Ek en Johan soek altyd in tydskrifte en op webtuistes na nuwe plekke om te besoek. Ons gaan kamp minstens twee keer elke maand en gewoonlik binne ’n radius van 200 km van die huis af. Hoekom sal ’n mens by die huis slaap as jy die natuur, sonsondergange, kampvure en ons toegeruste wa kan geniet? Ons het op Facebook van die Almega-woonwapark gelees en dit het na nét die plek gelyk om ons batterye te herlaai.

Ons het gepak, ons 2007-model Jurgens Xplorer aan ons 2014 Isuzu KB 3.0 D-TEQ gehaak en in die pad geval. Dit het ons net ’n uur en 41 minute geneem en afgesien van die laaste 200 m se goeie grondpad, was ons die heeltyd op teer.

Het die kampplek aan julle verwagtinge voldoen?

Met ons aankoms is ons deur ’n ontvangsdame by die hek ontmoet en daarna het Piet Geyser op sy bromponie vooruit gery om ons staanplek vir ons te wys. Die kampplek is omring deur bosveld en ’n mens sien ’n verskeidenheid wild en voëls sommer waar jy onder jou stoeptent sit. Die woonwapark is sowat 3 ha groot en word baie goed onderhou.

Hoe lyk die staanplekke?

Dit is van hoek tot kant met gras bedek en hier staan meer as genoeg koeltebome. Daar is ook ’n geplaveide kol waarop jou groot braaidrom staan. Die staanplekke is ewe geskik vir groot waens of vir mense wat met tente kamp en jy kan jou kamp opslaan nes jy wil – solank jy binne die grens bly wat Piet vir jou wys. Jy het ook ’n opwasplek met ’n dubbelwasbak, afdroogplek en uitstekende beligting. 

Was julle tevrede met die ablusiegeriewe?

Dit is van die beste wat ons tot nog toe teëgekom het. Elke staanplek het sy eie private geriewe en dit is skoon en netjies. Hier is ’n tafel om jou goed op neer te sit, genoeg kragpunte vir haardroërs en elektriese skeermesse, ’n groot spieël teen die muur, ’n wasbak, toilet en ’n groot stort.

Waarmee hou ’n mens jou besig?

Almega bied begeleide wildtoere op elektriese fietse aan en ons kan dit ten sterkste aanbeveel. Hier is ook ’n fiets- of staproete wat ’n allemintige 27 km lank is, ’n speelparkie vir die kleintjies, ’n swembad in die vorm van ’n kitaar en meer as genoeg voëls wat jy deur jou verkyker kan dophou. Dis baie spesiaal om in die nag te hoor hoe roep ’n jakkals. As jy die Groot Vyf wil sien, kan jy by ’n buurplaas ’n wildrit bespreek.

Is hier ’n kampwinkel?

Die eienaar, André Geyser, ry een maal ’n dag by elke staanplek verby en jy kan hout (R20) en ys (R10) by hom kry. Hier is nie ’n kampwinkel nie, maar sowat 1,2 km van die hek af is ’n klein winkelkompleks waar jy die nodige inkopies en brandstof kan aanskaf.

Inligting

Kontak: 082 452 0269; almegakamp.co.za

GPS: S25.339782 E 28.385382