Foto’s: Cyril Klopper
Hier is die roete wat Cyril gevolg het.
Die roete wat Cyril gevolg het.

Die Wes-Kaap se berge wemel van bergpasse, en nêrens in Suid-Afrika is die konsentrasie passe só hoog as in die Kaapse plooiberge tussen Heidelberg en Uniondale nie.

Ons roete skop af in die Klein-Karoo, loop suid na die Tuinroete en terug na die Karoovlaktes, en gaan dan weswaarts oor die Langeberg tot op die rand van die Overberg. Die doel van die uitstappie is om te sien hoeveel bergpasse – verkieslik grondpad – ons in twee dae met ’n gewone sportnutsvoertuig kan ry sonder om vir ’n permit te betaal en sonder om ’n pap wiel te herstel.

Die voorwaardes is straf, maar haalbaar. As jy hierdie roete rustiger wil vat, staan dit jou uiteraard vry om dit in kleiner stukkies aan te durf.

Uit die Karoo tot by die see

Die duimry-spookmeisie waaroor Anton Goosen sing, is nie die enigste rustelose skim in Uniondale nie. Daar is ook ’n nooi Roux wat onverwags op jou agtersitplek verskyn en ’n bejaarde meester op die Willowmorepad wat daarvan hou om snags voor jou motor in te loop. Dan goël dit ook in Rico Classen se teater én daar’s glo ’n huis op die dorp waarin drie opeenvolgende eienaars hulle eie lewe geneem het.

Dit is met dié kennis dat jy gisteraand in die afgeleefde woonwapark aan die buitewyke van die dorp tent opgeslaan het, maar jy’t gelukkig die nag oorleef, selfs al het jy skaars ’n oog toegemaak weens ’n lastige brak iewers naby wat heelnag geblaf het.

Met al jou kampgoed terug in jou motor neem jy Queenstraat na die eerste pas op jou roete, die Uniondalepoort. Probeer om Uniondale nie later as 7 vm. te verlaat nie, want dis ’n láng dag wat voorlê.

Uniondalepoort is dalk nie so majestueus as sy nabye susterpoorte, Meirings- en Seweweekspoort nie, maar dis steeds ’n pragtige pad met ’n ryke geskiedenis. Die poort volg die eerste inwoners van hierdie streek, die Khoikhoi, se herderspad langs die Holdrifrivier. Die poort se eerste rybare grondpad is in 1925 gebou en hy’s in 1960 geteer. Die vloed wat Uniondale in 2007 getref het, het die teerpad weggespoel, maar in 2011 is ’n verbeterde pas geopen.

Skaars 2 km ná die Uniondalepoort kom jy die R62 en die Avontuur-plaasgemeenskap teë. Hier begin die Prins Alfredpas, die bekende padmaker Thomas Bain se beste werk. Teen 68 km is dit die langste bergpas in Suid-Afrika, en dan het hy boonop ’n lekker grondoppervlak. Geniet ’n koppie rooibostee met melktert by De Vlugt se teetuin, ongeveer kwartpad die pas in.

By die Diepwalle-bosboustasie is daar óók ’n teetuin as De Vlugt s’n toe is – hier kan jy weglê aan vetkoek met kaas-en-konfyt of maalvleis. Nét ná die bosboustasie neem jy ’n afdraai na regs op Kom-se-pad.

Die Kom-se-padpas lei jou deur die digte Knysnabos. As jy ’n aftrekplek sien, moet jy dadelik stilhou en ’n draai deur die woud stap, want die kans is goed dat jy verkleurmannetjies en bosbokkies gaan sien. Dalene Matthee het dae op Kom-se-pad deurgebring om inspirasie te kry vir haar topverkoperroman Kringe in ’n bos. 

Verderaan met Kom-se-pad tref jy ’n nedersetting met die naam Gouna aan. Gouna se Italiaanse sywurmboere was die inspirasie vir een van Matthee se ander boeke, Moerbeibos. Dis nét ná 11 vm. wanneer jy Knysna binnery. Dis nóú jou kans om gou by ’n inkopiesentrum in te draf en proviand te koop vir middagete... en natuurlik vanaand se braai.

’n Pad oor sewe ravyne

Die Phantompas is eerste op die Tuinroete se passepad en hy kronkel aan die oorkant van die Knysnastrandmeer teen ’n heuwel uit. Die pas is nié genoem na ’n fantoom of ’n gemaskerde strokiesprentheld nie, maar eerder na die silwerkolspookmot (Leto venus) wat in die lente hier uit sy kokon kruip.

Altesame 9 km anderkant die Phantompas lê die Homtinipas, ook bekend as die Goukammarivierpas. Hierdie een het smal haarnaalddraaie; wees dus op jou hoede vir aankomende verkeer wat onverwags uit die woud opdoem. Op Homtini se hakke is die Karatarapas. Die inwoners van die nedersetting Karatara was die inspirasie vir Fiela se kind, Dalene Matthee se ander groot trefffer. Hulle is afstammelinge van die houtkappers wat in 1939 hier gevestig is deur die destydse Britse regering wat die uitwissing van die inheemse Knysnabos wou stuit.

Dan volg die Hoogekraalpas, ’n lieflike pas met ’n Victoriaanse steenbruggie wat net-net breed genoeg is sodat twee voertuie verby mekaar kan skuur. Hier is ’n aftrekplek naby die bruggie – hou stil vir foto’s en druk jou tone in die koel water van die Hoogekraalrivier. Die roete plat nou af en neem jou verby verskeie beesplase. Daar is ook ’n aantal gastehuise as jy besluit om in die omgewing te oornag en dalk die nabye Louvain-4x4- roete aan te durf (sien Weg Ry & Sleep #9).

Ná die Hoogekraalpas (op die Hoekwilpad) moet jy op die uitkyk wees vir die versteekte afdraai na die Touwrivierpas. Die padpredikant wat die afdraai aandui, is soek en jy gaan dié koördinate by jou GPS moet inpons: S33.94782 E22.62104.

KLIPHARD. Pik en graaf en dinamiet... padmaak in die 19de eeu was gevaarlike en harde werk, maar dit was broodnodig om die destydse Britse Kaapkolonie te laat uitbrei.

Die Touwrivierpas, ook bekend as die Duiwelskoppas, is die laaste grondpadpas op die passepad en teen 2,5 km ook die kortste.

Die volgende pas op jou roete is die Silwerrivierpas. Dié pas maak binne slegs 2,7 km nie minder nie as 30 draaie – en omdat hy geteer is, gaan jy geweldig baie toeriste en motorfietsryers teëkom. Die Victoriaanse steenbruggie oor die Silwerrivier is smal en motoriste moet beurte maak om oor te ry.

Die Kaaimansgatpas is volgende aan die beurt. Albei brûe oor die Kaaimans- en Silwerrivier is oorspronklik van ingevoerde dennehout gebou, maar hulle het skaars 10 jaar gehou en is uiteindelik in 1904 met steenbrûe vervang wat vandag nog staan. Die laaste pas op die passepad is die Swartrivierpas (oorspronklik die Zwartrivierhoogtepas) wat jou tot op George bring.

Die passepad word ook die sewepassepad genoem, maar as jy mooi oplet, sal jy agterkom daar is eintlik 8 passe op die passepad. Dit is waarskynlik omdat die Slimjan wat aan dié naam gekom het, verkeerdelik gedink het die Kaaimansgat- en Silwerrivierpas is een en dieselfde omdat hulle naatloos in mekaar loop.

Die agt passe is tussen 1867 en 1882 gebou deur Thomas Bain en sy swaer Adam de Smidt. Bain het aan die Knysnakant weggeval terwyl De Smidt by George begin het. Volgens oorlewering het die twee só erg vasgesit oor die roete dat hulle tot op hulle sterfbed nie meer ’n woord met mekaar wou praat nie.

Terug Karoo toe

As jy nie op Knysna tjoppies en wors vir vanaand se braai gekoop het nie, moet jy dit hier op George doen, want jy gaan die res van die dag nie weer ’n dorp sien nie. Die Montagupas begin aan die buitewyke van George en kronkel 17 km teen die Outeniquaberg uit. Dit is in 1848 deur Henry Fancourt White voltooi (nou weet jy waar die Fancourt-gholflandgoed sy naam vandaan kry) en in meer as 170 jaar is die pas glad nie verander nie.

Daar is ’n hele paar aftrekplekke waar jy kan foto’s neem, onder meer die treinbrug by Stinkhoutdraai en Amanda-se-Graf waar ene Amanda Pienaar en haar man, Pieter, se as begrawe is. Aan die bopunt van die pas, by die nedersetting Herold, is jy weer terug in die Klein-Karoo. Hou noord – ná 2 km sal jy die Paardepoortpas aantref. Daar is niks besonders aan dié pas nie, maar as jy fyn kyk aan die oorkant van die Doringrivier, sal jy die klipmuur van ’n veel ouer pas gewaar. Dit is die oorblyfsels van die oorspronklike Paardepoort wat in 1850 voltooi is.

Die pas waarop jy nou ry, het dit egter in die jare dertig van die vorige eeu vervang. Paardepoort en die Montagupas was deel van die oorspronklike pad tussen George en Oudtshoorn, ’n bedrywige roete wat later tot in Kimberley geloop het toe diamante daar ontdek is.

Ry nou weswaarts op die Zebrapad en steek die Groot-Doringrivier oor. Hier sal jy ’n vergete 5 km lange pas, die Leopoortpas, aantref. Die pad is onmerkwaardig en hy word nie op padkaarte aangedui nie, wat beteken jy gaan waarskynlik die enigste ou in jou vriendekring wees wat kan spog jy het hom gery.

Al wat nou oorbly, is om kortpad deur die plaasgemeenskap Volmoed te sny en met ’n laagwaterbruggie deur die Olifantsrivier in die rigting van die Gamkaberg-natuurreservaat te ry. Jy sal moet wikkel, want die reservaat se hekke sluit om 4 nm., maar gelukkig kan jy die veldwagter enige tyd bel om jou binne te laat – die nommer staan op die hek.

PASSE IN ’n BOS. Die passepad deur die Knysnabos is ’n mooi pad, maar as dit hard reën, verander die grondpad in ’n modderbad.

Op en af na die Overberg

Vandag hoef jy nie besonder ver te ry nie, maar pak vroeg op as jy Lawsonspas binne die reservaat wil aandurf – dit is die enigste pas op hierdie roete waar vierwielaandrywing onontbeerlik is.

Dit is onbekend wie die pas gebou het, maar dit was waarskynlik ’n boer se pad op die oorspronklike plaas voordat dit ’n reservaat geword het. Ons Subaru Forester kon weens sy betreklik lae grondvryhoogte net-net die mas opkom. Vra eers vir ’n veldwagter of jy die pad met jou voertuig sal kan baasraak – ons Subaru is vlak aangekyk, maar die veldwagter het ons wel toegelaat met ’n waarskuwing om versigtig te wees.

Nadat jy ongedeerd van Lawsonspas af teruggekeer het, mik jy noord, oor die R62 in die rigting van die Swartberg. Jy gaan jou GPS nodig hê, want die meeste paaie in dié geweste het nie padtekens nie.

Nadat jy verby Buffelskloof se plaasskool gery het, sal jy die Coetzeespoortpas aantref. Pasop vir bergskilpaaie wat oor die pad sukkel – hulle kan so groot soos ’n wynvaatjie word! Coetzeespoort volg die Kruisrivier tot by Groenfontein. As jy by die T-aansluiting regs draai, gaan jy Oudtshoorn toe, maar ons draai eerder regs in die rigting van Calitzdorp.

Die Kruisrivierpoortpas is ’n 26 km lange grondpad wat die Nelsrivier volg tot by die Calitzdorpdam – dié was voordat die water opgeraak het, ’n gewilde hengelbestemming. Dit is ’n smal paadjie met tientalle haarnaalddraaie. As jy die padpredikant verontagsaam wat jou waarsku om nié ’n woonwa of swaar voertuig hierheen te bring nie, gaan jy gou spyt wees. Jy behoort teen 12 nm. op Calitzdorp te wees, net betyds vir middagete. Met ’n tenk vol brandstof is dit tyd om suidwaarts deur die Gamkavallei te ry in die rigting van die Groenfontein-natuurreservaat.

Die Rooibergpas begin by die natuurreservaat se grens en kronkel 35 km ver oor die Rooiberg. Dit is ’n indrukwekkende bergpas met 180°-draaie en steil afgronde. Die pas eindig 5 km buite Vanwyksdorp: bevolking 700 en besig om te daal.

HOOG EN DROOG. Die Karoo het uiteraard minder passe as die plooiberge, maar hulle is nietemin indrukwekkend. Dis treffend hoe passe die droë en nat streke met mekaar verbind.

Ry nou suid met die R327-grondpad en neem die afdraai wat beloof om jou na die R323 te neem. By die R323 kan jy suid draai en die Garciapas ry, maar dan mis jy ’n pas wat een van die hoogtepunt op die roete is.

Draai eerder regs en ry 2,7 km noord, neem die Brandrivier-Barrydale-afdraai en ry 15 km weswaarts tot by die Kortfontein-Kanetberg-afdraai. Oomblikke gelede was jy omring deur ’n ongenaakbare Karoovlakte, vuurwarm klippe en droë bossies, maar hier op die Gysmanshoekpas is jy eensklaps in ’n lowergroen vallei vol fynbos en veldblomme. Dalk gaan jy, soos ons, ’n traan pink en wens jy kon ’n huisie hier bou, maar dis helaas ’n ongerepte lappie aarde wat deur Kaapse Natuurbewaring bestuur word.

Die Gysmanshoekpas sluit aan by ’n grondpad langs die Duiwenhoksrivier. As jy links draai, gaan jy Heidelberg toe; regs loop na die Wadriftpas – dís waar jy wil wees. Drie kort grondpadpasse – die Wadrift-, Seekoeigat- en Doringkraalpas – loop deur die voetheuwels van die Langeberg en verbind die streek se plase.

Wees bedag op kinders en vee, maar wees veral versigtig vir jong boere wat soos wafferse tydrenjaers jaag in hulle bakkies.

Jou eindbestemming is 11 km verderaan: Grootvadersbosch. Dis ’n grasgroen reservaat op die rand van die Overberg en bied ’n welkome blaaskans ná die 22 bergpasse wat jy binne twee dae voltooi het. Klop jouself op die skouer en wees trots dat daar min plekke in die wêreld is waar jy só iets kan regkry. 

Pasop vir bergskilpaaie wat oor die pad sukkel – hulle kan so groot soos ’n wynvaatjie word!

HIERMEE HET ONS GERY

Subaru Suid-Afrika het ’n 2019 Forester 2.0i-S ES vir ons geleen. Die nuwe Forester lyk dalk op ’n haar soos die vorige model, maar daar is daadwerklike verskille. Ons hou veral van die verbeterde X-modus wat die vastrapbeheer nou heeltemal afskakel en soos ’n ewenaarslot werk.

Die Forester het hom goed gedra, maar teen die einde van ons reis, op Moodiespas buite Grootvadersbosch, het hy wraggies ’n pap wiel gekry – na ál daai passe! Ons deel ons ry-indrukke in die April-uitgawe.

EK WIL OOK GAAN!

WAAR? Die roete strek van Uniondale in die Klein-Karoo af tot by Grootvadersbosch naby Heidelberg in die Kaap. Jy besoek dorpe soos Knysna, George, Calitzdorp en Vanwyksdorp, maar jy gaan vir lang ente nie ’n siel teëkom nie.

VOORRAAD Die groter dorpe het almal vars produkte, maar dis raadsaam om ’n 12 V-yskas of koelboks saam te neem. Omdat ’n aansienlike deel van die roete grondpad is, moet jy jou noodwiel vooraf nagaan én ’n bandherstelstel en pomp saamneem.

NOODNOMMERS Uniondale-polisie Voortrekkerstraat 49  044 752 6600; Knysna-polisie Queenstraat  044 302 6600; George-polisie Courtenaystraat 37  044 803 4700; Oudtshoorn-polisie Baron van Reedestraat 36  044 203 9014; Calitzdorp-polisie Queenstraat 13  044 213 3320; Heidelberg-polisie Van Riebeeckstraat 54  028 722 1910

VERBLYF

Daar is talle verblyfopsies op die roete, maar hier is die drie plekke waar ons tentpenne ingeslaan het.

Uniondale-woonwapark

Hier is 17 staanplekke waarvan 8 kragpunte het. Hulle is eweredig rondom een ablusieblok gerangskik en hier is populierbome vir skaduwee. Dis wel effens afgeleef, maar dis veilig, skoon en alles werk. Bring maar oorpluisies, want die honde van ’n nabygeleë buurt blaf regdeur die nag.

Kontak: 082 774 0004 (Ken Dodds)

Prys: R100 per tent en R20 p.p.p.n.

Gamkaberg-natuurreservaat

Dié natuurreservaat in die Klein-Karoo het nie staanplek vir boswoonwaens nie, maar daar is twee kleinerige betonblaaie waarop jy ’n tent kan staanmaak. Elke kampplek het tuinmeubels, ’n braai, ’n driepuntkragsok en ’n afdakkie vir skaduwee. Die ablusiegeriewe is pynlik netjies en hier is ’n labirint vir selfinkeer. Dagbesoekers betaal R200 om die Lawsonspas te ry; gratis vir gaste.

Kontak: 044 213 3367 (parkkantoor); of 072 202 3438 (hekwag);  capenature.co.za

Prys: R140 p.n. vir 2 (R300 in vakansietye) plus ’n bewaringstarief van R40 p.p.

Grootvadersbosch-natuurreservaat

Grootvadersbosch het 14 staanplekke waarvan 2 private badkamergeriewe het. Die ablusiegeriewe is luuks en skoon, en hier is ’n lapa met yskaste en ’n braaigebied. Die grootste attraksie is die wandelpaaie en bergfietsroetes deur die bos. Die roetes duur tussen 3 uur en 6 uur om te stap of te ry en gaan jou dae lank besig hou.

Kontak: 021 483 0190 (besprekings);  capenature.co.za

Prys: R180 p.n. vir 2 (R300 in vakansietye) plus ’n bewaringstarief van R40 p.p