Die interessante aspek van my werk as verteenwoordiger van ’n groot 4x4-handelsnaam is hoe gereeld daar die een oomblik reuse-belangstelling in ’n spesifieke produk is, voor dit stil raak en ’n ander produk skielik in die kollig is.

Ek is oortuig dit is deels toe te skryf aan sosiale media en die gesonde belangstelling wat veldrygeesdriftiges in hulle stokperdjie het. Ons het onlangs ’n vlaag van navrae oor treeplanke en glystawe gehad, en ná my gesprekke met heelwat geesdriftiges het ek besef daar bestaan ’n wanindruk oor dié toerusting.

Daar is boonop ’n kommerwekkende tekort aan kennis en begrip oor sylugsakke en hoe namarkse treeplanke of glystawe die werking van dié kritieke veiligheidsmaatreël beïnvloed.

Eerstens is daar ’n fundamentele verskil tussen die oorspronklike aluminium- en plastiektreeplanke op ’n nuwe voertuig en die stewiger namarkse treeplanke en glystawe wat van staal gemaak word. Die oorspronklike treeplanke is gewoonlik liggewig en hulle lyk baie mooi omdat hulle ontwerp is om by die voertuig in te pas. Hulle word ook aan die bakwerk van die motor vasgesit en nié aan die onderstel nie.

Wanneer jy ’n stel sterk en stewige glystawe aan jou voertuig se onderstel aanbring, is dit natuurlik te wagte dat dit die dinamika van ’n syimpak gaan verander.

Die primêre doel daarvan is om jou te help met die in- en uitklimslag. Tweedens bied dit ook ’n bietjie beskerming aan die kant van die voertuig, in besonder teen los klippe en gruis wat deur die wiele opgeskiet word. Hulle is egter nie veel werd wanneer jou voertuig die grond met ’n slag tref terwyl jy in die veld ry nie. Hulle buig en knak sommer die eerste keer dat hulle ’n ordentlike rots sien.

Dis hier waar namarkse treeplanke en glystawe van staal ter sprake kom. Hulle word ontwerp met swaardiensomstandighede in gedagte en die vervaardiging en materiaal verskil hemelsbreed van die oorspronklike treeplanke. Hulle word met swaardienspasstukke aan die voertuig se onderstel vasgebout.

Met ’n glystaaf wat ordentlik ontwerp en vervaardig is, kan jy inderdaad met jou voertuig se volle gewig oor rotse gly sonder enige skade. Natuurlik is hulle nie so sag op die oog soos die oorspronklike treeplanke nie, maar vir die ernstige veldryer is dit ’n amper verpligte stuk toerusting omdat dit soveel beskerming bied.

Hoe raak dit dus jou sylugsakke? Die sensors wat die aktivering van dié lugsakke beheer, is soortgelyk aan die sensors in die motor se neus in die geval van ’n botsing van voor. Hulle meet swaartekrag en aktiveer die lugsakke daarvolgens.

Die oorspronklike treeplanke is ontwerp om nie enige invloed op die werking van dié lugsakke te hê nie. Maar wanneer jy ’n stel sterk en stewige glystawe aan jou voertuig se onderstel aanbring, is dit natuurlik te wagte dat dit die dinamika van ’n sy- impak gaan verander. Ons het dit getoets en gevind die sylugsakke ontplooi ieder geval, ongeag of die voertuig toegerus is met namarkse glystawe.

Wat wel ’n probleem is, is die moontlikheid dat lugsakke voortydig – of selfs onnodig – kan ontplooi wanneer jy in die veld speel en ’n rots effens te hard met jou glystaaf kennis maak. Dit het al met my gebeur. ’n Goeie kompromie is staaltreeplanke wat versoenbaar is met jou voertuig sylugsakke.

Dis ’n produk wat trefslae teen rotse beter kan weerstaan as die oorspronklike aluminiumproduk, maar nie in dieselfde mate as glystawe nie. Hulle word ook aan die voertuig se onderstel vasgebout, maar met spesiaalontwerpte passtukke wat nie die korrekte parameters van die lugsakstelsel raak nie. Bykans elke modifikasie om ons 4x4-voertuie veldwaardiger te maak behels een of ander kompromie, dís nou maar wors. Maar dié kompromie mag nooit jou veiligheid óf dié van jou gesin, jou voertuig of ander padgebruikers in gevaar stel nie.