Hierdie poeierblou koffiekroeg is seker die naaste wat jy aan ’n strandvakansie in Botswana gaan kom. Die atmosfeer en dekor herinner aan ’n strandstalletjie. Jy sit buite by piekniektafels onder sambrele en bome en hier is ook rusbanke waar jy met jou tone in die seesand (waarskynlik nie eg nie) kan sit. As jy jou oë toemaak, kan jy jou verbeel hier waai ’n koel seebriesie.

Die spyskaart steek jou plaaslike kettingkoffiewinkel in die skande: Ontbyt word heeldag bedien, hier is disse vir vegetariërs en genoeg gesonde opsies om jou voorbeeldig te laat voel (jy’t nie gedink jy gaan chiasade, klappermelk en groensap op jou safari teëkom nie, nè?).

Begin jou dag met ’n cappuccino (P30) en die Full Tshilli Farmstall Breakfast (P65) – twee eiers, spek, boontjies, sampioene, tamatie en ’n sny roosterbrood – of ’n spek-en-avokado-omeletwrap (P65). Vir middagete of ’n vroeë aandete, probeer die Botswana-kurper (P95) of bou jou eie gourmetburger (P75) met ’n beesvleis-, hoender-, vis- of lensie-en-aartappelpattie, twee vulsels soos tamatie of uieringe, ’n sous van jou keuse, tjips en slaai.

Het jy nog ’n gaatjie vir nagereg? Tshilli sê sy yskoffie (P35) is die beste in Botswana – jy sal moet proe om te besluit of dit waar is!

Waar? In Sir Seretse Khamaweg, aan jou regterkant net voor jy afdraai na die Maun-lughawe.

Oop Elke dag van 7 vm.-7 nm. Op Donderdae is die padstal tot 9 nm. oop; Sondag: 8 vm.-4 nm.

Kontak 00 267 684 0940; “The Tshilli Farmstall” op Facebook (Hou die blad dop – die padstal hou soms vlooimarkte, werfverkopings en vertonings.)