vir ’n leergordel, beursie of handgemaakte stewels (groundcover.co.za).

Oop Elke dag 8 vm.-5 nm., behalwe wanneer hulle elders diens doen. Soek vir “The Barn Owl Coffee” op Facebook of @thebarnowlcoffee op Instagram om op die hoogte van hulle doen en late te bly.

Kontak 071 356 3221 (Ryan)