Op ’n drafstap... Wat was die grootste uitdaging van die storie?

Ek en die joernalis Annemarie van der Walt het die N3 stuk-stuk gery. Ons het dit tussendeur ’n storie oor blyplekke in die Drakensberg gedoen. Dit het fyn beplanning geverg om alles in te pas. Dit het ook beteken ’n mens het nie beheer oor die tyd van die dag wat jy by ’n padstal of ’n restaurant opdaag nie. Jy moet maar die beste maak van die situasie. Ek moes dikwels soek vir ’n ongewone hoek of interessante detail. Die foto uit Blueberry Hill se badkamer is ’n goeie voorbeeld...

Jou gunstelingplek langs die N3-roete?

Peel’s Honey, en nie oor die heuning nie, maar die lekker plaaslike grondboontjie-botter (R75) wat hulle verkoop. Ek eet met gemak ’n 830 g-bottel binne ’n week op.

Jy’s ’n kranige hardloper, nè?

Ja, ek probeer wanneer moontlik nuwe plekke te voet verken, maar dis moeilik as jy op ’n storie is. Tyd is min op ’n storie, vroegoggend en laatmiddag is fototyd, en dan is dit weer tyd vir oppak en verder ry. Ek het darem een middag by die Lotheni-natuurreservaat in die Drakensberg 10 km gaan hardloop.

Jou gunstelingbestemming?

Daar is vele, maar die Wildekus is besonders. ’n Paar jaar gelede het ek van die Keimond tot by Hole in the Wall gehardloop – dit was sowat 120 km oor drie dae ( wildrun.com). Ek was dus op plekke waar jy net met jou voete kan kom. Dis ’n ongelooflike landskap: die groen berge; die wilde, woeste see; die oop strande...

En watter plek is volgende op jou doen-lysie?

Weer ’n hardloopnaweek – dié keer in Lesotho. Die Lesotho Ultra Trail ( lesothoultratrail.com) loop oor 50 km in die berge rondom die Maliba Lodge in die noorde van die land. Ek wil ook volgende jaar gaan blomme kyk. Dis hoog tyd dat ek Namakwaland in sy volle glorie beleef!