Dis asof alles in stadige aksie gebeur: Ek voel hoe my gewig wegkantel van my regtervoet, my linkerbeen druk teen die rotswand vas en my brein sê dis veronderstel om seer te maak.

Maar al waarvan ek bewus word, is ’n vreemde kraakgeluid – dit klink soos ’n drooggebraaide skaapribbetjie waarvan die beentjies stadig af gedraai word.

Toe dit ophou, bly ek verdwaas teen die wal sit. Ek is nie seker wat sopas gebeur het nie, maar net bo my stapstewel se rand knak my linkervoet teen ’n snaakse hoek.

Ek lig die been versigtig op, en my voet val soos ’n stukkende pop s’n eenkant toe. Dis laatmiddag en ons is iewers in die middel van die Drakensberg, myle van die beskawing af. Wat nou?

Helgard pas ná die ongeluk.

Vyf dae vroeër toe ons by my vriend Gert Kok se huis in Bergville bymekaar kom, sou niemand dié Drakensbergdrama kon voorspel nie. Inteendeel, dié aand heers daar ’n opgewondenheid om die braaivuur, want môre begin ons stap aan ’n vyfdagsirkelroete – van Injisuthi af op met Cornerpas, en dan af met Leslie se Pas en terug Injisuthi toe.

Ons groep bestaan uit ek en Gert, sy seuns Hannes en Cobus, Bokkie Bronkhorst en sy dogter Jo-Christie, Machiel en Constand Reynecke, Arnold Jonker, Jitske Kroukamp, Lizette Cloete, Pieter en Corina Wolmarans, Judith Stiller en Mark Gray.Onderlangs word gevra hoeveel die ander se rugsakke weeg; party wonder hardop of hulle nie ’n bietjie ekstra moes oefen nie, is ons goed genoeg voorbereid vir die koue op die berg?

Wel, daar’s net een manier om uit te vind...

DAG 1: ±9,5 KM

Vasbyt, ouens, daar voor is ’n hut

Vroeg die oggend is ons by die Injisuthi-kampterrein om die bergregister in te vul en die stapgeld te betaal sodra die kantoor oopmaak. Ons moet gou aan die gang kom, want vandag se skof is ’n stewige klim tot by die Centenary-hut.

Die eerste steiltes is min moeite. Die veld is groen ná goeie reën en die uitsigte na die berg en af in die valleie is ongelooflik. Bo ons kop hang ’n klompie los wolke met die belofte van nog ’n bui of twee. Ek hoop die reën bly weg tot ons by die hut is en ons tentjies staan.

By ’n stroom saal ons af vir middagete. Terwyl ek my droë rantsoen geniet, verkyk ek my aan die ander wat stofies uithaal en érnstig kosmaak. Ons sal moet roer... Nou raak die klim ernstig, en die miswolke rol ál nader.

Verwarrende wildspaadjies draai oral weg en dit is moeilik om in die voetpad te bly. Dit begin sagges reën, en dié wat voor stap, kom nie agter hulle is besig om vir die agterstes weg te loop nie. Daar is ook nie sprake van stop en rus nie, want jy gaan net sit en koud kry.

Net toe dit begin voel of ons nooit daar gaan uitkom nie, doem die hut uit die misnewels op. ’n Ander groep op pad af het egter klaar hulle intrek geneem. Ons slaan buite tent op, maar kan darem onder die oop stoep skuil en iets warms in ons koue lyf probeer kry terwyl dit reën. Dit gaan ’n lang nag wees...

DAG 2: ±8,7 KM

Koue en klippe kou

Vanoggend is dit bitterlik koud en ons lywe is styf. Boonop voorspel die kaart niks goed vir vandag nie: Die kontoerlyne lê styf teen mekaar, veral dié in die Cornerpas.

Eers vorder ons flink. Maar toe breek die een skouerband van Hannes se rugsak, en nie lank daarna nie begin Cobus se skoensool lostrek. Daar is nie sprake van omdraai nie.

Ons beraam planne, en danksy Wonder Fix, kabelstroppe en duct tape kry ons die twee broers weer padwaardig.

Gert voorspel dis nog so ses uur se stap tot bo in die pas. Hy weet. Hy het al hier gestap. Later skep ons asem onder by ’n stroom, en pak dan die pas.

Die rotsbanke is seepglad en die plek waar ons die stroom kruis, vorm bokant ’n watervalletjie. Hier kan ’n mens maklik meer as net jou ego seermaak...

Die klim word ál steiler, maar uiteindelik is ons in die pas. Hier en daar is ’n los klip wat dreig om mee te gee onder my gewig.

Ek is bly ons klim hier op en nie af nie, want wat sal gebeur as jy van bo af op een van dié klippe trap en hy gee mee!Toe ons aan die ander kant afsak om naby die waterstroom kamp op te slaan, begin dit weer reën. Voor dit té koud en donker word, gaan was almal gou die ergste vuil in die stroom af.

Ek sien uit na ’n goeie nagrus.

In die tente word dit gou stil.

DAG 3: ±9,9 KM

Nie ’n tree verder nie!

Ons tentjies is vanoggend spierwit geryp. Gelukkig behoort die skof op die plato langs nie so moeilik te wees nie. Ons wil vandag aanstoot verby Mafadipiek tot iewers bo Leslie se Pas, en daar kamp maak vir die aand.

In ’n stadium kom ons agter ons word mislei deur wild- of beespaadjies, want ons is besig om weg te stap van die platorand. Dit verg kopkrap en harde werk om weer op koers te kom.

Laatmiddag blaas ons die aftog en slaan sommer net daar by ’n stroompie tent op. Dis nie lank nie, toe hoor ek oral gasstofies sis, met verskillende kosreuke wat met die vars berglug meng.

DAG 4: ±7,6 KM

Moet nooit die berg onderskat nie

Toe ek my tent ooprits, lê daar ’n wolkbank op die horison. Ons sal dadelik moet wikkel, want met gister se kaartleesfout sal ons waarskynlik ’n ekstra twee uur moet stap voordat ons by Leslie se Pas uitkom.

Leslie se Pas

Ons sit ’n stewige stappie in tot bo die pas, skep asem terwyl ons die uitsig waardeer, en mik dan aan die ander kant af. Hier moet ons letterlik soek na tekens van ’n voetpad.

Meer as een keer wonder iemand hardop of ons op die regte roete is.Net ná 12 nm. loop ek ’n ent agter Pieter, en sien hoe hy struikel. Dis sy eerste stap. Ek is ’n meer ervare stapper en bergklimmer, en daarom raai ek hom aan om ’n bietjie te rus.

Almal se bene is lam en ons moenie nou konsentrasie verloor nie.

Ek stryk aan. Voor my lê die voetpad soos ’n klein verspoelde donga. Dis vol los gruisklippies, en ’n mens kan sien ander stappers het eerder op die pad se skouers langs gehou sodat hulle nie gly nie. Ek besluit om links te hou en draai om sodat ek agteruit kan afklouter en aan die graspolle vashou.

En toe gebeur dit: Die een oomblik staan ek nog op my regtervoet met my linkerbeen vasgedruk teen my bors, toe my linkervoet na buite buig terwyl ek vreemde kraakgeluide hoor.

Dis my been! Toe die gekraak ophou, bly ek net daar sit. Is my been gebreek of net lelik verstuit? Ek beweeg my linkervoet versigtig op en af. Maar toe ek die hele been lig, val my linkervoet na links. Dalk is dit nie so erg nie. Ek probeer weer, en dieselfde gebeur.

Ek roep na Gert wat al ’n ent vooruit is, en hy en die res kom van onder af teruggeklouter. Ons besef ek kan nie verder stap nie en moet van die berg af kom. Hóé weet ons nog nie.

Ons stel my en Jitske se teleskopiese stapstokke korter, spalk my been daarmee, en ek word teen die wal afgehelp. Ek is te verslae om pyn te voel – dis eerder ’n grillerige sensasie wat tot my deurdring. Die wolke pak al hoe digter saam, en as ek in die paadjie bly sit, is ek nou-nou omring deur water.

Ons sukkel tot op ’n groter klip, en Gert besluit om by my te bly terwyl die res aanstap en so gou as moontlik hulp ontbied.

Ná ’n ruk sien ons die voorstes teen die oorkantste helling uitstap. Toe skielik gaan staan Mark en skreeu vir ons hy’t ’n selfoonsein gekry! Kort daarna kom die goeie tyding: ’n Helikopter gaan my kom haal, maar die mis is te dig – hulle kan eers môreoggend opstyg.

Ons vriende verdwyn buite sig terwyl Gert vir my tussen die klippe met ’n grondseiltjie ’n skuiling prakseer. Net voor hy kan koffiewater kook, begin dit reën.

Gert skuif langs my onder die seil in. Ons kan dit nie waag om die stofie onder die lae seil te gebruik nie en sluk maar ons droë stapkos met koue bergwater af. Elke vier uur drink ek twee Panado’s. Dis die begin van ’n baie lang gewag.

DAG 5

Die ánder roete terug

Deur die nag het my been geswel. Ek en Gert het baie ongemaklik op die harde rots gelê en net af en toe ’n bietjie weggedommel. 

Ons wonder of die ander toe die grotte voor donker kon haal...

My been voel nou ongemaklik styf onder die verband, maar ek wil eerder nie my stapstewel uittrek nie – laat die ouens wat weet hóé dit maar kom doen.

Om 8.30 vm. maak Gert my meteens stil. Ons hoor die veraf dreuning van ’n helikopter. Dan sien ons hom doer onder in die vallei: Hy vlieg eers in die vallei regs van ons op, kom dan terug en fynkam die een links van ons. Gert swaai die rooi grondseil rond om hulle aandag te trek, maar vergeefs – die helikopter verdwyn agter die bergrug.

Gert vat my selfoon en stap na die plek waar Mark die vorige dag sein gekry het. Niks. Hy stap ’n paar honderd meter aan, kry dan iets. Ná wat soos ’n ewigheid voel, keer hy terug met die nuus: Dit was ’n polisiehelikopter wat na ons kom soek het, maar hulle is nie toegerus vir ’n reddingspoging in hierdie onherbergsame terrein nie. Maar ’n Oryx-helikopter van die Durbanse lugmagbasis is op pad.

Bykans 24 uur nadat ek my been gebreek het, maak Gert my weer stil. Dié keer kom die gedreun reguit in ons rigting. Die helikopter kom hang in die lug skuins bo ons en die drie reddingswerkers word neergelaat.

Caleb Wang, ’n paramedikus van EMRS, is dadelik by my en verneem na my toestand. Hy’s tevrede met die noodhulp wat ons toegepas het. Die ander twee lede van die Bergklub maak seker ek is behoorlik vasgemaak in die reddingsmandjie, en die volgende oomblik word ek opgehys.

Ek het hoogtevrees, maar is só dankbaar dat ek skoon vergeet om bang te wees! Op my versoek neem hulle my, Gert en ons toerusting tot by die Injisuthi-kampterrein waar ons motors geparkeer is.

Ek word tot in ’n chalet gehelp waar ek my op sagte stoelkussings tuismaak.

Die res van ons groep kom eers sowat twee uur ná my en Gert daar aan. Dieselfde aand nog is ek in ’n hospitaal in Vanderbiljpark opgeneem, en die volgende middag geopereer – die fibula is met ’n staalplaat geheg, én die enkelligament moes gelas word.

Ek was sedertdien weer in die Drakensberg. Dit bly elke keer ’n wonderlike ervaring, maar ek moet erken: Telkens wanneer ek teen ’n skuinste moet af, dan “raas my kop”, soos my kinders sê.

Helgard se noodwenke
  • Neem kennis van die noodnommers op die bergregister – jy weet nooit wanneer jy dit nodig kry nie.
  • Bly deurentyd binne sigafstand van mekaar en maak seker julle het minstens een goeie kaart én iemand wat dit kan lees! ’n GPS is selfs beter.
  • Maak seker julle het genoeg kos (plus noodvoorraad) en brandstof vir die stofies. ’n Noodhulpstel is onontbeerlik, en elke stapper moet ook sy eie siekefondsnommer én die nommer van sy huisdokter byderhand hê.
  • As iemand op die berg seerkry, is dit die beste om eers sover moontlik die aard en omvang van die besering vas te stel en dan dié inligting – asook die GPS-koördinate van waar julle is – by die nooddienste uit te kry. Indien julle nie ’n GPS het nie, dan ’n akkurate beskrywing van waar op die roete julle is.


Hierdie artikel het vir die eerste in 2014 op Weg se webtuiste verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien. 

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook