Ons is altyd op soek na nuwe plekke waar ons kan kamp, ook toe my vrou, Tina, se ouers onlangs uit Swede kom kuier het. Ons wou nog altyd die Pilanesberg-wildreservaat besoek en het besluit op Bakgatla, wat deel is van die Golden Leopard-groep.

Hoe lyk dit by Bakgatla?

Die kampterrein en ontspanningsdeel is baie netjies, maar dit voel tog of dinge effens opgegradeer kan word. Hier is verskillende afdelings: Een vir tent- of boswakampeerders (sonder elektrisiteit), een vir tente (met krag), en ’n nuwer afdeling slegs vir woon- of boswaens. Dis waar ons gestaan het.

Die staanplekke is afgebaken, maar nie genommer nie. Jy kan dus jou eie plekkie soek. Nie al die staanplekke het koelte nie en die gras is skaars, maar hulle is nietemin groot en ons kon twee motors, my vriend se klein woonwa én ons boswa daarop staanmaak.

Elke staanplek het sy eie kraan en jy kan vra vir ’n braaidrom.

Is die ablusiegeriewe op peil?

Die ablusieblok in die deel van die kamp waar ons gestaan het, was heeltemal voldoende.

Hoewel hulle effens oud en afgeleef is, was alles skoon en netjies – en dís vir my die belangrikste.

Is hier ander verblyfopsies?

Ja, hier is chalets en eksklusiewe safaritente beskikbaar. Met ’n vorige besoek het ons in ’n chalet gebly, en hoewel dit nogal duur was, was dit baie goed toegerus.

Hoe hou jy jou hier besig?

Hier is ’n groot swembad met gras rondom waar ’n mens lekker kan afkoel. Die grasperke is besonder netjies. Jy is natuurlik in die hartjie van die Pilanesberg-nasionale park en daarom sien jy heelwat diere. Ons het ons verkykers by die huis vergeet, maar ons het steeds heelwat wild gesien.

Is daar ’n winkel en vulstasie naby?

Hier is ’n klein superette met die nodigste as jy iets vergeet het. As jy nie lus voel vir kosmaak nie, kan jy by die restaurant kom aansit. (Ons het egter nie daar gaan eet nie.) Die naaste vulstasie is ’n kilometer of drie buite die oord.

Hoe ry ’n mens tot hier?

Ons het met die N1 van Centurion af gery en toe op die N4 in Rustenburg se rigting gemik voor ons op die R556 na Pilanesberg af gedraai het. Dit is 182 km soontoe, maar dit was Vrydagmiddag en ’n langnaweek; dus was die verkeer ’n nagmerrie en ons was langer as drie uur in die kar. Ons vriendin Marlene is van Rustenburg en sy het met die R512 gery. Dit was die beter opsie, want dit het haar net langer as twee uur gevat.

Hoeveel kos dit om hier te kamp?

Ons het R400 p.n. betaal vir ’n woonwastaanplek met krag, en ons was alte-same drie mense. Jy betaal ekstra om by die wildreservaat in te ry, maar as jy hier kamp, betaal jy net een keer dié tarief.

Kontak 014 555 1045; marketing@goldenleopardresorts.co.zabakgatla-resortpilanesberg.com.