Anna’s Country Accommodation lê in die hartjie van Greyton aan die voet van die Riviersonderendberg. Die minder avontuurlustige reisiger kan lêplek kry by een van drie selfsorgkothuise, maar Anna se ware trekpleister is die boomhuis. 

Die boomhuis is versteek in die takke van ’n statige ou eikeboom. Die tuin is so ruig jy vergeet skoon dat jy in die middel van ’n dorp bly. Hier kan jy wegkom van die geraas van die stad, maar steeds winkel toe stap vir ’n plak sjokolade of vars brood.

Dis nie soos een van die boomhuise wat jy en jou pêlle in die laerskool met oorskietplanke aanmekaar geflans het nie. Nee, dié boomhuis het ’n hemelbed en groot glaspanele vir mure. 

Voor die glaspaneel staan ’n pootjiesbad. Hier’s ook ’n stort op die stoep met ’n blaregordyn sodat jy nie ’n niksvermoedende gas wat voëls in die tuin soek, die skrik op die lyf jaag nie.

Geriewe: Die boomhuis is oop plan en het ’n mikrogolfoond, gasstoof en klein yskas. Op die grond is ’n private braaiplek en ’n TV is weggesteek in die kas. Skakel die paneelverwarmers aan in die winter.

Wat pla? Los die kinders by die huis, hier is net plek vir twee mense. Dit kan beknop raak binne, sorg dus dat jy en jou maat op goeie voet is. 

Hoe kom ek daar? Markstraat 1

Koste: R700 p.p.p.n. vir twee persone. Minimum 2 nagte. As jy alleen wil bly kos dit R800 per nag.

Kontak: 084 764 6012; greyton-accommodation.com