Die Republiek van Indonesië bestaan uit duisende eilande, en altesaam woon hier meer as 267 miljoen mense. Dis die land met die vierde grootste bevolking ter wêreld. Meer as die helfte van dié mense bly op die grootste eiland, Java, maar dis die kleiner Bali met sy ryslandterrasse, wit strande en ryk kultuur wat toeriste van reg oor die aardbol lok.

Op Bali kan die rustelose reisiger elke dag iets nuuts sien en leer, en vir diegene wat net wil ontspan, is hier wit strande en skemerkelkies. Die eiland is veral gewild onder branderplankryers danksy die goeie surf, jogaliefhebbers (hier is meer as 500 jogasentrums!), “digitale nomades” wat met ’n skootrekenaar onder die arm reis en werk, én dis ’n gunstelingplek vir ’n wittebroodsreis.

Die meeste toeriste mik eerste na die suide van die eiland – dit bied iets vir elke smaak en begroting. Die bedrywige dorp Kuta is bekend vir sy naglewe, en is dikwels die beginpunt vir ’n strandvakansie in Bali. Gesinsoorde en vyfsterhotelle lê ingeryg langs die 5 km lange spierwit Kutastrand.

Net noord van Kuta is die dorpe Seminyak en Canggu, met stylvolle klereboetieks en byderwetse kafees wat gesonde etes soos smoothie bowls en veganisroomys verkoop. Teen laatmiddag sit die toeriste die sjiek strandkroeë vol, elkeen met ’n drankie in die hand.

Met ons eerste besoek aan Bali in 2016 het ons net die meer bedrywige (wat toerisme betref) suide van die eiland besoek. Hierdie slag wou ons die noorde verken. Die noorde is stiller, meer ongerep en die mense tradisievas. Hier kan ’n mens antieke Hindoe-tempels (bekend as puras), aktiewe vulkane, en mooi watervalle en ryslandterrasse verken.

Die tydsberekening vir ons besoek was in die kol, want ons het pas ’n ses maande oorlandreis deur Suider-Afrika afgelê (ons het die hele 2019 vakansie gehou) en was lus vir iets nuuts. In daardie stadium het ons nie ’n vaste woonplek gehad nie, en dit sou goedkoper wees om in Bali te bly as om ’n plek in Kaapstad te huur.

Ons het reeds planne gehad om in Oktober 2019 met vriende deur Viëtnam te toer en ons kon Bali maklik aan hierdie planne las. Ons was ongeveer drie weke in Bali, en die hoogtepunt was ons bromponietoer.

Dit het sowat 24 uur geneem om van Johannesburg oor Doebai tot op Bali te reis. Die eilandjie is ses uur vóór Suid-Afrika en dit was drieuur die oggend toe ons – al goed vliegvoos! – by die Ngurah Rai- internasionale lughawe land. Nes jy van die vliegtuig afklim, tref Bali se soel, soet lug jou.

Hallo, eilandlewe!

Die mark in Ubud
'Mie goreng' was een van die Tullekens se gunstelingmaaltye
Die ingang tot Cito Guesthouse in Ubud
Offerandes – dikwels wierook, munte, ryskorrels en blomme – word soms in hokkies soos hierdie gesien. Hierdie is in Ubud afgeneem.

Dag 1 en 2: Ubud in die oerwoud

Die lughawe is net suid van die grootste stad in Bali, Denpasar, maar ons vat eers ’n taxi na ’n hotel in nabygeleë Kuta, waar ons ’n paar uur rus. Later neem ons weer ’n taxi na Ubud in die sentrale deel van Bali.

Ubud is die kultuurhutspot van Bali. Dis hiér waar Julia Roberts in die fliek Eat Pray Love haar geliefde ontmoet nadat sy van haar fiets afval. Ryslande en tropiese valleie omring die dorp en die humiditeit is só erg dat jou klere heeldag aan jou lyf kleef. Die dorp is vol kunstenaars en gesondheidsfoendi’s; kunsgalerye en vegetariese restaurante gedy dus hier.

Ons het verblyf bespreek by ’n tradisionale homestay. Die Balinese is vriendelik en mededeelsaam en Cito, die eienaar, gaan uit sy pad om ons welkom te laat voel. Met ons aankoms kry elkeen ’n vars kokosneut waaruit ons verfrissende kokosneutwater drink.

Hoewel Bali net sowat 80 km (van suid na noord) by 140 km (oos na wes) groot is, neem reise langer as wat jy sou dink – dis dig bevolk en verkeersknope algemeen. Die maklikste en goedkoopste manier om die eiland te verken is per bromponie of motorfiets. Cito reël vir ons ’n 150 cc Honda Scoopy-bromponie, wat ons dadelik “Scoopy” doop.

Dis tyd vir ’n skoot kultuur, en ons stap na die Ubud-mark, skaars 800 m van waar ons bly. Die reuk van wierook is sinoniem met Bali. As gebaar van dankbaarheid word daar elke dag klein offergawes (kos, kleurvolle blomme en wierook) voor huise, winkels en Hindoe-tempels geplaas. As jy in die strate stap, moet jy altyd mooi kyk waar jy trap!

By die mark wandel ons deur die gangetjies verby stalletjies wat vars vrugte, kunswerke en geweefde mandjies, juwele en gekerfde houtbeeldjies verkoop. Elke handelaar soek desperaat kopers en ná ’n paar onderhandelings koop ons wierook en ’n Batik-lap.

Terug by Cito Guesthouse spring ons op Scoopy en ry uit die dorp na die ryslande op soek na ’n rustige kafee vir middagete.

Dis maklik om goedkoop deur Bali te toer veral as jy Westerse restaurante en hotelle vermy. By die plaaslike restaurante, bekend as warungs, betaal jy selde meer as R80 vir ’n ete vir twee.

Ons stap in by Warung Bintang Bali en gaan sit by die hoë toonbank wat uitkyk oor ’n rysveld en palmbome. Ons bestel gado gado, ’n slaai met tofoe, gekookte groente en grondboontjiebottersous – in Suid-Afrika sou mens dit eerder beskryf as ’n groente-platter met ’n doopsous.

Op ons tweede dag in Ubud ry ons vroegoggend na die Campuhan Ridge Walk. Toegang tot dié kort, lowerryke staproete is gratis – dis soos om in Kaapstad langs Seepunt se promenade te wandel met locals wat draf en stap. Die kronkelpaadjie bied ’n lekker wegbreek uit die dorpsgedreun.

Ubud word beskou as ’n toevlugsoord vir reisigers wat hulle gesondheid en gemoed ’n hupstoot wil gee. Die naam Ubud kom van die Balinese woord ubad wat “medisyne” beteken. In die dorp word daar onder meer verskeie jogaklasse, spa-behandelings en meditasiekursusse aangebied.

Jacqueli bederf haarself met ’n spotgoedkoop spa-behandeling terwyl Joubert ’n klankterapiesessie bywoon by Pyramids of Chi.

Dit vind plaas binne ’n enorme piramidestruktuur van byna drie verdiepings hoog. Tydens die sessie – wat Joubert saam met sowat 15 ander mense meemaak – gebruik instrukteurs die klank en vibrasies van “singing bowls” uit Tibet om die natuurlike genesingsproses te bevorder (dit laat jou ontspan, party mense raak selfs aan die slaap). Dit klink dalk volksvreemd, maar dit was ’n sonderlinge ervaring. Joubert vertel toe hy uitstap, moes hy eers ’n halfuur in die tuin sit om tot verhaal te kom. ’n Mens voel asof jy in ’n ander wêreld wakker word, jou lyf voel ligter en jou kop skoon.

Op ons laaste aand in Ubud pak ons twee rugsakke vol klere en kameratoerusting, want die volgende paar dae is dit al wat ons op Scoopy kan vervoer. Ons stoor die res van ons bagasie by Cito.

Bali is nie ’n plat eiland nie. Die terrein in die noorde is bergagtig en ons het ons bedenkinge of dié bromponie genoeg perdekrag het om twee volwassenes én twee swaar rugsakke teen die steiltes te kan uitdra. Wel, daar is net een manier om uit te vind...

’n Mens voel asof jy in ’n ander wêreld wakker word, jou lyf voel ligter en jou kop skoon.

Sonsondergang oor die ryslande in Munduk.
Jacqueli by Ubud se Campuhan Ridge Walk, ’n 2 km lange wandelpad naby die stad

Dag 3: Munduk toe

Pura Taman Ayun, een van die meer as 20 000 tempels in Bali

Eerder as enkele groot snelweë swenk en vleg ’n netwerk van honderde smal teerpaaie óm ryslande en deur dorpies. Uit Ubud moet ons eers ’n ent wes ry voordat ons uiteindelik noord kan draai in die rigting van ons volgende bestemming, Munduk. Ons koop ’n plaaslike SIM-kaart en gebruik Google Maps op ons slimfoon om deur die doolhof van paaie te navigeer (ontvangs was oral goed).

Op pad hou ons stil by die kolossale dog verlate Hotel Pondok Indah Bedugul. (Die Indonesiese woord “pondok” beteken rofweg “cottage” in Engels, en dis ook waar ons Afrikaanse woord pondok vandaan kom. – Red.) In Ubud het ’n kelner ons van dié “spookhotel” vertel. Bouwerk is in die 1990’s begin, maar nooit voltooi nie. Blykbaar spook hier werkers wat dood is tydens die bou van die hotel.

Inwoners weier om die gebou te betree en daar word bespiegel dat “geeste” op die foto’s sigbaar is as jy foto’s binne neem.

Wel, ons is daar in... Jou voetspore weergalm in die leë, stowwerige gange en dit gee die gebou ’n onheilspellende gevoel. Die gebou se dak stort plek-plek in en van die mure is vol graffiti. Wanneer jy op die stoep uitloop, wag ’n asemrowende uitsig – dít moet die rede wees hoekom hulle die hotel hier wou bou.

Al is Ubud en Munduk net 64 km van mekaar af, neem die rit drie uur. Nou is ons in die hoogland van Bali bekend vir staproetes, koffieplantasies en watervalle – dit herinner nogal aan Hogsback in die Oos-Kaap.

Ons boude is seer na só lank se sit in Scoopy se saal en ons rus by die mistige Twin Lakes-uitkykpunt bo die Tamblingan- en Buyan-meer. Dié twee mere was eens een watermassa, maar ’n grondstorting in die 1800’s het dit verdeel.

Terwyl ons oor die panorama uitkyk, begin soek ons na oornagverblyf. Ons roete was net rofweg beplan; ons het niks vooraf bespreek nie. Ons soek ’n goedkoop kamer met private badkamer, gratis ontbyt en Wi-Fi op booking.com. Opsies is skraps, maar Wi House voldoen aan ons vereistes vir net Rp 220 000 p.n. (Dis sowat R220 p.n. vir ons albei – Rp is rupiah, soms afgekort as IDR, vir Indonesiese rupiah. Sien onder aan die artikel vir ander koste.)

Ontbyt is plaatkoekies en vrugte saam met Balinese koffie. Dié koffie word nie gefiltreer nie; die gemaalde bone word direk met kookwater gemeng. Daarna hop ons op Scoopy en ry tot by die Red Coral Waterfall se parkeerterrein waarvandaan dit 20 minute se stap is tot by die waterval. Red Coral is deel van die Munduk Waterfall Trek, waarlangs jy vier watervalle kan sien. Dis ’n gewilde daguitstappie uit Munduk met verskillende roete-opsies – daar’s iets wat by elkeen se fiksheidsvlak pas. Begin reeds vroegdag stap, veral as jy nie jou beurt wil afwag vir ’n selfie by ’n waterval nie.

Die verlate Hotel Pondok Indah Bedugul
Jacqueli by die Red Coral Waterfall, ’n 15 m hoë waterval naby Munduk.

Dag 4 en 5: Lieflike Lovina, en die vulkane

Ná ons besoek aan die watervalle vat Scoopy ons 41 km verder noord tot teen die see. Met ons aankoms op die kusdorpie Lovina is ons rasend honger en koop spring rolls en bier by die eerste warung wat ons sien. Ná ete ry ons tot by Lovina se seefront. Ons hou skaars stil of ’n local trek langs ons in met sy bromponie om te hoor of ons verblyf soek.

Die hoogseisoen eindig in September en dié tyd van die jaar is locals desperaat vir ’n laaste bietjie toerisme-inkomste voordat die reënseisoen begin. Ons volg die man tot by die Astina Hotel, waar ons ’n kamer kry wat ons begroting pas.

Ons koel af in die hotelswembad en stap later op die strand, wat net ’n paar honderd meter van die hotel af is. Rye bote lê geanker wat tydens hoogseisoen (Junie tot Augustus) toeriste neem om dolfyne te kyk. Hier is baie restaurante op die promenade, maar net ’n hand vol is tans oop. Die son kleur die horison pienk en ons sluit nog ’n lekker dag af met ’n koue Bintang-bier.

Die volgende oggend draai ons weer binneland toe – ons mikpunt is Mount Batur. Ons maak die brandstoftenk vol by ’n klein kafee. Brandstof is goedkoop (sowat Rp8 000 / R8 per liter) en elke tweede winkel adverteer “pertamini” (petrol). As daar nie ’n handpomp is nie, word dit eenvoudig in eenliterbottels verkoop.

Daarna begin ons steil opdraande ry: Binne 37 km klim ons 1 350 m tot by die kruin van ’n bergpas. Scoopy het toe wraggies genoeg oemf! Mount Batur (1 717 m bo seespieël) en sy groter suster, Agung (3 031 m), verder oos, is aktiewe vulkane in die binneland van Bali. Batur se laaste uitbarsting het in 2000 plaasgevind en Agung was so onlangs as 2017 goed kwaad.

By Mount Batur kan ’n mens op georganiseerde staptogte vroegoggend die berg uitklim (dit neem drie uur) om die sonsopkoms van die rand van die vulkaan te sien. Ons het dié staptog met ons vorige besoek in 2016 gedoen – dis beslis een vir jou wenslysie!

Ons bly by die Volcano II Guest House op ’n dorpie aan die voet van Mount Batur. Aandete is nasi goreng, ’n sterk, geurige rysgereg bedien met ’n gebakte eier. Dis een van ons gunstelingmaaltye, en ons wissel tussen nasi goreng en mie goreng, ’n soortgelyke noedelgereg; albei is goedkoop. Teen dié tyd weet ons presies wat die standaardprys vir dié disse is. As ons ’n spyskaart kry waarop die prys buitensporig hoog is, weet ons dadelik dis die “toeristespyskaart” – en vra dan vir die “plaaslike” pryslys.

Daai aand het ons maar benoud geslaap met die wete dat die vulkane enige tyd kan uitbars. Ons lywe is goed styf en seer van al die hobbels en draaitjies in die pad, maar ons het immers gesoek vir avontuur!

Daarna begin ons steil opdraande ry: Binne 37 km klim ons 1 350 m tot by die kruin van ’n bergpas. Scoopy het toe wraggies genoeg oemf!

Die binneland van Bali is bergagtig – dié drie berge is Mount Batur, Mount Abang en Mount Agung.
’n Boot lê geanker teen die kus van Lovina

Dag 6: Die terrasse van Tegallalang

’n Rysboer hard aan die werk op die bekende Tegallalang-ryslandterrasse.

Van die voet van Mount Batur af is dit 30 km afdraande tot by die Tegallalang-ryslandterrasse. Onderweg ry ons verby menige kopi luwak-koffiewinkel. As jy die fliek Bucket List (met Jack Nicholson en Morgan Freeman) gesien het, sou jy al van kopi luwak gehoor het.

Dis die duurste koffie ter wêreld en het ’n unieke smaak danksy die rol van sivetkatte in die “vervaardigingsproses”. Dit werk só: Sivetkatte besoek saans die koffieplantasies en vreet koffiesade, wat nie heeltemal verteer nie en uitgeskei word. Later word die koffiesade uit die uitskeidings bymekaargemaak en dit is dié gesogte bone wat bekend staan as kopi luwak. Dit kos ongeveer R700 (of duurder!) vir net 100 g koffiebone.

Ons spaar eerder ons geld en ry voort tot by die Tegallalang-ryslandterrasse. Dié ryslande is ’n Unesco-wêrelderfenisterrein. Hier word rys nog op tradisionele wyse verbou en die terrasse word deur ’n volhoubare subak-besproeiingstelsel natgelei wat meer as 1000 jaar gelede ontwikkel is.

Ons is om seweuur die oggend reeds daar om die skares te vermy.

Ons klim verskeie rysterrasse op en af op soek na fotogeleenthede – dis ’n gewilde plek vir Instagrammers (soek gerus na #tegallalang)! Vroegoggend en laatmiddag is die beste tyd vir foto’s neem wanneer sagte sonstrale deur die palms skyn.

Vir ons laaste aand vind ons ’n kamer agter ’n warung wat uitkyk oor ’n rysveld. Dis ’n goeie plek om ons bromponietoer deur Bali af te sluit.

Die volgende dag keer ons terug na Ubud waar ons Scoopy aan Cito terugbesorg en die res van ons bagasie optel.

In die noorde van Bali het ons iets ervaar van die tradisionele en alledaagse Balinese kultuur wat maklik in die groter dorpe in die suide verdwyn. Boonop het die altesame sowat 300 km op ’n bromponie gesorg dat elke dag soos ’n nuwe avontuur gevoel het!

Volgende maand: Jacqueli en Joubert reis deur Viëtnam.

Bromponies is ’n algemene vervoermiddel in Bali – hierdie foto is in Ubud geneem.

Vinnige feite

Hier is ons onkoste vir elke dorp en aktiwiteit. Met ons toer in 2019 was die wisselkoers Rp1 000 teenoor R1, en die bedrae hieronder weerspieël wat die Rp/R-wisselkoers in 2019 was. Dis tans sowat Rp858 vir R1.

Visums: Suid-Afrikaners het nie visums nodig vir besoeke van minder as 30 dae aan Indonesië nie.

Vlugte: Omdat ons ná Bali ook Viëtnam sou besoek, het ons veelvuldigebestemming-retoerkaartjies (soontoe: Johannesburg, Doebai, Denpasar in Bali, en terug: Hanoi in Viëtnam, Doebai, Johannesburg) deur Emirates bespreek. Dit het R11 195 p.p. gekos. Die eenrigtingvlug van Bali na Viëtnam is deur Jetstar bespreek en het R2 683 p.p. gekos.

Ubud

Bromponie: Rp75 000 (R75) p.d.

Klankterapie: Rp300 000 (R300)

Spa-behandeling: Rp250 000 (R250)

Etes en drankies (vir albei): Rp200 000 (R200) p.d.

Blyplek by Cito Guesthouse (private badkamer, gratis ontbyt): Rp360 000 (R360) p.n.

Munduk

Bromponie: Rp75 000 (R75) p.d.

Etes en drankies: Rp225 000 (R225)

Brandstof: Rp10 000 (R10)

Spookhotelbesoek: Rp50 000 (R50) p.p.

Blyplek by Wi House (private badkamer, gratis ontbyt): Rp220 000 (R220) p.n.

Lovina

Bromponie Rp75 000: (R75) p.d.

Etes en drankies Rp261 000: (R261)

Watervalbesoek: Rp20 000 (R20) p.p.

Blyplek by die Astina Hotel (private badkamer, gratis ontbyt): Rp250 000 (R250) p.n.

Batur

Bromponie: Rp75 000 (R75) p.d.

Brandstof: Rp20 000 (R20)

Etes en drankies: Rp172 000 (R172)

Blyplek by Volcano II (private badkamer, gratis ontbyt): Rp200 000 (R200) p.n.

Tegallalang

Bromponie: Rp75 000 (R75) p.d.

Etes en drankies Rp218 000: (R218)

Tegallalang-ryslandterrasse (gee ’n skenking): Rp20 000 (R20)

Blyplek naby Tegallalang (private badkamer, gratis ontbyt): Rp260 000 (R260) p.n.

Gemiddelde koste per persoon Rp283 750 (R284) p.d.

Jacqueli en Joubert Tulleken

Jacqueli (Jackie) is ’n digitale bemarker en Joubert (Juba) ’n siviele ingenieur. Hulle reis deur Suidoos-Asië was deel van ’n jaar lange reis wat hulle in 2019 aangepak het.

Hierdie droomreis het in Suider-Afrika begin waar hulle ses maande lank ’n kamptoer onderneem het in hulle Land Rover (genaamd Mkulu). Daarna is hulle vir twee maande na Suidoos-Asië – hulle het ongeveer drie weke in Bali deurgebring. Hulle het vooraf drie jaar lank gespaar en dié avontuur beplan.

Volg hulle op Instagram by @jubasjourney en @jackienotinthecity en kyk hulle reisvideo’s op YouTube by youtube.com/jubasjourney

Word deel van die Weg-wêreld
Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook