Ons het geweet Egipte gaan nie maklik wees nie. Omkopery (baksheesh) is net een van die uitdagings wat ons die hoof sou moes bied. Nadat ons wyd aanlyn oorlandforums gelees het, het ons geweet grenskruisings sou moeilik wees, dat ons oral kwanselaars sou teëkom en dat ons waarskynlik nie altyd veilig sal wees nie. Ons is ook aangeraai om nie alleen deur die Sinai-skiereiland te ry nie, en dat die Oase-roete (die mooiste woestynroete wat jou van een oase na ’n volgende neem) gevaarlik is – jy het militêre begeleiding nodig, volgens die forums.

Tog het dinge goed vir ons verloop. Ons het dit maar toegeskryf aan ’n positiewe houding en ’n tikkie geluk.

Binne net een uur het ons ons visums gekry van die Egiptiese konsulaat in die kusstad Aqaba, Jordanië. Van daar af is ons en ons Toyota Hilux-dubbelkajuit (2001-model, KZTE) op ’n veerboot na die dorp Nuweiba, aan die ooskus van die skiereiland. Die boot het gerieflike terugvousitplekke en lekker versnaperinge. By die grenspos is alle toeriste uitgesonder en puik behandel. ’n Nuuskierige beampte besluit toe ons geliefde 10 x 50-verkyker is “militêre gehalte” en vra so ewe of hy dit kan “aanskakel”. Ek het ’n briefie gekry dat ek die verkyker kon terugkry, mits ek die land deur dieselfde grenspos verlaat. Ha, dit was die laaste sien van die blikkantien.

Ons het dit maar toegeskryf aan ’n positiewe houding en ’n tikkie geluk

Daar was ’n paar benoude oomblikke toe ons gevra word vir baksheesh oor ons papierwerk kwansuis nie in orde is nie. Ons het net elke keer gevra om die proses weer te begin. Dié benadering het gewerk, en ná 12 uur by die grenspos was ons op pad met ons Egiptiese nommerplate. 

SKUBADUIKERS, DAHAB
Egipte
Marie op die veerboot na Egipte

Eerste stop, Sinai

Die Sinai-woestyn het ’n strak skoonheid. Ons het Dahab aangedoen, die stiller kleinsus van die groot Rooi See-toeristedorp Sharm El-Sheikh. Dit was ongelukkig nog te koud vir swem toe ons aankom.

Ná Dahab het ons gery na die suidelikste punt van die Sinai-skiereiland vir ’n daguitstappie in die Ras Mohammed- nasionale park. Dit was ’n fantastiese snorkeldag. Sowat 10 m van die strand lê ’n rif wat tot 40 m diep onder die water strek. Ons het skilpaaie, sportvisse en harde en sagte koraal gesien.

Ras Mohammed- nasionale park
Die ingang na Ras Mohammed- nasionale park

Van die park af het ons al langs die weskus van Sinai gery na die Suezkanaal. Ons wou bittergraag dié stuk ingenieurswerk sien, maar dit word goed bewaak en ’n mens kan niks van die pad af sien nie. Daar is ’n paar brûe wat oor die kanaal loop, en ons het gehoop om darem ’n paar foto’s te neem. Maar met ons twyfelagtige navigasievaardighede het ons net die 1,6 km lange tonnel gevind wat ónder die kanaal deurloop!

Ons het aangestoot na Kaïro, waar ons ’n paar dae sou oorstaan vir rondkyk en om ons Soedannese visums te kry.

Kaïro se verkeer

Ja, almal het ons gewaarsku teen die verkeer: Maar wat kan ’n mens anders verwag as 20 miljoen mense in een stad woon? Ons het darem gou ons weg gevind: Bane beteken niks, ’n sagte getoet waarsku ander motoriste wat jy van plan is om te doen, en dan volg jy maar die stroom. Wees op die uitkyk vir voetgangers, en moenie bekommer oor wie agter jou is nie. As jy ’n huiwerige bestuurder is, vang eerder ’n taxi. En as jy dink dis ’n storie om in die dag te ry, is die aand ’n gans ander tameletjie: Om die een of ander rede bestuur die mense in Kaïro nie met kopligte nie.

Sfinks, Giza
Sfinks, Giza
Koloniale argitektuur, KaÏro

En as jy jou kopligte aanskakel, sal aankomende verkeer vir jou ligte flits om te sê dit word nie hier gedoen nie.

Ons het in ’n lekker hotel gebly naby Tahrir-plein, waar die Egiptiese revolusie in 2011 plaasgevind het. Ons het by al die plaaslike plekke geëet en baie interessante – en vreeslike – geregte probeer.

Die ontbeende, gestopte duif is regtig lekker, maar die Molokhia-sop nie (dis ’n soort groentesop). Dit was effe slymerig en bevat juteplant, knoffel en koljander. ’n Nagereg genaamd Om Ali was heerlik; ’n broodpoeding met ’n mengsel van pistasieneute, klappervlokkies, rosyntjies en heelwat suiker en melk.

KaÏro
Mohammed Ali-moskee, KaÏro
KaÏro
Ou kombi's in KaÏro

Die middestad bestaan uit baie ou koloniale geboue. Die afgelope 30 jaar se aanbouings is effe uit karakter, maar die stad is steeds mooi.

Ons was by die indrukwekkende ou Kaïro-museum, die Piramides van Giza, en van die oudste moskees en inkopiedistrikte. 

Van oase tot oase

Van Kaïro af is ons woestyn-in in ’n suidwestelike rigting, op pad na die Bahariya-oase. (Ons het nie tyd gehad om die volle Oase-roete te doen nie; dit begin verder noord. Ons het ’n kortpad gevat.) Die oase-dorpe funksioneer heeltemal op hulle eie. Hier is wel selfoonontvangs en diesel, hoewel ons twee tenks van 105 liter elk gehad het. Modderbaksteengeboue is algemeen, dadelpalmbome is oral en die inwoners lei ’n eenvoudige lewe.

Mark in KaÏro

Tussen die Bahariya- en Farafra-oase is die Wit Woestyn- nasionale park, wat genoem is na die groot kalkformasies wat deur sand en wind gevorm is.

Ons het nie geweet waar die ingang na die park is nie, en was bang ons het dalk verbygery. Iewers het ons ’n tweespoorpad gesien wat die teer verlaat, dit vir 20 km gevolg en kamp opgeslaan. Ongeveer ’n halfuur later het ’n parkbeampte opgedaag en parktariewe gevra. Ons het dit betaal, tevrede dat ons nie uitgeskop word omdat ons sonder toestemming kamp nie. Dis ’n beeldskone park en ons het salig alleen drie aande lank gekamp.

By die Dakhla-oase is ’n dorpie genaamd Mut waar ’n oeroue vestingstad is. Dis nou meestal verlate, maar jy kan deurstap en baie van die geskiedenis leer. By die Kharga-oase is die Tempel van Hibis, wat baie goed onderhou is.

Dis ’n beeldskone park en ons het salig alleen drie aande lank gekamp

Marie moes toe na Suid-Afrika terugvlieg, en ons is na Luxor sodat sy ’n vlug kon haal. Ek sou ’n week alleen in Luxor deurbring, en dan sou ons weer in Aswan ontmoet. Luxor het ’n groot konsentrasie tempels, graftombes en paleise, sommige wat meer as 4 000 jaar gelede gebou is.

Die ou vestingstad Mut
Die ou vestingstad Mut

Ek het geweet ek sal die Vallei van Konings waarskynlik net een keer in my lewe sien, en ek het elke beskikbare toegangskaartjie gekoop. Met die basiese toegangskaartjie kan jy drie van die graftombes sien, en vir ekstra kaartjies kan jy die spesiale grafte sien, soos dié van Toetankamen. Die meeste van die graftombes is skouspelagtig; verbasend genoeg nie Toetankamen s’n nie. Maak seker jy koop die fotokaartjie wat jou toelaat om foto’s binne die graftombes te neem, en vat ’n goeie gids saam.

Ek het geweet ek sal die Vallei van Konings waarskynlik net een keer in my lewe sien

In my tydjie alleen het ek gekuier by moddersteenmakers, matras-makers en pottebakkers. Van dié ontmoetings was, wel, ongemaklik. Een aand is ek die heuwels in om ’n kampplek te soek en het vyf Soedannese goudmyners teëgekom wat alte bly was om my te sien. Dit was al donker en ek kon nie omdraai nie. Ons het saam Nubiese koffie (gemaak met gemmer) gedrink en ek het aandete gekook. Ek het gevra of ek kan kamp opslaan, en hulle het geantwoord: “No problem, no police come here, we shoot police here.”

Warmlugballonne, Luxor
Kampplek langs die nyl naby Luxor

Baie later het ’n woordewisseling ontstaan toe een van die myners nie wou hê ek moet daar slaap nie; dit het sowat ’n uur geneem vir die ander om hom te oortuig. Daai aand het ek myself ook byna ge-tase met Marie se Taser-stok, toe ek twee voertuie om 3.30 vm. hoor aankom. Die myners het darem uit hulle tente gekom om te kyk wat so raas. Ek het my die volgende oggend maar eerder vroeg uit die voete gemaak. 

Verder suid

Wit Woestyn- nasionale park
Wit Woestyn- nasionale park

Ek het Marie weer in Aswan ontmoet. Dit was interessant om die Nubiese invloede op die argitektuur te sien namate ons suid beweeg. In Aswan het ons die Philae-tempel (dis op ’n eiland in die Aswan Low-dam), asook die onvoltooide obelisk net buite Aswan besoek. Daarna het ons vir vier uur op die Nyl geseil.

Dit was interessant om die Nubiese invloede op die argitektuur te sien namate ons suid beweeg

Abu Simbel was ons laaste stop in Egipte. Toe die Nassermeer (nou die Aswandam) in die 1950’s en 60’s gebou is, moes tempels in die geheel van die Nylvallei na hoërliggende gebiede verplaas word. Dit was amper so ’n groot taak as om die Giza-piramides te bou!

Mut
Die ou vestingstad Mut by die Dakhla-oase
goudmyners
Koffie saam met die goudmyners
Felucca-boot, Nylrivier

Ons het in die parkeerterrein van die tempelkompleks gekamp saam met drie troppe honde, en elke oggend het busdrywers vroeg kom groet. Op ons laaste oggend het ons Marie se verjaardag gevier, en al die busdrywers het “Veels geluk” in Arabies gesing. Ons het eers later besef dat ons oorhaastig was – Marie het eers die volgende dag verjaar! ’n Mens verloor soms tred met die tyd as jy maande lank op die pad deurbring.

Is dit veilig?

Aangesien daar al toeriste-aanvalle in die verlede was, is die Egiptiese polisie paraat. Daar is oral padblokkades: Jou paspoort en voertuiglisensie word nagegaan, en die voertuig word deursoek.

Ons moes drie keer met polisiebegeleiding reis. Dis effens irriterend, want jy kan nie foto’s neem waar jy wil nie.

Jy het die reg om nee te sê vir sekerheidsbegeleiding – jy moet dan net ’n vorm teken. Vra daarvoor by ’n padblokkade. Ons het plaaslike SIM-kaarte gekoop en ons selnommer aan beamptes gegee by elke padblokkade. Hulle het ons wel op die vreemdste tye in die nag gebel. Maar, buiten die aand met die Soedannese myners, het ons nooit onveilig gevoel nie. 

Die obelisk by die Luxor-tempel

Kampwenke

Dis nie moontlik om net enige plek te kamp nie.

Daar is oral verbode militêre gebiede en die owerhede dink jy gaan ’n graftombe besteel as jy binne ’n 10 km-radius van enige argeologieterrein kom. Daar is nie veel wegkruipplek nie, en jy word gekniehalter deur hewige woestynwinde en diep sand.

Al waar jy eintlik wild kan kamp, is ’n paar stil plekkies in die Nylvallei.

Patrick en Marie Gurney
Patrick en Marie Gurney
Ontmoet vir Patrick en Marie Gurney

Ons het op 3 Junie 2018 uit Marie se geboortedorp, Valence in Frankryk, weggetrek met die doel om binne 18 maande tot by ons huis in Johannesburg te ry. Teen die tyd dat ons Egipte bereik het, was ons reeds 9 maande op pad. Ons het deur Frankryk, Switserland, Italië, Kroasië, Slovenië, Hongarye, Roemenië, Bulgarye, Turkye, Israel, Palestina en Jordanië gereis.

Ons het dié reis onderneem om ons denke oor kultuur te vernuwe, en om inspirasie te put uit die mensdom sodat ons beter besluite kan neem, in ons eie lewens en ons beroepe.

* Marie is ’n konsultant vir die Internasionale Unie vir Natuurbewaring (IUCN) en Patrick is ’n bemarker. 

Meer inligting

Stuur ’n e-pos na info@skultcha.com, of gaan na skultcha.com. Volg hulle op FB by skultcha en op Instagram @skulcha

Abu Simbel
Philae-tempel, naby aswan
Deel van die Philae-tempel, Aswan