Foto's: Sophia van Taak & Toast Coetzer

1. ’n Mens het balans, rigting en momentum nodig

Jukskeipark, Kroonstad

Ons is reeds op dag een van ons maand lange toer ’n filosofiese kompas in die hand gestop. Dié stukkie wysheid het ons uit ’n onwaarskynlike oord bereik: gedurende ’n kitslessie in jukskeigooi.

Ons het gaan inloer by die jukskeimeesterstoernooi op Kroonstad, waar Thomas Venter, afrigter van die span van Gauteng-Noord, ons onder hande geneem het. Volgens hom lê die geheim van jukskeigooi in drie dinge: balans, rigting en momentum. Laat staan die gooi-aksie, vergeet van krag. Jy hoef slegs hierdie drie dinge in gedagte te hou en die skei doen die res.

Hierdie drie woorde is op veel meer as net jukskei van toepassing. Vat dit op jou lewenspad: Balanseer jou werk en jou plesier, bly koersvas en moenie stoom verloor nie.

2. Dis tyd vir nuwe steggies op ou bome

Vrystaat
Rotondo-okkerneutplaas, naby Aliwal-Noord

Suid-Afrika se demokratiese era is nou al goed mondig, maar steeds het ons struikelblokke om te oorkom as ons in die soort land wil bly waaroor ons almal droom. Vat maar die tameletjie van grondhervorming. Ons weet iets moet gebeur, maar wat?

Op die plaas Heuningkrans in die Smithfield-distrik het die Prinsloos – al geslagte lank hier – een van hulle plase aan die regering verkoop met die voorwaarde dat die opkomende boere wat hier gevestig word, van hulle eie plaaswerkers gaan wees. Van nou af word hier op ander voorwaardes geboer. Die toekoms gaan anders wees. Jong Eduard, wat eendag die leisels by pa Eddie gaan oorneem, se toekoms gaan ánders wees.

Die plaas Heuningkrans, Smithfield-distrik

Nuwe strukture moet uit ou fondamente herrys. Die toekoms moet op die skouers van die verlede kan staan – en sterker wees.

Die metafoor hiervoor het ons by die Rotondo-okkerneutplaas naby Aliwal-Noord gekry: Hier word die steggies van nuwe variante okkerneute op die gevestigde stamme van ou bome geënt.

3. Die landskap is jou muse

Die uitkykpunt by die Letsatsi- private wildreservaat, Smithfield

Toe die Suid-Vrystaatse bergklowe nog ’n tuiste vir die Boesmans was, het dit wat hulle in hierdie omgewing gesien het, hulle drome, legendes én rotskuns oorheers: elande, renosters, bobbejane en olifanttroppe... In die Pelissier-kunsgalery op Ficksburg het ons gesien hoe vandag se Suid-Afrikaanse skilders inspirasie uit dié landskap put.

Steeds inspireer dit kunstenaars soos Willem Pretorius van Rosendal om die spesifieke grein van die grashalms, die gehalte van die lug en hoe mense in hierdie streek leef vas te vang.

Hierdie landskap kan ons almal begeester – vat die pad, asem dit in, en laat dit jou roer.

4. Ou goed moet bewaar word

Vrystaat
Boeremusiek op ’n stoep in Philippolis

Die mooi dinge van die verlede kan so maklik begrawe word saam met dít wat ons liefs nie wil onthou en die toekoms in dra nie. Daarom is bewakers so belangrik – mense wat, danksy ’n spesifieke bewondering van iets, dit oppas en versamel.

Sulke mense bewaar nie net items, geboue of gebruike nie. Hulle preserveer ook iets van hoe die lewe tóé was, en hoe daardie versamelstukke ons beïnvloed het. Daarom wil ons dankie sê vir Anthony Hocking wat op Bethulie sy hotel in ’n biblioteek vol boeke en langspeelplate omskep het. Dankie ook aan oom Jannie Cilliers wat op Philippolis die kuns van saagspeel – en daarmee saam ook dié weemoedige instrument se plek in ’n boeremusiekorkes – bewaar.

Jannie Cilliers, Philippolis

Dan twee mense op Lindley: Paul Fouché wie se liefde vir Fords (in besonder die Cortina) ons teruggevoer het na ’n tyd toe ’n motor nog meer as net ’n ryding was. En oom Hekkie van Rensburg wat met passie en pligsgetrouheid steeds elke oggend die ou rollermeule se Ruston Hornsby-eensilinderenjin start.

Dankie dat julle dié kultuurskatte bewaar en so vrylik met ons deel.

Toast ry saam met Paul Fouché, Lindley
Sophia gesels met Hekkie van Rensburg by die Ou Meul, Lindley

5. Jy kán ’n verskil maak

Vir die grootste deel van ons bevolking is Suid-Afrika nie die land van melk en heuning nie. ’n Mens sien dié landgenote van ons oral: met ’n bedelbordjie op straat, in plate verweerde sinkhuisies langs die snelweg, in oorvol staatsinstellings wat vir weinig ’n beter toekoms kan verseker.

Dit kan ’n mens maklik mismoedig laat voel. Die behoefte is só groot, ons weet nie eens wáár om te begin help nie. En dan doen jy op die ou einde niks nie, want wat sal een mens nou kan vermag? Die geheim is: Doen dit saam met ander. Sit koppe bymekaar en kom aan die gang – jy sal verbaas wees om te sien hoeveel ondersteuning daar uit ander oorde kom sodra jy met die hoe en die waar vorendag kom.

Krale gemaak deur werkers by Parys River Clay Bracelets, Parys

So byvoorbeeld het ons by Parys River Clay Bracelets gesien hoe twee vroue – Keri Steyn en Pam Trabucco – ’n projek op die been kon bring waarby heelwat mense nou baat vind. Die armbande wat hulle van kleikraletjies maak, skep nie net werk vir van die inwoners van Parys se tehuis vir mense met epilepsie nie, maar dit gee ook die dorp se gevangenes ’n kreatiewe (én terapeutiese) manier om die ure te verwyl.

Op Rosendal het Frik de Jager en Lerato Mosala moue opgerol en begin om nuwe huise te bou in die township Mautse.

’n Huisie opgerig deur Project Nkgono in Mautse, Rosendal

Dié behuisingsprojek se naam is Project Nkgono (“Projek Ouma” in Sotho) en is gemik op ouer vroue in dié gemeenskap wat weeskinders inneem en soos hulle eie versorg. Dis ’n eenvoudige en – vir die meeste van ons – bekostigbare projek om by betrokke te raak. Maar dit maak ’n reuseverskil in die lewe van menige ouma op Mautse.

Stefan Burger, sielkundige by die Jimmie Roos-skool, Dewetsdorp
Joggie Jansen, perdeterapeut by die Jimmie Roos-skool, Dewetsdorp

By die Jimmie Roos-skool naby Dewetsdorp het ons ’n besonderse groep mense ontmoet: onderwysers, ’n sielkundige en perdeterapeute wat met deernis en toewyding dag ná dag ’n pad stap met seuns wat weens huislike omstandighede of botsings met die gereg harde bene gekou het.

Dis ’n aansporing vir ons om ook betrokke te raak in ander se lewe, ongeag hoe uitdagend of intimiderend dit kan wees.

6. Kanaalry is ’n ding (op Jacobsdal)

Kanaalry by die Landboudal-skool, Jacobsdal

Jacobsdal is besproeiingswêreld – oral waar jy gaan, sien jy ’n kanaal vol water op pad na ’n land waar mielies, lusern of ander gewasse verbou word. Maar het jy geweet jy kan ’n kanaal rý?

By Landboudal (die plaaslike landbouskool) ontspan die leerlinge soms ná ’n snikhete dag deur die kanaal wat deur die skoolterrein loop te gaan “ry”. Dit behels basies dat jy in jou baaikostuum (of sommer net LO-broekie) in die vlak water spring en dan dryf-dryf, spat-spat en raas-raas so ’n paar honderd meter in die kanaal af “ry”.

Wat ’n wonderlike manier om te ontlaai ná ’n dag wat dalk met koeie melk begin het nog lank voordat die haan gekraai het!

Landboudal se toutrekspan, Jacobsdal

7. Brei is nie maklik nie

Dis maklik om te dink jy weet alles. Jy dink jy het ’n graad agter jou naam, verdien ’n goeie salaris en reis soms oorsee. Maar kan jy brei? Kan jy ’n rolletjie wol vat, twee breipenne opneem en iets nuttigs daaruit maak, soos ’n trui vir die winter?

Hierdie nederige handvlyt, in ons soms nog geykte siening van die wêreld die terrein van oumas, is ’n groot gelykmaker. Dis ’n vaardigheid, nes die boul van ordentlike bybreke, sekuur pale toe skop en braaibroodjies maak wat bros is maar nie verbrand nie.

Fabrice Rebouillat (regs) en sy ma, Claudette, op die stoep van Nick's Place, Smithfield

Op Smithfield het ons geleer dat brei ook nie net vir oumas is nie: Fabrice Rebouillat het sy eie besigheid, The Guy Who Knits. Hy het sy bes probeer om vir Toast te leer brei, maar te oordeel na hoe verstar Toast met die twee breipenne gesit het, moet hy eerder hou by wat hy ken: braaibroodjies maak.

8. V is vir vryheid

Op die Vrystaatse agterpaaie het ons genoeg geleenthede gehad om oor dié eindelose landskap uit te tuur. Mettertyd kon jy voel hoe iets in jou binnegoed skietgee en jy rustiger en dieper asemhaal.

Die provinsie se naam kom nou wel van die Voortrekkers se behoefte van toentertyd om onder die Engelse vlag uit te kom, maar daardie vryheid wat hulle hier kom aantref het, was meer as onafhanklikheid – dit was ook ’n gemoedstoestand wat hierdie wuiwende grasvlaktes, ontsaglike ruimtes en die vars lug tot gevolg het.

Moolmanshoek

’n Mens voel hier weer verbind tot die aarde. Jy hoor en sien en ruik die veld. En dit wakker ’n uitgelatenheid in jou siel aan. Iets aan die Vrystaat maak dat jy oor die vlaktes wil hardloop, baldadig en vry. Soos ’n trop perde.

Die middag toe ons hierdie skouspel van honderde perde op volle galop by Moolmanshoek aanskou het, was byna geestelik. En ons het net so na aan die hemel gevoel toe die manne van die Goldfields-sweefklub ons bo Welkom op vlerke geneem het. As die warmlugstroom die sweeftuig eers vát en jy dan al hoe hoër spiraal, soos ’n arend, is dit die soort ervaring wat jou daarna as landdier altyd sal laat terugverlang na die ekstase van vlug.

9. Jy moet tyd maak vir jou mense

Die lewe haas verby soos ’n hoender in die oopte, en as jy weer sien, is al daai niggies en neefs met wie jy so lekker as kind gespeel het, groot, getroud en versprei oor die land – selfs die wêreld. Familiebande kan met tyd vervaag, en daarom is dit goed om soms tyd te maak vir jou mense sodat julle dié verbintenis weer kan bevestig – al is dit sommer net een aand om ’n braaivuur, of oor ’n vinnige koppie tee.

Die Prinsloo-gesin van die plaas Klipbaken, Reitz-distrik

Ons het eendag ’n wye draai van af Parys gery, oor Sasolburg en die Vaaldam na Villiers. Daar was nie veel op ons program nie, behalwe om ’n padstal te besoek. Maar ons het besef dat ons verby niggies gaan ry wat ons lanklaas gesien het – Sophia s’n in die Frankfort-distrik en Toast s’n buite Reitz.

’n Paar uur by elkeen het ons goed gedoen. Dis lekker om te sien waar hulle bly, hoe hulle kinders nou lyk en wat belangrik is vir hulle – in daardie stadium, middel Oktober, is daar in spanning gewag vir die regte knerts reën sodat daar mielies geplant kan word.

Dankie, julle! Mag 2019 die jaar wees van die niggies en neefs...

10. Die beste dorpstoer is per trekkerwa

Trekkertoer, Soutpan

Jy moet jou pas stadiger maak in die platteland, anders mis jy die helfte van sy mooigeit. Draai  jou vensterruit af, ry 40 km/h. Stop nou en dan, klim uit en luister na die dawerende stilte.

Die Vrystaat het sy bekende toerismedorpies soos Clarens, maar ook ’n arsenaal haas onbekende plekkies waar jy ’n bietjie harder moet werk vir ’n toerisme-ervaring. Op die piepklein dorpie Soutpan – relatief naby Bloemfontein, maar geheel en al in die blindekol daarvan – staan ’n hand vol mense gereed om jou die beste van hulle hoekie van die provinsie te wys.

Bespreek jou Sondagmiddagete by Die Truksvy, waar Krona Fourie en Liza de Wet die potte fisiek en spreekwoordelik roer. Vooraf kan jy op ’n dorpstoer gaan, agterop ’n trekkerwa (waar ’n paar vriendelike Bloemfonteiners dalk hulle Old Brown Sherry met jou sal deel...). Krona se broer, Willie, ry die trekker, en hy ry tot by die NG kerk en terug. Maar dis die hele Soutpan, jy sien elke meter daarvan. Stadig. Ordentlik.

Lank lewe die trekkerwatoer, en lank lewe Soutpan!

11. Oros is onverbeterlik

Tyd vir Oros, naby Philippolis

Coke is lekker, boorgatwater ook. Tee het sy plek, en koffie kan jou vroegdag regklap. Maar ’n lang glas yskoue Oros bly bobaas op ’n warm dag. Om een of ander rede het ’n skinkbord gelaai met glase Oros gereeld voor ons aangeland en ons, en die kameramanne, het dit altyd geniet!

12. Tjek my gespe

Gordelgespe van Eduard Prinsloo van die plaas Heuningkraans, Smithfield-distrik

’n Vrystaatse boer is nie iemand wat sy geld of tyd mors op nice-to-haves nie. Hy skaf nie nuttige goedjies aan nie, nee, ’n ding moet noodsaaklik wees, en elke dag ingespan word. Een só ’n ding is ’n gordel. ’n Gordel met ’n groot genoeg gespe wat as jou eie reklamebord kan dien. Een wat lees “Bonsmara SA” of soos in die geval van Eduard Prinsloo op die plaas Heuningkrans: “Merino”.