FOTO’S (tensy anders vermeld): MARCIA FARGNOLI 

Die walvis doem uit die donkerblou skaduwees voor ons op. Geruisloos kom sy aan. Ons hang in die water net onder die oppervlak en kyk. Met vasberade hale van haar stert en vinne pyl sy op ons af. Sy is bewus van ons, maar ons teenwoordigheid skeel haar nie en eweneens voel ons nie bedreig nie. Ons bespeur geen vyandigheid nie. Nee, dis iets anders. Nuuskierigheid? Of is dit ’n uitnodiging? Kom swem saam, sê sy dalk.

Rondom ons en die suidelike noor-kapperwalvis dartel honderde stompneus dolfyne in die eindelose blou water. Hulle talm asof hulle loer wat gaan gebeur.

Dan is sy óp ons. Stomgeslaan bewonder ek die reus hier voor my – ek moet my bene optrek sodat my paddavoete nie aan haar raak nie. Sy wyk nie van haar roete af nie.

Sy duik net effe dieper. Ons hang nou vlak bo haar. Soos sy verbyseil, draai sy haar liggaam met ’n haal van haar regtervin. Sy kyk op na my en vang my oog. Ek hou haar blik. Die oomblik word in my hart ingebrand. Ons het mekaar gesien. Regtig gesien.

Dan is sy verby ons. Ons kyk haar agterna. Langsaam wuif haar reuse-stertvin ons vaarwel. Dan verswelg die blou oseaan haar. Nou is dit net ons en die stompneusdolfyne. Hulle lyk tevrede met die ontmoeting. Dan stryk hulle agter die walvis aan.

Ons bars deur die watervlak. Vir ’n wyle staar ons groepie duikers in ongeloof na mekaar terwyl ons op die watervlak dobber.

Sjoe, wat ’n ervaring wat my, my vrou, Marcia, Morné, Vicky en Jarred opnuut saambind as vriende.

Twee boggel-rugwalvisse baljaar in die water.

Ons is in die see langs die Wildekus. Die rubberboot kom nader om ons op te pik en terug te neem na ons seiljag. Ons het twee dae gelede op ’n seiljag uit Durban se hawe vertrek. Die jag is ons huis vir die volgende tien dae. Dit is die jaarlikse sardientjieloop en ons wil graag snorkelduik naby die digte sardientjiebondels (bait ball in Engels).

Die sardientjieloop langs die Wildekus en KwaZulu-Natal se kus word beskou as een van die grootste seemigrasies op die aardbol en gebeur gewoonlik tussen Mei en Julie. Van die skole sardiens kan tot 7 km lank en 30 m breed wees!

Op pad hierheen het ons van die jag af talle boggelrugwalvisse gesien.

Ons het anker gegooi ’n paar seemyle van Port St. Johns af.

In ’n verkenningsvlug per helikopter (ons jag het ’n helikopter gehad) van Port St. Johns noordwaarts na die Mkambati-natuurreservaat het ons die wit streep van Waterfall Bluff- waterval, wat van die groen heuwels af direk in die see tuimel, gesien.

Mzintlava-riviermonding

Ons het reuse-sardientjiebondels uit die lug waargeneem. Dolfyne swem in ’n sirkel en druk ’n skool sardientjies op ’n bondel. Die sardientjies is magteloos in hierdie “aasbol” terwyl die dolfyne vreet.

Dít lok weer die haaie wat die sardientjies na die oppervlak dwing. Nou kom die lugaanval, met swerms Kaapse malgasse wat op die krioelende massa toesak. Soos duikbomwerpers pyl die malgasse deur die watervlak om sardientjies op te pik. Dit neem nie lank voordat die sardientjiebol opgevreet is nie.

Ons het ook gesien hoe ’n donkerhaai, wat tot 4 m lank kan word, deur ’n sardientjiebol ploeg. Ná elke hap lyk die sardientjiebol nog meer na ’n pap sokkerbal.

Later het ons omgedraai en teruggevlieg na Port St. Johns en verder suid na Koffiebaai, waar ons die Hole in the Wall-rotsformasie gegroet het.

Ons duikgids, Morné Hardenberg, is gretig om vir ons die silwer polsende sardientjiebolle van onder die water te wys. Ons bring dus oor die volgende paar dae op die rubberboot baie ure op die oppervlak van die see deur.

Ons duikpakke hou ons warm teen die winterkou wat sneeu oor die berge van die binneland gebring het (dis vroeg in Julie 2018). Ons duikbrille, snorkels en paddavoete is byderhand en gereed vir aksie.

Ek verlustig my aan die oopsee, die reuk van soutsproei, die wind in my hare en son op my gesig. Dis moeiliker om die sardientjieskole op seevlak op te spoor as uit die lug, en hulle bly ons ontwyk. Morné lyk teleurgesteld, maar dit skeel ons min.

Christiaan en Marcia

Telkens spring ons in die water om saam met dolfyne te baljaar. ’n Reuse-karetskilpad met alge en seewier op sy dop dobber langs die rubberboot.

Dan kry ons die suidelike noorkapperkoeie en kortsnoetdolfyne in ’n veilige baai. Morné is verbaas om ’n noorkapper so vroeg hier op die Wildekus te sien. Hulle is gewoonlik verder suid, teen die kus van Algoabaai.

Ons duik saam met die walviskoei en die stompneuse is die hoogtepunt van ons ekspedisie. Ons duik later ook saam met drie boggelrugwalvisse en nóg duisende dolfyne. Ons bring dae op die rubberboot deur. Op ’n slag bars ’n boggelrugwalvis vollyf uit die water, vlak langs die stuurboordboeg. Hy spat ons nat, en herhaal die proses meer as 20 keer – hy speel met ons!

Om die boeg van ons jag kom lê die boggelrugwalvisse terwyl die dolfyne in die boeggolf swem. Die walvisse draai witspikkel-pense na bo en loer vir ons wat aan dek staan met ’n gelate aanvaarding.

Elke keer is ons net te laat vir ’n sardientjiebol. Morné is ’n uithalergids met ’n passie vir die see en hy wil hê ons moet dit beleef. Ek weet egter dat die see nie al sy geheime en wonders op een slag openbaar nie. Dis dieselfde in ’n wildernis aan land.

’n Mens sien nie sommer luiperds of wildehonde wat jag op jou eerste safari nie. Wanneer die spesiale oomblikke kom, soos jou eerste ontmoeting met ’n olifant of swartrenoster op ’n stapsafari, bly dit met jou vir die res van jou lewe.

TIENTALLE! Tydens die sardjientjieloop is dolfyne langs die Wildekus so volop soos rooibokke in die Kruger.

Oor die volgende paar dae beleef ek iets wat my weer moed gee: die see wemel van lewe. Honderde stompneusdolfyne ry op die branders naby die kus. Hulle doen dit met lewenslus. Dieper die see in het ons ’n skool van minstens 2 000 gewone langsnoetdolfyne gewaar. Ons het meer as 300 boggelrugwalvisse getel.

Een was ’n moeder met ’n spierwit kalf. Hier was karetseeskilpaaie, pylsterte, haaie en nog skole dolfyne. Ek het nog nooit so iets in my lewe gesien nie!

Dít vertel ons dat ons kuslyn gesond is. Die terugkeer van noorkapper- en boggelrugwalvisse na ons kus – danksy die verbod op walvisjag in Suid-Afrikaanse waters sedert 1979 en in internasionale waters sedert 1986 – bevestig dat die mens tóg ’n verskil kan maak.

Ek en Marcia het al die oseane van die wêreld deurkruis. In Noordpoolwaters het ons die wit belugawalvisse gesien, en ysbere en walrusse op die pakys. In Papoea-Nieu-Guinee het ons as duikers onder Jarred gekwalifiseer tussen koraalriwwe wat krioel van seelewe – anders as Australië se Groot-Koraalrif wat tans wegkalwe.

Die see word op alle vlakke deur die mens bedreig. Aardverwarming, versuring van die water, oorbenutting van vishulpbronne, olie- en plastiekbesoedeling. Wetenskaplikes voorspel daar kan in 2050 meer plastiek in die oseaan wees as vis en dierelewe! Dis onrusbarend.

Maar tien dae ter see langs die Wildekus is genoeg om ’n mens te laat besef dat daar hoop is. Op ’n duik saam met die boggelrugwalvisse het ek die eerste keer in my lewe die roep van ’n walvis gehoor. ’n Diep, geheimsinnige oerkreet. Dit praat direk met jou. Dit raak jou ten diepste. Ons almal deel hierdie planeet, besef jy opnuut.

Wat gee een spesie die reg bo die ander om te plunder en vernietig?

Swem saam!

Enkele gerekende operateurs bied uitstappies aan tydens die sardientjieloop.

Jy hoef nie ’n gesertifiseerde skubaduiker te wees nie – die sardientjieloop is geskik vir snorkelduikers. Vanweë die logistiek betrokke is dit nie ’n goedkoop uitstappie nie, maar een wat jy gaan onthou!

Pro Dive

Vanaf Port Elizabeth (April-Mei): R27 950 p.p. wat deel vir 5 dae (6 nagte), sluit blyplek, ontbyt, jou dag op die see se versnaperinge, duiktoerusting, gids en boot-vervoer in.

Vanaf Port St. Johns (Julie): R32 950 p.p. wat deel vir 5 dae (6 nagte), sluit blyplek, ontbyt, jou dag op die see se versnaperinge, duiktoerusting, gids en boot-vervoer in.

prodive.co.za; 041 880 0081

Shark Explorers

Junie- en Juliemaand. Hulle ekskursies van Port St. Johns af duur 9 dae (10 nagte) en kos vanaf R53 636 p.p. wat deel, met blyplek en etes, gids, duiktoerusting en bootvervoer ingesluit.

sharkexplorers.com; 082 564 1904